Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Vang gees met Kaapse jazz Vrydag op VIA

Vanjaar was Oujaarsdagaand ’n bietjie flou sonder die tradisionele danspartye in huise en dansplekke in die Kaap. Om gees te vang vir die nuwe jaar kan daar Vrydag op Ghoema woema op VIA gekyk word hoe Kaapse jazz gedans word. Hierdie plaaslike dansstyl het die Kaapse gemeenskap in die 1960’s en 1970’s saamgebind.

Warren Carstens, aanbieder van ‘Ghoema woema’ op VIA. Foto: VIA

Die aanbieder, Warren Carstens, troos gou diegene wat meen hulle het die spreekwoordelike twee linkervoete.

“As jy kan asemhaal, loop, oud of jonk is, sal jy jazz-dans kan bemeester. As jy en jou dansmaat wil lekker voel, ontspan en pret hê en selfs ’n bietjie wil sweet, is dit vir jou.”

Jy hoef jou ook nie te bekommer oor presiese stappe en passies nie.

“Daar is die basiese passies, maar baie mense maak hul eie goedjies op die maat van die jazz-ritme op en soos hulle hul dansmaat rondstuur. Dit verg glad nie ’n groot dansvloer nie,” sê hy. “Dit is eintlik die kort-arm van langarm-dans en enige klein ruimte is genoeg.”

Carstens het as tiener baldanse gedoen, wat dit makliker vir hom gemaak het om Kaapse jazz te kan bemeester.

“Ek is in die laat 1990’s vir ’n paar jaar Engeland toe, waar ek en my Kaapse pêlle as jong manne na salsa-nagklubs toe gegaan het en ons as jong Kaapse laaities dansmaats van oor die wêreld heen kon spin en draai, juis omdat salsa en Kaapse jazz susters is. Juis in daai tyd het ek besef dis ons erfenis en dat ek dit met my kon saamvat en deel.”

Hy is baie dankbaar dat hy deel kon wees van die maak van die dokkie in samewerking met False Flag-produksies, en veral dat Izelle Venter, VIA-kanaalhoof, in die storie geglo het.

“Die dans is aan die uitsterf onder die jeug en die dokumentêr gee ’n blik op ons erfenis en hoe belangrik dit is om dit lewendig te hou. Dit is ook ’n tipe dans met ouskoolwaardes.”

Carstens beskryf die hart van Kaapse jazz as “ ’n Kaapse ding, waar ons sand, see, warm tropiese weer en ook geesdriftige bruin mense het wat dans”.

Ghoema woema
Warren Carstens in ’n episode van ‘Ghoema woema’ op VIA.

Kaapse jazz inkorporeer wel ander dansstyle, soos die langarm, bob, asook Latynse style. Dit word noteer soos enige ander musiek en word in plekke gespeel deur platejoggies, maar ook lewendig en vars gehou deur geesdriftige musikante en orkeste.

Daar was nagklubs, soos G-spot in Manenberg, waar Kaapse jazz hoofsaaklik gedans is. Die groot trekpleister wat vandag nog bestaan en wat as die oudste nagklub in Suid-Afrika beskou word, is die West End Galaxy. Daar is ook die jaarlikse Jazz on the Rocks en die Kaapstadse Internasionale Jazz-fees wat die geleentheid skep vir dans.

Een van die mooiste oomblikke wat Carstens van die dansery onthou, is beeldmateriaal wat hy gesien het van twee bejaardes wat dit by ’n begrafnis uitkap.

“Die geskiedenis van die dans is al opgeteken deur Valmont Layne wat sy tesis gebaseer het op Cape jazz se oorsprong en die beweging. Ons Kapenaars is hom ewig dankbaar . . .”

Carstens se wens vir die program is dat mense dit in die donker tyd van Covid-19 sal geniet en selfs sal begin dans.

“Daar is niks so goed soos sweet om jou lyfie fiks en gesond te hou nie. En Cape jazz laat jou sweet en maak jou gô uit op ’n lekker sexy ritme . . .”

Ghoema woema word Vrydae om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

Meer oor:  Via  |  Jazz  |  Dans  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.