Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Trap! Wie het toe die huis se deur toegetrek?
Die top-5. Van links is Marli, Marike, Johan (in geel), Blue en Judith.

Aan die begin was daar 50 mededingers in ’n tweeslaapkamerhuis, en 18 dae later was daar eers, toe agt, vyf, drie, twee en uiteindelik net een oor.

Marike Bouwer (36), ’n entrepreneur van Fresnaye in Kaapstad is die eerste wenner van Trap! Dis my huis op VIA.

“Ek het alles gegee wat ek het. Ek het my hart uit gespeel en dit was een van die wonderlikste ervarings ooit,” sê Marike na afloop van die laaste episode.

Sy het weggestap met ’n boerpot van R617 600 nadat sy 49 ander spelers uitgestof het. Sy het erge hongerpyne, nagte op ’n koue vloer en planne om haar uit te stem oorwin.

Maar as sy terugkyk na haar ervarings in die huis in Oktober verlede jaar, en daarmee vergelyk wat sy nou op TV sien, strook dit nie heeltemal nie.

“Ek is regtig nie die slang wat mense dink ek is nie. Dit maak my nogal seer om te dink dit is wat ander mense sien, want ek het regtig nie die hele tyd planne uitgedink en gescheme nie,” sê Marike.

“Maar ek het ingeskryf om te wen, en ek is trots op wat ek reggekry het in die huis. Ek is ook so uiters dankbaar vir die vriende wat ek in die proses gemaak het.”

Die top-3, van links Marli, Johan en Marike.

Marike het tydens die laaste episode talle uitkloprondes oorleef wat uit speletjies bestaan het. Aan die begin van die episode was dit sy en Blue (35), Hein (52), Rhona (29), Rinnie (58), Judith (20), Christo (28), Marli (24) en Johan (37) in die huis oor.

Die mededingers het die opsie gehad om aan die begin van die episode self te trap en R50 000 ryker te word. Rinnie het die kans aangegryp en het haar boks gepak.

Daarna was daar ’n uitdaging waaraan almal behalwe Blue en Marli deelgeneem het. Die ander spelers het vir hulle gestem om nie die speletjie te speel nie en direk na die volgende ronde deur te gaan.

Uiteindelik is Christo, Hein en Rhona geëlimineer. Daarna was daar nog ’n speletjie, waaraan Johan nie deelgeneem het nie. Tydens die speletjie is Blue en Judith huis toe gestuur.

En toe was dit die top drie: Marike, Johan en Marli. Johan het die slegste daarvan afgekom toe hy laaste in die ry was om te speel. Hy was onsuksesvol in die speletjie en die top-2 was Marli en Marike.

In ’n uiters spanningsvolle finale uitdaging moes hulle verskeie probleme oplos, vrae beantwoord en fisiese uitdagings voltooi om bokse oop te sluit wat die wenner sou bepaal.

Marli het vasgeval by ’n wiskundesom in die eerste ronde en dit het Marike in staat gestel om die uitdagings ver vooruit te voltooi. Marike het die prys gewen nog voor Marli die som kon oplos.

“Op die laaste dag was my bloeddruk hemelhoog. Elke uitdaging was fisies en emosioneel uitputtend. Ek kon in ’n sekonde se tyd geëlimineer word,” sê Marike.

Die top-2, Marike en Marli.

“Maar dit was wonderlik om aan die einde jou lot in jou eie hande te hê. Ek het die mense rondom my vir ’n maksimum van net minder as drie weke geken. Jy moet ’n vreemdeling vertrou.”

Sy sê elke dag in die huis was sy onder druk, en daar was amper geen verligting nie. “Jy moes so funksioneer as jy wou bly. Daar was tye wat dit moeilik geraak het en ek my man en my drie seuns gemis het, maar dan het ek myself herinner dat ek dit doen vir hulle.”

Marike sê sy kry nou nog, maande na haar tyd in die huis, steeds drome oor uitdagings en uitstemmings.

Sy sê sy is ontsettend dankbaar dat sy een van haar man se baadjies ingepak het omdat sy en Marli vir amper drie weke lank elke aand daaronder geslaap het. “Dit was baie koud, en ek dink nie ek sou kon bly as dit nie vir daardie baadjie was nie.”

Antonio (29), een van Marike se beste vriende in die huis, het vroeg in die spel vir haar ’n trouring uit (isoleerband) gemaak omdat sy haar trouring by die huis gelos het.

“Ek wou my nie oor nog iets bekommer nie en ek het maar besluit om dit nie te vat nie. Maar hy het gesê hy maak vir my een sodat ek aan my man kan dink.”

Aanbieders Zoe Brown en Amalia Uys weerskante van Marike. Sy hou haar enorme tjek vas.

Aanbieders Zoe Brown en Amalia Uys weerskante van Marike. Sy hou haar enorme tjek vas.

Sy sê vir haar was die badkamer-situasie in die huis die ergste, aangesien daar nie genoeg handdoeke was vir almal nie en hulle moes deel. “Ons word ook heeltyd opgeneem, so ons het maar alles toegehou en gehoop dit kom nie op TV nie.”

Sy het nog die swart “ring” en ’n rol toiletpapier wat R1 000 uit die boerpot gekos het. Sy het ook ’n sjampanjebottel waaruit sy gedrink het toe sy as wenner aangewys is, gehou.

Marike sê sy het blywende vriendskappe in die huis gebou met mense soos Rhona, Christo, Hilgard, Antonio en Lally. Hulle is steeds gereeld in kontak en gesels op ’n WhatsApp groep.

Met die prysgeld beplan sy om haar besigheid te befonds wat rekenaarprogramme aan klein besighede bied om voorraad te hou, betaalpunte te bestuur en boek te hou.

“Ek weet daardie geld gaan nog baie mense se drome laat waar word,” sê sy.

Heruitsendings is op Vrydae om 18:00 en weer Saterdae om 22:00 op VIA (DStv-kanaal 147).

Meer oor:  Trap! Dis My Huis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.