Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Viviers klim in die vel van kwesbares

Of hy nou ’n virus, Lady Macbeth of ’n tragiese nar is, sy eiesoortige aanslag in die velerlei rolle wat hy aanpak, wys dat David Viviers soos ’n verkleurmannetjie kan verdwyn. Hy is nou te sien as ’n popster wie se ster verskiet, maar op wie ander dinge wag, in die romantiese rolprent No Hiding Here op Showmax. Hy het per e-pos met Laetitia Pople gesels.

David Viviers

Wat sou gebeur as die rolverdelings van Notting Hill,Glee en die Amerikaanse vermaaklikheidster RuPaul in ’n klein Suid-Afrikaanse dorpie byeenkom?

Dan het jy min of meer die gegewe van die rolprent No Hiding Here, ’n rolprent oor die viering van jouself en identiteit, meen David Viviers, wat as die smeulende popster Caleb Ferreira daarin te sien is.

Die fliek, wat in Melville, Johannesburg, verfilm is, volg ’n drama-onderwyser Sam (Earl Gregory van Kinky Boots-faam) wat in die sop beland op die aand van ’n groot fondsinsameling vir sy skool waar einste Ferreira vir jillende skoolmeisies kom pruil.

Viviers dink nie daar is al voorheen so ’n soort fliek in Suid-Afrika gemaak nie.

“Die fliek is nie soseer oor die pyn van coming out nie. Niemand in die fliek word verwerp of verneder oor hul seksuele voorkeure nie. Die enigste beperkinge wat die karakters ervaar, is die beperkinge wat hulle op hulself plaas.”

Elkeen van die karakters gaan deur ’n soort omwenteling. Die fliek herenig hom met die regisseur Gabe Gabriel, destyds ’n studentemaat van die Universiteit van Kaapstad.

Die fliek was uitdagend omdat dit die eerste keer is dat hy die romantiese hoofrol moes vertolk. Hy het aanvanklik vir die rol van Benjamin, Sam se kêrel, gemik.

“Ek het nie eens gedink Caleb was ’n opsie nie, so dit was opwindend toe ek gevra is om myself as Caleb op te neem.”

Hy kan in ’n mate met Ferreira se stryd as jong kunstenaar identifiseer. Ferreira word in die fliek oor ’n “misstap” gekruisig.

David Viviers en Earl Gregory in ‘No Hiding Here’.

“Tot ’n sekere mate. Daar is die idee onder kunstenaars dat ons onsself moet curate – dalk doen ons dit vanself ook. Ons wêreld is baie bewus van die beeld wat ons uitstuur, meer as ooit tevore, veral op sosiale media waar volgelinge die valuta is. Mense wil ook sin maak van ander deur hulle in identiteitsboksies te plaas. Ek is soms privaat oor wie ek is en ek verbloem ’n deel van myself. Ek wil nie hê mense moet finale idees hê oor wie ek is as akteur en wat ek kan doen nie. Dalk wys ek ’n beeld van myself wat nie heeltemal waar is nie. Dit is ’n fyn lyn en ’n mens moet daarvan bewus wees.”

Hy is verheug dat die reikwydte van die fliek groter is as wat hulle aanvanklik gedink het.

“Ek dink daar is ruimte vir meer flieks soos hierdie, nie net oor seksualiteit nie, maar ook die viering van identiteit, storievertelling wat waaghalsig en oneerbiedig is. Die fliek is bold en groot besluite is geneem wat die draaiboek, karakters, kostumering en stel betref.”

Hy dink ook die jonger karakters Molly, Sihle en Letitia bring emosie na die fliek en in baie gevalle is dit hul verhaal.

“Hulle bring verandering. Hulle daag volwassenes uit en inspireer hulle, nie andersom nie.”

Viviers was verlede jaar in Jemma Kahn se toneelstuk The Cellist with Rabies op die Toyota US Woordfees te sien waarin hy die rol van die virus wat hondsdolheid veroorsaak, vertolk het. Die stuk is deur Jaco Bouwer geregisseer.

Kort ná die vertoning op Stellenbosch is die inperking afgekondig en het die kunstebedryf ineengestort.

Die inperking was swaar en die omstandighede is steeds moeilik vir die uitvoerende kunste.

“Ek moes besin oor wie ek is nadat my identiteit as werkende akteur van my weggevat is. Ek dink nie ons is net ons loopbane of dit wat ons bereik het nie. Finansieel het dit vreesaanjaend geword, ek was net gereed om die huurkontrak vir my woonstel op te gee (soos baie van my vriende) toe kom die Fleur du Cap vir Cellist with Rabies. Ek was baie dankbaar vir Distell en die beoordelaars en danksy die prysgeld kon ek deurdruk.”

Hy het verlede jaar die prys vir beste byspeler ontvang.

