Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Wat as jy ná 27 jaar in SA ontwaak? vra fliek

Die woordspeling in die titel van die kykNET-fliek Woke het veral die aktrise Jo da Silva se aandag getrek.

“As ’n mens deesdae die woord ‘woke’ hoor, dink jy dadelik in die maatskaplike sin daaraan: die bewussyn van ongelykhede en rassisme. Dit is so dat ons ‘wakker’ word ten opsigte van dié onregte. Jy het ’n groter begrip daarvoor.”

Die fliek word Woensdag uitgesaai.

Tristram Atkins en Meesba Aboo is die draaiboekskrywers van dié rolprent, waarvan die titel ook dui op ’n man wat ná 27 jaar uit ’n koma ontwaak.

Charles Nieuwenhuizen (Deon Lotz) het in 1993 gewag op die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika in 1994.

Deon Lotz en Jo da Silva in ‘Woke’. Foto: kykNET

Ná ’n ongeluk by die werk, verval hy egter in ’n koma waaruit hy jare later eers weer ontwaak.

Wanneer Charles wakker word, sukkel hy om sy vrou, Suzette (Da Silva), – nou 51 jaar oud – te herken.

“En dis nog iets wat my na die storie gelok het. Sy het in die 27 jaar verander. Sy het selfstandig geword,” sê Da Silva, wat bykans ’n dekade lank die rol van Gita in die SABC2-sepie 7de Laan vertolk het en ook in reekse soos Arsenaal en Gabriël verskyn het.

“Hy sukkel natuurlik om aan te pas. Dis ’n hele nuwe wêreld. Dink maar aan iets soos Google en ’n selfoon waarop jy e-pos ontvang.”

Hy was polities ’n progressiewe man en nou is hy verlore.

Sanet Olivier, regisseur, sê hulle het gedink oor wat die ergste sal wees as jy ná so lank wakker word.

“1993 versus 2020. Dit is belangrik om so iets uit die oogpunt van die karakter te sien. Hoewel hy with it was vir sy tyd voordat hy in die koma was, is daar nou goed wat hy nie verstaan nie,” sê Olivier.

“Hy kom tot ’n skokkende ontdekking en moet dit hanteer. Uiteindelik gaan dit oor verdraagsaamheid. Dit is ’n belangrike boodskap: Al stem jy nie saam met iets nie, is dit nie noodwendig verkeerd nie. Ons wou dit nie oordramatiseer nie, maar eerder ’n mooi storie subtiel aan kykers kommunikeer.”

Kykers sal wel simpatie met Charles hê, sê sy.

Jo da Silva vertolk in ‘Woke’ ’n vrou wie se man 27 jaar lank in ’n koma was. Foto: kykNET

Dit is ook vir sy gesin ’n aanpassing.

“Dis daardie idee om na jouself in die spieël te kyk en te vra wie is jy,” sê Da Silva.

“Sy het 27 jaar lank vol hoop gewag dat haar man wakker word. Daar is soveel lae aan hierdie verhaal. Dis ’n transformasie – ons almal het wakker geword met ’n nuwe werklikheid. En die man en vrou moet mekaar herontdek en natuurlik is alles nie altyd maklik nie.”

Daar is dinge waarvan hy nie bewus was nie omdat hy in die koma was. Nie net is die vraag of Suzette nog vir hom lief sal wees nie, maar is hy nog lief vir haar?

“Dit is werklik ’n storie van transformasie op alle vlakke. Liefde, hoop en aanvaarding.”

Woke word Woensdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Meer oor:  Deon Lotz  |  Kyknet  |  Televisie  |  Flieks  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.