Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Uit die Rusbank : Regering kort kanaal 103
Die Elites Project.

Daar is baie in die lewe waarvoor ek dankbaar is, maar min dinge kom naby aan my gevoel oor die manier waarop eNCA, die SABC en Netwerk24 se webwerf my op munisipale verkiesingsdag gedryf het tot uitmergeling en reguit in die arms van The ­Prancing Elites Project.

En noudat ek dit erken het, begin die sielewroeging. Verklap my fassinering met die Prancing Elites, of net die Elites, soos dié klomp queens na hulself verwys, iets oor my? Of is dit net ’n verwronge humorsin?

’n Mens tref die Elites aan op kanaal 103 van DStv. Hulle is ’n vyftal trans­gender- dansers van Mobile, Alabama. Hulle beskryf hulself as dansers, maar ook as “all-male cheerleaders”. In Mobile irriteer hulle glo baie mense.

Tog moet ’n mens hulle respekteer: Nog nooit is moobs met soveel grasie gedra of knieë met soveel sensualiteit bymekaargehou soos in The Prancing Elites ­Project nie. Hul leuse is “Make it through hate, you can be great”, en dan maak hulle ook so.

Maar op TV spreek hulle ’n groter gehoor aan. Kan my aanklank by hulle wees omdat Kentrell Collins, Adrian Clemons, ­Jerel Maddox, Timothy Smith en Kareem Davis my so herinner aan ’n meisie wat saam met my grootgeword en soos ’n drama queen altyd gillend agter haar wapperende polse aan geflap het?

Wat ’n mens moet verstaan is dat The Prancing Elites Project drama van hoë intensiteit is. Kentrell is die leier van die groep, en hy is een van die sangeres Beyoncé se heel, heel grootste bewonderaars op die planeet, jy weet. Die ander elites is ook Beyoncé-volgelinge, en wanneer Kentrell hulle na Los Angeles neem om ’n video te maak, is die eerste plek wat hulle besoek dan ook die statige woning van ­Beyoncé in Beverly Hills. Maddox rol sommer in haar oprit op die grond rond wanneer hulle hoor sy is nie tuis nie. Dís nou toewyding, nè?

En daar gaat hulle verder, ateljees toe. Die semi-legendariese Phlex Kirk, ’n choreograaf en kreatiewe kunstenaar, gaan saam met hulle ’n liedjie opneem, ­“Wore Ya Down”, en daarna gaan hulle ’n video opneem om die liedjie te promoveer. (Ons sien in die volgende episodes hoe hulle dit doen, maar die video is reeds op YouTube. Check dit uit, jong.)

Kirk pas goed by die manne aan. Sy naels is langer as Maddox en Kentrell s’n, sy grimering is met nog meer finesse gedoen as Clemons s’n, en hy en die manne praat dieselfde taal. Hulle weet wie die eintlike Queen B is en hoef nooit te stry oor haar plek in die kosmos nie.

Kirk stel hulle bekend aan ­Michell’e, ’n Beyoncé-nabootser wat baie bekend is in die LGBTQ­­-gemeenskap. En op die horison is ook ’n ontmoeting met drie van Queen B se gereelde dansers, onder wie die onnabootsbare Aisha Francis. Mos.

Ek kan nie onthou wanneer laas ek so baie gelag het vir ’n ernstige TV-program nie. Dink ’n mens daaroor na, is dit seker te verstane in ’n TV-sfeer waar mense soos Caitlyn Jenner ­“reality”-programme opkikker.

Uiteindelik, besef jy, is daar wel ’n dieperliggende boodskap in dié reeks – oor mense wat eerlik is oor hul aard, en dit probeer uitleef. Ek het heerlik ontspanne gevoel ná my kennis­making met die Elites. En terug by die nuusprogramme kom daar toe ’n verwysing verby na Suid-Afrika, wat by die Verenigde Nasies skielik heeltemal uit pas met ons Grondwet, nie ’n genderresolusie wou ondersteun nie.

Ek dink ons regering het ­kanaal 103 en die Elites nodig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.