Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Trane, ongeloof ontroer talle kere op ‘Koevert’

Trane, blydskap, dankbaarheid, nederigheid, ongeloof. Veral ongeloof. Dit is die emosies wat die Via-projek Die koevert by ontvangers ontlok.

Al het jy dié skenkingsreeks al verskeie kere gesien, kan jy steeds nie wag om te sien hoe ’n volgende ontvanger gaan reageer nie.

Samuel en Lea Fortuin van Scottsdene.

In episode 8 is die Springbok-rugbyspeler Cheslin Kolbe die glanspersoonlikheid by wie die dankie-sê-ketting begin. Hy klim op ’n triestige reëndag in die Wes-Kaap in sy motor om twee koevertjies met R10 000 elk aan Justin Brown te oorhandig. Brown, die afrigter van en mentor vir 33 rugbyseuns, is betrokke by die stigting Be the Difference wat jong mense in die inperkingstyd in Kraaifontein bystaan. Met die geld kan Brown nou ’n tyd lank verseker die aktiewe seuns kry elke dag ’n gebalanseerde bord kos.

Brown sê hy weet hy wys nie sommer sy emosies nie, maar hy is diep dankbaar. En met die tweede koevert het hy sommer dadelik die pad gevat na Lea en Samuel Fortuin.

Lynne Louw omhels Lea Fortuin.

Dié egpaar het reeds vroeg in die inperkingstyd hul harte oopgemaak en kospotte gevul om kinders in die Scottsdene-omgewing te voed. Lea sê aanvanklik kon kinders elk dag by hul huis ’n draai maak vir gekookte kos, maar toe hul geld skraps raak, moes hulle dit na drie dae ’n week afskaal.

Lea maak die koevert oop en staar na die bedrag van R10 000 – sprakeloos, ongeloof, trane wat loop. Samuel moes die praatwerk oorneem.

Soos in elke episode is die verrassingsaspek verstommend. Dit is duidelik dat die ontvangers werklik nie ’n benul het wat die besoekers in die mou voer nie.

Lynne Louw, die Fortuins se keuse om hul meevaller te ontvang, vra inderdaad: “Wat maak julle hier?” Lea het gesê ook sy kon nie wag om dié koördineerder van Fountain Angels se gesigsuitdrukking te sien wanneer sy die swart koevert oopmaak nie.

Dit was kosbaar. Oë wat wyd rek, trane wat rol en ’n weerkyk om seker te maak sy het reg gelees.

Louw vertel sy het die organisasie begin om kinders kos te gee en het oorweldigende reaksie uit die omliggende gemeenskap gekry wat gesê het hulle sal kook. Haar taak is die aflewering van die kos.

* Die Koevert word Donderdae om 18:00 op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

Meer oor:  Via  |  Cheslin Kolbe  |  Die Koevert  |  Televisie  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.