Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Vince’ verlaat die Laan ná 15 jaar
Jacques Blignaut saam met sy kinders, Emmanuelle (8), Raphael (4) en Angelique (10).

Vince Meintjies, die geliefde sjef van die sepie 7de Laan wie se rol deur Jacques Blignaut vertolk word, het Maandagaand die Laan ná 15 jaar gegroet.

Blignaut sê hy is opgewonde oor ’n nuwe hoofstuk wat vir hom wag.

Hy sal binnekort in ’n nuwe telenovella, The Estate, te sien wees wat 5 April op SABC3 begin.

Vince en sy vrou, Aggie, wat vertolk word deur Mimi Mahlasela, het Maandagaand na Zanzibar vertrek en daarna gaan Vince na Kanada om ’n beoordelaar in ’n kookkompetisie te wees. Die episode is op 8 Desember geskiet.

Kykers was egter salig onbewus daarvan dat dit Vince se laaste aand in die sepie sou wees. Kort ná die uitsending het Blignaut ’n inskrywing op Instagram gedeel: “Ná 15 jaar van werk met die wonderlikste groep mense is dit tyd vir ’n nuwe avontuur.”

Blignaut het Donderdag aan Netwerk24 gesê die 15 jaar by 7de Laan het vinnig verbygegaan en in dié tydperk het hy baie geleer.

Jacques Blignaut wat die rol van Vince Meintjies vertolk, groet die Laan ná 15 jaar.

Blignaut sê hoe Vince die sepie verlaat, het ’n oop einde.

“Ek is bly ek het nie doodgegaan nie. Daar is altyd die moontlikheid dat ek terug kan gaan. ’n Mens weet nooit.”

Vince en Aggie is nog getroud, so Blignaut sê hy is opgewonde om te sien hoe die storielyn uitspeel.

Blignaut sê die produksielede en akteurs op die stel het soos familie begin word. Dit is vir hom bittersoet om die sepie te verlaat.

Die eerste week op die stel van die nuwe produksie waarvan hy nou deel is, was ietwat vreemd, maar dit is vir hom lekker om nuwe mense te ontmoet.

Blignaut sê hy het lank gebid vir ’n nuwe geleentheid. “Die Here het my gebede beantwoord. Ek is geseënd om van een produksie na ’n ander te gaan.”

Blignaut was 26 jaar oud toe hy hom by 7de Laan aangesluit het.

Jacques Blignaut sê hy is opgewonde oor die nuwe hoofstuk wat vir hom wag.

Voor 7de Laan was hy vir ’n paar maande in Egoli en vir ’n jaar op Scandal. Blignaut, wat toe gewoond was aan Engels praat, sê hy moes skielik sy Afrikaans opskerp. Op die stel van 7de Laan het sy Afrikaans verbeter.

Van sy beste herinneringe is om van akteurs te kon leer wat hy nooit sal vergeet nie, soos Ingrid Paulus, wat die rol van Vanessa vertolk, Hildegardt Whites (Bonita), Theodore Jantjies (Xander, Vince se broer), Zane Meas (Neville, Vince se pa) en Christo Davids (Errol).

Sy vrou, Melanie, is saam met hom opgewonde oor die nuwe rol in The Estate.

“Sy weet ek wou vir so lank al iets anders doen.”

Blignaut sê sy kinders, Angelique (10), Emmanuelle (8) en Raphael (4), vind die bedryf interessant. Die drie het ook ’n kreatiewe geaardheid.

Blignaut sê hy het oor die jare lojale ondersteuners bygekry en hy hoop hulle sal The Estate ondersteun.

“En sien hoe amazing die nuwe program is.”


Meer oor:  7De Laan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.