Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Verwag verrassings in 18de reeks van ‘Strictly Come Dancing’
Oti Mabuse Foto: Strictly Come Dancing

Verwag blinkers en danstalent wat verstom, tot so ’n mate dat jou kennebak ’n paar keer op die vloer gaan klap tydens die 18de reeks van die Britse Strictly Come Dancing.

Die reeks begin Sondagaand om 19:00 op BBC Brit, DStv-kanaal 120, met ’n spesiale première.

Die aanbieders is Tess Daly en Claudia Winkleman. Die 12 deelnemers wat dit op die dansvloer waag, is die komediant Bill Bailey, die aktrise Caroline Quentin, die radio-omroeper Clara Amfo, die YouTube-ster HRVY, Jacqui Smith, ’n voormalige Britse minister van binnelandse sake, die akteur Jamie Laing, die Amerikaanse voetbalster Jason Bell, die televisie-aanbieder JJ Chalmers, die aktrise Maisie Smith, die sanger Max George, die bokskampioen Nicola Adams en die televisie-aanbieder Ranvir Singh.

Vanjaar is daar drie Suid-Afrikaners betrokke. Dit sluit in die reeds bekende Strictly-beoordelaar Motsi Mabuse en haar ewe beroemde sus, die professionele danser Oti Mabuse, wat saam met haar dansmaat Kelvin Fletcher verlede jaar se Strictly gewen het. Die susters is oud-Pretorianers. Dan is daar die Sasolburg-boorling Johannes Radebe, ’n bobaasdanser. Oti en Radebe gaan van die 12 glansmense help om hul beste dansvoet voor te sit.

Die drie het ’n tydjie afgeknyp om met Netwerk 24 en ander media op Zoom te gesels.

Johannes Radebe Foto: Strictly Come Dancing

Motsi reageer dadelik met ’n skaterlag op ’n vraag oor twee susters wat saamwerk en hoe dit voel om haar suster te beoordeel.

“Ek sien hulle eintlik net as hulle uitkom om te dans. Dit is baie lekker om saam met Oti en Johannes (Radebe) te werk, ons is saam hier as ’n familie.”

As susters het hulle mekaar nog altyd “beoordeel”.

“Ek was haar eerste dansafrigter. Sy is gewoond aan my insette, dit hang natuurlik af van die prestasie van die glansmense in hul span. Ons weet almal wat ons werk en doel is.”

Radebe, ’n kampioendanser in Suid-Afrika, het twee keer aan die plaaslike Strictly Come Dancing deelgeneem en al twee kere tot die eindronde deurgedring. Hy is nou amper twee jaar deel van Strictly Come Dancing in Brittanje. “Die afgelope twee jaar het vir my ’n groter platform gegee. Dit is die eerste keer dat ek as ’n danser betaal word. My droom het waar geword en ek kan my familie versorg. Ek moet myself elke keer knyp as ek op die verhoog gaan.”

Hy werk in die reeks met die eerste danspaartjie van dieselfde geslag in die Strictly-vertoning, die Olimpiese bokskampioen Nicola Adams en die danser Katya Jones. “Inklusiwiteit is vir my baie belangrik. Ek is bly dat dit in dié reeks ook gebeur, dat almal welkom is om aan hierdie vertoning deel te neem. Ek vind dit uiters opwindend.”

Met die tweede vlaag van koronavirusinfeksies wat Europa getref het, is die voorsorgmaatreëls gedurende die verfilming van die reeks verskerp.

“Ons is eerstens baie bly dat ons kon deelneem, want ons was maande tuis,” sê Oti.

Die opnames is gemaak nadat die deelnemers in kwarantyn was. “Ons het ’n ‘borrel’ gevorm met die danspaartjies wat ons afrig. Ons het maskers gedra gedurende die repetisies, ook die tegniese spanne, en ons moes heeltyd handreiniger gebruik. Ons het saam gewerk, huis toe gegaan, niemand anders (behalwe jou familie) gesien vir die duur van die opnames nie en is ’n paar keer getoets vir die virus.”

Benewens die voorsorgmaatreëls was die voorbereidings besonder straf. Volgens Oti word daar van tienuur in die oggend tot tienuur in die aand gerepeteer. “Dit verskil van celeb tot celeb en hul beskikbare tyd, en natuurlik ook van afrigter tot afrigter. Jy gee eintlik jou lewe vir die show en probeer elke dag daardie hoë standaard handhaaf.”

Tussenin bad hulle in yswater of met Engelse sout om seer spiere te salwe.

Oti voel die druk om weer die “glitter ball” van die wenner huis toe te bring, soos verlede jaar. “Ek het nie beheer daaroor nie, want die publiek wys die wenner aan. Ek kan net my beste doen. As jy ambisieus is, kan jy nie terughou nie, ek kom van ’n gemeenskap van ambisieuse mense!”

Volgens Motsi is dit baie moeilik om die wenner te voorspel en die kykers moet hulle gereed maak vir verrassings. “Die dansers gee hul beste vir tien weke. Strictly is harde werk. Mense moet fisiek voorbereid wees. Hier is baie sportsterre in die groep; jong mense het die stamina en ouer mense het die ervaring. Baie mense was tydens Covid-19 vasgekluister; ek dink hulle het deur die inperking geoefen!”

Meer oor:  Strictly Come Dancing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.