SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Tv
TV-program met Dana móét oor mense gaan
Dana Snyman voer onderhoude met “gewone mense” in die nuwe televisiereeks Op pad met Dana, wat op VIA uitgesaai word. Foto: Verskaf

Die skrywer Dana Snyman meen hy is nie eintlik ’n ou wat sommer op TV sal rondstap en sy lyf aanbieder hou nie.

En toe vervaardigers Niel van Deventer en Charlene Brouwer hom nader oor die moontlikheid van ’n televisiereeks, het hy gehuiwer.

“Want ’n mens kry baie keer die indruk dit gaan nie altyd oor die mense wat jy ontmoet of die plek wat besoek word nie, eerder oor die ou (aanbieder) en sy bakkie.”

So, Snyman was vasbeslote dat Op pad met Dana, wat sedert verlede week op VIA (kanaal 147) uitgesaai word, nié oor hom moet gaan nie. In die reeks reis hy deur die land en ontmoet doodgewone mense op ’n verskeidenheid plekke en hy luister na húl stories.

Drie weke later was daar genoeg stories vir 13 episodes.

“Die manier wat ek ry, is maar om te gaan kyk na die land en sy dinge. Mense worry ook mos maar oor die toekoms. Só ek wou in daai gees ry. Om te gaan kyk hoe lyk dinge, wat gaan hier aan, wat gaan tussen die mense aan.

Ek gaan nie nuwe klere koop nie. Ek wou nog gewig verloor, maar daar was nie eers tyd daarvoor nie.
Dana Snyman

“Ek het heeltyd vir Niel-hulle gesê hierdie reis gaan oor die mense. Ek wou nie eens my naam daar gehad het nie. Dit moes absoluut oor die mense gaan.”

Die plan was aanvanklik om van Jacobsbaai ver noord te ry, tot by Polokwane.

“Maar ons roete het al by Touwsrivier verander. Toe het ons maar net begin ry en goed gevolg. Mense het ook vir ons op Facebook van mense en plekke gesê,” sê Snyman.

Volgens Snyman het alles so vinnig gebeur en het hulle in Januarie begin verfilm.

“Ek het toe maar net besluit ek gaan doen wat ek doen. Ek gaan nie nuwe klere koop nie. Ek wou nog gewig verloor, maar daar was nie eers tyd daarvoor nie.”

Hy sê hy het met die reis besef mense is desperaat vir hoop.

“Ek dink in Suid-Afrika begin mense elke dag van voor af. Jy moet wéér besluit jy gaan nie ’n rassis wees nie. Jy moet jouself elke dag weer motiveer en vir jouself sê die meeste mense is goed en wíl vrede hê.

“En die meeste mense ís goeie mense,” sê hy oor sy eie ervaring.

Snyman meen mense assosieer hom met nostalgiese verhale.

“Ek dink mense dink dalk ek gaan deur die land reis en na plekke toe gaan en terugverlang na die verlede. Ek dink party mense verwag dalk ’n nostalgiese reis deur die land. Ek hét baie respek vir die verlede, maar dit is definitief nie wat dit is nie.”

Snyman sê hy wys vir mense die hier en die nou, die gewone mense en hul stories.

Op pad met Dana word Maandae om 18:30 op VIA, kanaal 147, uitgesaai.

Meer oor:  Televisie  |  Via
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.