Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Van tierman tot tienerliefde bied afleiding op TV

In hierdie vreemde tyd op aarde waarin ons almal by die huis sit, is daar ’n oorweldigende hoeveelheid kyk-opsies. André-Pierre du Plessis kies drie wat hom vasgenael gehou het.

Joseph Schreibvogel oftewel Joe Exotic van ‘Tiger King’-faam.

Tiger King (Netflix)

Hy lyk soos ’n Afrikaanse kunstenaar wat jy een keer op ’n kunstefees op die gratis verhoog in ’n biertent gesien het, maar nie mooi kan onthou wat sy naam is nie.

Hy dra stywe hemde saamgeflans uit sequence, het ’n hele spul oorbelle en sy haarkleur is beslis nie natuurlik nie.

Sy regte naam is Joseph Schreibvogel, maar daar’s ’n beter kans dat jy reeds van Joe Exotic gehoor het. Hy’s die onderwerp van Netflix se jongste dokumentêre reeks Tiger King.

Die reeks se sewe episodes is ’n wegholsukses in ’n tyd wanneer ons almal op soek is na die naaste ding aan ’n motorongeluk sodat ons aandag afgelei kan word van alles wat rondom ons aan die gebeur is.

Exotic is die eienaar van ’n tier-en-leeu-teelplaas in middel-van-nêrens-Amerika, maar hy oortuig almal dat dit eintlik net ’n dieretuin is. Terwyl die reeks se vervaardigers probeer om die storie van ’n kleurryke karakter te vertel, kry jy eintlik meer van ’n kitsopvoeding oor die wêreld van leeutelers. As gevolg van die internasionale handel in wilde diere is daar glo meer leeus in die VSA as in Afrika. Hoewel Exotic aanvanklik klink soos iemand wat vir die regte van diere omgee, laat sy soeke na roem met behulp van tierwelpies ’n mens wonder wat regtig hier aangaan.

Elke episode is ’n meesterklas in geduld vir enige aspirant- dokumentêre filmmaker. Uiteindelik begin die kyker vrae vra oor die mense en die diere waarvan jy in jou eie gemeenskap weet. Hoe kyk ’n mens na Tiger King sonder om ernstige vrae oor leeus in aanhouding oor Suid-Afrika heen te vra?

The End of the F***ing World (Netflix)

Nóg ’n Netflix-reeks wat ’n nuwe toevlug geword het in ’n tyd waarin televisienuus hopeloos te veel spanning veroorsaak, is The End of the F***ing World, juis omdat dit oor allesbehalwe die einde van die wêreld handel.

Twee Britse tieners wat eers met ’n ou Mercedes en later met ’n Jaguar uit die 1980’s uit hul vervelige lewens probeer vlug, beland in ’n reeks onvoorspelbare situasies. Dis ’n eenvoudige liefdestorie met ’n fantastiese klankbaan. James (Alex Lawther) en Alyssa (Jessica Barden) is twee karakters wat op ’n vreemde manier soos ou vriende voel ten spyte van die feit dat hulle ’n hele paar mense se dood veroorsaak.

Wees gewaarsku, daar is baie bloed. So as jy daarvoor gril, sal jy moet oefen om weg te kyk.

Heidi Klum en Tim Gunn van ‘Project Runway’ bied nou‘Making the Cut’aan.

Making the Cut (Amazon Prime Video)

As jy nie van dokkies en donker dramareekse hou nie, dan is daar ’n nuwe modeontwerp-werklikheidsreeks wat jou daaraan sal herinner hoe lekker dit was om te toer. Aanhangers van Project Runway in die dae toe Heidi Klum en Tim Gunn dit nog aangebied het, sal bly wees om te weet dat dié dinamiese duo terug op die kassie is.

Op soortgelyke wyse waarop Jeremy Clarkson en die res van die Top Gear-groep vir ’n helse klomp geld oortuig is om die BBC vir Amazon te verruil, het Klum en Gunn die uitsaaier Bravo vir Amazon se videostroomdiens met hul nuwe reeks Making the Cut verruil.

Soos in Project Runway is die Duitse supermodel en die Amerikaanse modeprofessor wéér op soek na die wêreld se beste modeontwerper. Anders as Project Runway het dié reeks waarskynlik die grootste begroting van enige werklikheidsreeks wat tans op televisie is.

Daar is nie ’n oomblik wanneer jy nie bewus is van hoe duur dit moes wees om hierdie program te vervaardig nie. Loopplanke word opgerig in asemrowende plekke: langs die Seine en onder die Eiffeltoring. Nicole Richie en Naomi Campbell maak teen die einde van elke episode hul opwagting om met die nodige hoeveelheid bitsigheid lelike klere te kritiseer.

Meer oor:  Televisie  |  Reekse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.