Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Vicky Davis terug by ‘Pasella’ as aanbieder én skrywer

Noudat sy weer as aanbieder van die SABC 2-leefstylprogram Pasella te sien is, het die aktrise Vicky Davis haar “backstage pass to life” terug.

Sy is een van die aanbieders in die 28ste seisoen nadat sy nie in die vorige een verskyn het nie.

Vicky Davis

Nou is sy ook een van die teksskrywers.

“Ek is al 13 jaar betrokke by die program en ken dit soos die palm van my hand. Dit is seker die lekkerste werk wat ek nóg gedoen het. Jy is in die wings van mense se lewens en kruip in onder die vel van die land. Pasella is ’n gelykmaker en is nie eksklusief nie. Daar is sowel glanspersoonlikhede as gewone mense wat op die program verskyn. Dit skep eintlik ’n argief van die land se mense en sy tyd.”

In die nuwe seisoen word die SABC 2-sepie 7de Laan se 21ste verjaardag en Vryheidsdag gevier.

Ekovriendelike geboue en die Graskop-kloof word besoek. Die Suid-Afrikaanse akteur Neil Sandilands gesels oor sy loopbaan in Hollywood en kykers kan uitvind hoe om ’n lewe uit rommel te maak.

Pasella se vorige seisoen het in 2018 geëindig.

“Maar dit was altyd die plan om ’n volgende reeks te maak,” sê Simoné Ross, vervaardiger.

“Maar verlede jaar (met die pandemie) was ’n struikelblok. Mettertyd kon ons begin werk en dit was makliker om onder die nuwe omstandighede te werk as wat ek gedink het.”

Die nuwe seisoen bestaan uit 26 episodes wat in twee dele uitgesaai word.

Neil Sandilands en Vicky Davis in ’n vorige aflewering van 'Pasella'.

Die eerste 13 episodes duur tot 14 Julie, waarin die program ook Mandela-dag (18 Julie) vier.

Pasella is in 1998 die eerste keer uitgesaai. Die konsep en aanbieders het oor die jare baie verander.

Aanvanklik was dit ’n program uit die kraal van Pieter Cilliers Produksies met Coenie de Villiers as aanbieder.

Daarna het Mieder Olivier van die produksiemaatskappy Filmmedia die program oorgeneem.

Ross het in 2014 by die program aangesluit.

Simon Witbooi (HemelBesem) is ’n aanbieder van 'Pasella'.


"Die program het al verskillende baadjies aangetrek en ons pas aan om ’n nuwer gehoor te lok. Daar is ’n moderner aanslag en dit word meer uit die boks benader. Daar is ook met die teks meer ruimte vir ’n verskeidenheid dialekte. Jy sal sien die program verskil van sê maar tien jaar gelede. Ek konseptualiseer wat ons moet doen en ek hou toesig daaroor.”

Jana Birch en Mandie Barnard is saam met Davis die teksskrywers en Suzanne Sterley is die regisseur.

“Hulle is almal ou hande wat al in verskillende hoedanighede aan die program gewerk het,” sê Ross.

Davis, wat al ander televisieprogramme vervaardig het, moes ’n onderhoud met haar man, die musikant Schalk Joubert, voer toe hulle nog net vriende was.

Vicky Davis staan by lede van die Ndlovu-jeugkoor.

“Ons is sedert 2001 vriende. Ons het in 2011 ’n profiel op Pasella oor hom gedoen en ek moes hom in die onderhoud vra of daar ’n mev. Joubert is. Nou ja, tien jaar later . . .”

Hulle is vandag getroud en ouers.

“Ek het soveel respek vir Suid-Afrika en sy mense gekry. Dit bied ’n blik op verskillende aspekte van die land. Die program is leefstyl, ja, maar dit is ook ’n kombinasie van drama en joernalistiek.”

Die ander aanbieders is Paul Rothmann, Amalia Uys, Simon Witbooi (HemelBesem), Rumacques Gelderbloem en Sasha-Lee Davids.

Pasella word Woensdae om 19:30 op SABC 2 (DStv-kanaal 192) uitgesaai.

Meer oor:  Sabc 2  |  Vicky Davis  |  Simoné Ross  |  Pasella  |  Leefstyl  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.