Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Vinette gaan nuwe sepieland Binne

“Ek besef nou daar is lewe daarbuite,” sê die aktrise Vinette Ebrahim (62), wat volgende week by die kykNET-sepie Binnelanders vir ses weke begin werk nadat sy onlangs haar laaste verskyning op 7de Laan ná byna twee dekades gemaak het.

Vinette Ebrahim Foto: Dale Foure/Kuier

Kykers het op 4 April 2000 – toe 7de Laan die eerste keer op SABC 2 uitgesaai is – met die karakter Charmaine Beukes (later Meintjies) kennis gemaak. Later het Ebrahim ook die rol van Vivian, Charmaine se suster, vertolk.

“Nou speel ek die rol van Vida (in Binnelanders) en sy verskil heeltemal van my karakter in 7de Laan,” sê Ebrahim.

“Sy is wel ook ’n ma, maar meer as dit is sy ’n vrou wat baie beskermend oor haar man is en sy is nogal ’n vuurvreter, wat iets heeltemal anders is. Ek is baie opgewonde, ek kan nie wag om daar te begin nie.”

Ebrahim kan nie veel meer oor Vida se storielyn(e) verklap nie.

Dit blyk dat 2020 ’n besige jaar vir haar sal wees.

“Ek is natuurlik op my senuwees, want nou is ek uit my gemaksone. Ek is wel baie dankbaar, want daar is ’n paar aanbiedinge.”

Ebrahim het op die verhoog onder meer in Lizz Meiring se toneelstuk My naam is Ellen Pakkies teenoor Christo Davids opgetree en sy het voorheen in dramareekse soos Barney Barnato, Meeulanders en Soutmansland verskyn.

“Ek is een wat glo ek praat nie daaroor voor dit nie geteken is nie, maar kom ek sê so: Julle sal my volgende jaar definitief by die feeste sien. Ek is baie opgewonde daaroor. Daar is ook flieks wat na my kant toe kom en ek is nederig, nederig, nederig dankbaar daaroor.”

Charmaine, wat ook vir baie ander karakters ’n moederfiguur of steunpilaar was, het dadelik in kykers se harte gekruip, maar nou het sy die Laan gegroet.

Ebrahim, ook ’n ma en ’n ouma, het onlangs in ’n onderhoud met die tydskrif Kuier gesê sy geniet elke oomblik wat haar nuwe begin vir haar inhou.

Dit is vroeër vanjaar aangekondig dat Ebrahim se karakter 7de Laan groet.

In haar onderhoud met Kuier wou sy nie daaroor uitwei nie, maar sy het gesê dit het ’n lang aanloop gehad.

Sy het gesê die eerste 15 jaar by 7de Laan was vir haar die gelukkigste jare by die sepie.

Sy en Zane Meas, wat haar man, Neville Meintjies, vertolk het, het baie geskerts. Sy het verwys na die akteurs wat nou saam met haar gewerk het: Ingrid Paulus (Vanessa), Hildegardt Whites (Bonita), Christo Davids (voorheen Errol) en Theodore Jantjies (Xander). Sy het bewoë geraak. Jantjies het ook intussen 7de Laan verlaat.

“Ek mis hulle verskriklik. En ook die mense wat aan my hare en grimering gewerk het. Ek mis hulle en dit maak my regtig hartseer. Dis 19 jaar van my lewe wat net skielik weg is . . .”

“Met my laaste toneel het almal na die vloer gekom – van die crew tot die produksiemense en tea lady en hulle het vir my hande geklap. They clap you off the floor so to speak – dis tradisie. En in my speech het ek gesê: ‘Wees seker van jouself en moenie bang wees om jou sê te sê nie’.”

* Lees die volledige onderhoud met Vinette Ebrahim in die nuutste uitgawe van Kuier.

Meer oor:  Vinette Ebrahim  |  7De Laan  |  Binnelanders  |  Sepies  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.