David Viviers
David Viviers in "No hiding Here"

“Die rolprentbedryf kan op die oomblik ongehinderd voortgaan, wat ’n groot verligting is. Ek dink die lewe van ’n kunstenaar, veral wat die teater betref, is steeds erg onseker. Dinge kom weer op dreef, maar ek dink teater het ’n ernstige knou gekry. Die reaksie op Nathi Mthethwa, die minister van kuns, kultuur, sport en ontspanning, se twiet dat als ‘alive and well’ is, getuig daarvan”.

Viviers het op 23 die Brett Goldin-beurs ontvang wat na dié vermoorde akteur genoem is. Die beurs is deur Goldin se ma, Denise, ingestel en behels klasse en slypskole by die Royal Shakespeare Company in Londen. Dit was Viviers se eerste oorsese reis.

Hy is steeds in kontak met Denise.

“Sy is so ’n inspirerende mens dat sy so iets positiefs vir ander uit ’n nagmerrie kon skep.”

Dit was goed om ’n ander land en so ’n lewendige stad soos Londen te ervaar en was opsigself opvoedkundig, meen hy.

“Ek en Buhle Ngaba (die ander wenner) kon verskeie repetisies bywoon, ons het al hul produksies gesien, teks-slypskole bygewoon en het stemklasse by die nou ontslape Cicely Berry gehad. Ek sal nooit vergeet hoe sy op 90 kon vloek nie! Ons het ook vertonings in die Globe-teater en die West End bygewoon.”

Hy het ná die maand in Londen besef dat Suid-Afrikaanse akteurs maklik kan kers vashou by hul oorsese kollegas. “Dit was vertroostend. Al wat verskil van ons produksies, is geld en infrastruktuur.”

Werk vir die teater en die skerm trek hom en albei het aspekte wat die ander medium nie het nie.

“Die energie en klimaat van teater. Om jou hele lyf te gebruik om ’n storie van begin tot einde te skep, is iets wat jy nie noodwendig met rolprent sal ervaar nie. En in teater is daar natuurlik die magiese element van ’n gehoor wat in dieselfde oomblik as jy vasgevang is, wat saam met jou lag en huil. Maar ek is mal oor die spontaneïteit en nuanse van die rolprent, die gevoel dat enigiets kan gebeur en die manier hoe die kamera ’n mense se gedagtes vasvang. Dit tel elke klein oomblik op – ’n fluistering of iets wat agter die oë flikker.

“Ek hou baie daarvan om tot by my vingerpunte in ’n karakter te transformeer. Enigiets wat nie naby aan David is nie vind ek opwindend – rolle soos die hondsdolheidvirus (in Cellist with Rabies) of Lady Macbeth (in Fred Abrahamse se Macbeth). Ek hou ook van karakters, veral as ek film doen, wat kwesbaar is – mense wat pyn ronddra, of die uitgeworpenes van die samelewing is.”

Dit klink soos ’n cliché: Om in die inperking ’n roman te skryf. Mense het baie op sosiale media die spot daarmee gedryf, maar ek het dit regtig gedoen! En ek wil dit ook graag eendag in ’n draaiboek ontwikkel.”

Hy het verlede jaar ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk onder leiding van die skrywers Imraan Coovadia en Damon Galgut by die Universiteit van Kaapstad voltooi.

“Dit klink soos ’n cliché: Om in die inperking ’n roman te skryf. Mense het baie op sosiale media die spot daarmee gedryf, maar ek het dit regtig gedoen! En ek wil dit ook graag eendag in ’n draaiboek ontwikkel.”

Hy het op ’n proteaplaas naby George grootgeword en homself na ’n koshuis (Kingswood College) in Makhanda (Grahamstad) gestuur “omdat ek gedink het dit sal ’n bietjie meer ‘romanties’ wees (dankie, Harry Potter). Ek was verkeerd, maar dit was wel daar waar ek my liefde vir die verhoog ontdek het. My eerste rol was in gr. 10. Ek het Benedict in Much Ado About Nothing gespeel en daarna wou ek niks anders met my lewe doen nie”.

Volgens hom skiet hulle ook tans ’n Engelse televisiereeks in Namakwaland.

“Ek dink dit gaan baie oorspronklik en roerend wees en baie van ons land se opwindendste akteurs is daarin te sien. En dan doen ons hopelik The Last Five Years (’n musiekblyspel met regie deur Paul Griffiths) in die Baxter in September, as Covid dit toelaat. Hierdie musiekblyspel is vir my ’n eerste, so ek is opgewonde en op my senuwees!”

• Die rolverdeling van No Hiding Here sluit Tiffany Barbuzano, Antoinette Kellermann en Phumzile Sitole in. Die ouderdomsbeperking is 16.

Meer oor:  David Viviers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.