Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
VIA fokus op kos, skelms en rybewyse

Sang, skelms en rybewyse is die fokus in drie nuwe VIA-reekse wat in die lente begin.

Ek soek ’n rybewys begin op 5 November op VIA. Foto: VIA

Op 16 September begin Skole Kook om 18:00. Die kompetisie bied aan gr. 11-leerlinge met verbruikerstudie of gasvryheid as vak die kans om met hul kookvernuf te spog. Mandi du Plooy-Baard is die aanbieder. Dit word Maandae om 18:00 uitgesaai.

In Boereverneukers delf die RSG-omroeper Izak du Plessis diep in die verlede om die stories van interessante Afrikaanse skelms uit die argief te ontgin. In dié reeks word die lewe van 13 karakters soos die beesbaron-swendelaar Arno Smit en die Langkloof se Ruitertjie Ruiters bekyk. Die reeks sluit aan by Du Plessis se gelyknamige boek.

Dit begin op 5 November. Dit sal Dinsdae om 20:30 uitgesaai word met heruitsendings Sondae om 19:30.

In die werklikheidsreeks Ek soek ’n rybewys loer die kameras in by regte leerlingbestuurders op die dag van hul groot toets.

Met al die angs en humor van wat agter die stuurwiel gebeur, bly die vraag of die leerling sal slaag of weer sal moet probeer. Die reeks begin op 5 November om 21:00.

Nuwe seisoene van ander VIA-reekse begin ook eersdaags.

Die tweelingsusters Gadija en Fatima Sydow is op 5 September terug agter die kospotte om Donderdae om 17:30 in Kaap, kerrie en koeksisters nog geheime uit die Kaaps-Maleise kombuis te deel.

Anet Pienaar-Vosloo is op 14 Oktober terug om kykers haar stylvolle vriende se spoghuise binne te nooi. Nuwe episodes van Mooi word elke Maandag om 19:30 uitgesaai.

In die nuwe seisoen van die geselsprogram Ek wou nog sêmaak Afrikaans se voorste digters en skrywer oop oor die mag van poësie en die geskrewe woord. Die digter Daniel Hugo is die aanbieder.

Dit begin op 16 Oktober en word om 18:00 uitgesaai. Dit word deur Avbob geborg.

In die volgende seisoen van My Matriekafskeid is Tauné Block die nuwe aanbieder. Block loer in elke episode in by ’n ander skool om drie hoërskoolmeisies se matriekafskeidreis te volg. Dit begin op 17 November en word Donderdae om 20:00 uitgesaai.

Op 17 Oktober is die Afrikaanse vrouetydskrif Kuier weer op die kassie. In Kuier-mense ontmoet kykers ’n verskeidenheid van Kuier se voorbladgesigte – van glansmense tot gewone mense. Dit word Donderdae om 21:00 uitgesaai.

DuPreez Strauss is op 15 November weer op VIA met ’n nuwe seisoen van My vreemde vriende. In elke episode van dié werklikheidsprogram lê hy besoek af by een van sy 5 000 Facebook-vriende. In dié seisoen stel Strauss kykers bekend aan ’n reeks uiteenlopende karakters soos ’n BBP-lyfwag, ’n paganistiese priester, ’n rofstoeier en selfs ’n vampier. Dit word Vrydae om 20:00 uitgesaai.

Die bebaarde sjef John Hall en die baardolie-baas Meyer le Roux is op 8 November terug om mekaar in die tweede seisoen van Baard, bos en kos uit te daag om fynproewersgeregte in ongewone en aardige plekke te kook. Dit word Vrydae om 17:30 uitgesaai.

VIA is op DStv-kanaal 147.

Meer oor:  Izak Du Plessis  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.