Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
US-koor wen (weer) groot, sing op kykNET

Die koor van die Universiteit Stellenbosch is onlangs aangewys as die wenner van die afdeling vir gemengde kore in die aanlyn kompetisie van die Llangollen Internasionale Musiek-eisteddfod.

Nee, hulle het nie inperkingsregulasies oortree vir dié deelname nie en ook nie vir hul TV-optrede op 16 Augustus op kykNET en kykNET Nou nie. Die koor en hul dirigent, André van der Merwe, het nie eens daarvoor geoefen nie.

Só uitstaande is hul optredes egter dat die oorwinning in die Llangollen-eisteddfod gegrond is op hul uitvoering van die Suid-Afrikaanse lied “Baba Yetu” in 2018. Mense van oor die wêreld heen kon vir hul gunstelingkore stem wat van 2002 tot 2019 op die internasionale koorfees opgetree het. “Baba Yetu” is ook die koor se vertoning wat die meeste op YouTube gekyk is – meer as 3,8 miljoen keer. In 2018 het die US-koor boonop die ope, jeug- en gemengde afdeling op die eisteddfod in Wallis gewen.

Vir die TV-uitsending Sondag het hulle ook nie ’n vinger verroer nie, maar wel vir die US Woordfees vroeër vanjaar. Dié optrede is een van drie wat uit die ganse fees vir die uitsending gekies is.

Wat is Van der Merwe se suksesresep? Wat vermag hy en dié koor aan die suidpunt van Afrika dat hulle die eerste plek op die Interkultur-lys van die duisend topkore internasionaal beklee? Dat hulle op die Wêreldkoorspele in 2014 en 2016 al hul afdelings wen en die hoogste punte tot nog toe behaal, met ’n ongekende 99% in 2014?

“Ek werk met goeie talent,” sê Van der Merwe. “My taak is bloot om hulle as ’n inspirerende span te motiveer. Ek glo ons repertorium-keuse speel ’n rol, maar ook die spesiale manier waarop die koorlede die musiek met integriteit vertolk. Hulle ontroer ’n gehoor, wat van kardinale belang is. Musiek beteken niks as dit die luisteraar nie ontroer nie.”

Hy erken wel dat hy met die room van die land se singende jeug werk, wat hy as ’n voorreg beskou.

Covid-19 en die gepaardgaande inperking het natuurlik ’n stokkie voor repetisies gesteek, maar die koor se virtuele aanbieding van ’n verwerking van “Die gang” en “Klein tambotieboom” het dieselfde magiese uitwerking as hul lewende optredes gehad.

Die Universiteit Stellenbosch se koor onder leiding van André van der Merwe. Foto: sun.ac.za/koor

Al wat Van der Merwe en die koorlede in die inperkingstyd gedoen het, is “wag en hoop”, wat darem nie die volle waarheid is nie. Belangstellendes het oudisies afgelê en die koor vir 2021 is gefinaliseer. “Die koorlede sal binnekort hul musiek ontvang wat hulle op hul eie vir volgende jaar kan voorberei,” sê hy.

Dit word gedoen met die hoop dat hulle en ander kore in Julie 2021 aan die Wêreldkoorspele in België sal kan deelneem. Die spele sou vanjaar gehou word, maar is uitgestel na volgende jaar.

Van der Merwe lei ook die meisieskoor en seunskoor van die Hoërskool Stellenberg, wat ’n mens laat wonder of hy verkies om met jong sangers te werk. “Hoegenaamd nie,” sê hy. “Ek werk met enige ouderdomsgroep solank daar talent, geesdrif en wedersydse respek is.”

Die TV-uitsending Sondag dek die volledige Woordfees-konsert van tien werke wat geestelike liedere insluit, twee werke van Levente Gyöngyösi, “Salve Regina” van Franco Prinsloo en drie nuwe verwerkings deur Van der Merwe self, naamlik “Angel” van Sarah McLachlan, “I Lived” van One Republic asook “Die donker”, sy verwerking van die Laurika Rauch-liedjie “Die gang” en Die Heuwels Fantasties-liedjie “Klein tambotieboom”.

  • Die uitsending op kykNET (DStv-kanaal 144) is op 16 Augustus om 10:30 en op kykNET Nou (DStv kanaal 146) om 12:00.
Meer oor:  Koor  |  Kyknet  |  Musiek  |  Sang  |  Tv  |  Universiteit Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.