Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Van ‘hokaai’ weet dié reisprogram se aanbieder niks

Met die verfilming van die kykNET-reisprogram Hokaai, my meisie het die aanbieder Shari Kennedy besef uit watter unieke mense en stories Suid-Afrika bestaan.

Kykers kan deel in dié “juwele van Suid-Afrika” in die reeks wat onlangs begin het en Saterdae om 18:30 uitgesaai word.

Shari Kennedy op die stel van ‘Hokaai, my meisie’. Foto: kykNET

“Suid-Afrika is ’n land met diverse kulture en vele avonture. Daar is ongelooflike plekke – sommer op jou voorstoep. Ek sê mos Suid-Afrika is ’n wêreld-in-een.”

Aktiwiteite soos branderplankry in Elandsbaai, ’n staptog saam met ’n musikant in die Overberg en die Kalahari-duine is deel van dié reeks wat deur Danielle McDonald van Awemybru Productions vervaardig is.

Verder ry Kennedy op ’n vierwielmotorfiets tussen leeus in Hoedspruit en vaar op ’n boot aan die Weskus.

“Ons fokus baie op die interessante karakters van elke plek,” sê Kennedy.

“Ek was dikwels skepties as Danielle my mening oor ’n voorstel sou vra, maar dan kom daar die ongelooflikste stories uit daardie omgewing. Haar navorsing en beplanning was ongelooflik.”

McDonald, haar man, Conrad, en Kennedy se suster, Kim, het by Kennedy in Kaapstad gekuier toe sy gevra is of sy sou belang stel om só ’n program aan te bied.

Hulle albei wou lankal ’n reisprogram aanpak.

Shari Kennedy, aanbieder van die kykNET-reisprogram ‘Hokaai, my meisie’. Foto: kykNET

“Sy het my twee weke later gebel en gesê waaroor alles gaan en wat die titel van die program sal wees.”

Toe hulle gekuier het, het McDonald besef sy gebruik die woorde “hokaai” en “my meisie”. Dis waar die titel vandaan kom.

“Dis ’n program vol adrenalien. Wát ’n mengelmoes. Ek het baie geleer. Ons land het soveel om te bied. Ons het die wynlande. Die bos. Ongelooflike strande. Beach vibes, kan ek maar sê. KwaZulu-Natal met sy tropiese gebied. En die stede.”

Hoewel dit ’n opwindende ervaring was, het die filmspan senutergende oomblikke beleef.

“Soos die keer toe ons van die Moordenaarskaroo na Khamkirri by Kakamas gery het. Ons twee bakkies het vier pap wiele gekry. Ek was in die voorste voertuig en uitgeput kom ons toe by die ongelooflike Khamkirri aan.

“Ons sit op die dek waar jy op die Oranjerivier kyk. Jy sien hoe die water afkom en dis net te idillies.

Ons sou braai. Maar dis later vyf uur later en die ander bakkie is nog nie by ons nie. Hul fone is af. Toe het hulle verdwaal. Hulle is deur Verneukpan en daar het hulle ’n pap wiel gekry.

“En dit reën katte en honde. Hulle moes seker deur tien plaashekke ry. GPS, Google Maps . . . niks werk nie. Dit was ’n ramp. Hulle het omtrent eers 01:00 daar aangekom. En ons moes 05:00 weer opstaan.

“Twee dae later het ons lekker gelag oor dié storie.

Ten minste weet ek nou presies hoe om ’n band om te ruil.”

Kennedy, wat in Upington gebore is, is die ma van drie kinders.

Die program van die opnames is so uitgewerk dat sy nie te lank van die huis af weg is nie.

“Ek hou daarvan om myself ’n bietjie te druk en te kyk wat ek kan doen. Die program het my geleer om dinge te hanteer wat ’n bietjie bo my vuurmaakplek is en my limits ’n bietjie te push. Ek sukkel dikwels om vir adrenalien en avontuur nee te sê.

“En dis waarom hierdie reeks vir my so ’n fantastiese ervaring was. En ek sal vir seker weer so ’n reeks aanpak.”

Hokaai, my meisie word Saterdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Meer oor:  Kyknet  |  Televisie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.