Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Videospeletjies nou eintlik goed vir jou
’n Toneel uit Animal Crossing: New Horizons.

Kry hierdie jaar jou onder?

Moenie noodwendig dink jy het roomys, wyn, ’n huilsessie of nog ’n troeteldier nodig nie.

Nee, nuwe navorsing wys sommige videospeletjies kan goed wees vir jou geestesgesondheid en jou gelukkiger laat voel.

Dié studie, gedoen deur die Oxford-internetinstituut verbonde aan die Universiteit van Oxford in Engeland, het bevind daar is ’n positiewe band tussen die hoeveelheid tyd wat mense aan videospeletjies bestee en hul welstand. Dit is in teenstelling met die algemene opvatting dat dié speletjies verslawend is en kan lei tot swak psigiese gesondheid.

Meer as 3 200 spelers het deelgeneem aan die studie. Navorsers het in samewerking met Electronic Arts (EA) en Nintendo spelers van Plants vs. Zombies: Battle for Neighborville en Animal Crossing: New Horizons ondervra oor onder meer hul welstand, motivering en bevredigingsvlak. Dit is teen aangetekende speeltyd oor twee weke, soos verskaf deur EA en Nintendo, gemeet.

CNN berig dit is die eerste keer dat maatskappye soos Nintendo hul data met akademici deel.

Volgens die navorsers is daar in vorige studies oor videospeletjies en welstand net staatgemaak op spelers se terugvoering. Nou is dit gemeet in verhouding tot die tyd wat hulle aan die speletjie bestee.

Die Oxford-studie toon hoe meer tyd spelers aan die speletjie bestee hoe meer het hulle in die algemeen beter gevoel.

Die navorsers meen die ervaring van bedrewenheid en die sosiale band wat deur sulke speletjies gebied word, het waarskynlik tot die resultate bygedra.

Sky News berig prof. Andrew Przybylski, hoofnavorser, sê speel is ’n aktiwiteit wat positief verbind kan word met mense se psigiese gesondheid. “En deur die speel van videospeletjies te reguleer kan dit daardie voordele van spelers weerhou.”

Hulle het wel net twee speletjies betrek en meen nog samewerkende navorsing met die bedryf is nodig.

“Ons is optimisties dit sal bewyse lewer wat ons begrip van menslike spel bevorder en aan beleidmakers groter insig gee oor hoe dit ons gesondheid raak,” aldus Przybylski.

CNN berig ook die verkope van videospeletjies het die hoogte ingeskiet te midde van die pandemie. Die navorsers sê baie belanghebbendes het bekommerd geraak omdat mense juis nou baie videospeletjies speel.

Animal Crossing, wat in Maart bekend gestel is, het net in daardie maand met digitale verkope van 5 miljoen gespog.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.