Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
'Ek wou nog sê . . . '

Die poësie is ’n “stryd met taal en styl”, sê die digter Daniel Hugo, medeaanbieder van die nuwe poësiereeks Ek wou nog sê . . . op VIA, wat ontstaan het danksy die begrafnisondernemer Avbob se 100ste bestaansjaar.

Dit begin Dinsdag met die sanger en liedjieskrywer Coenie de Villiers as die ander aanbieder in dié reeks van tien episodes waarin gevestigde sowel as opkomende woordkunstenaars hul benadering en menings oor gedigte uitspreek.

Coenie de Villiers en Daniel Hugo is die aanbieders van Ek wou nog sê . . . op Via. Foto: Via

Digters soos Johann Lodewyk Marais en die bekende dramaturg Pieter Fourie, liriekskrywers soos Anna Davel en Jannie du Toit en die aktrise Sandra Prinsloo gesels saam.

Hugo en De Villiers kyk na liefdestekste en die oorgang tussen lirieke en gedigte word ook bespreek.

’n Loodsepisode is verlede jaar op VIA uitgesaai waaraan onder andere die digter Antjie Krog deelgeneem het.

“ ’n Nuwe gehoor is sekerlik een van die doelstellings,” sê Hugo.

“Met Avbob wat vanjaar ’n 100 jaar oud word, is daar ’n spesiale reklameveldtog rakende die poësie om dit te vier. ’n Kompetisie is van stapel gestuur waarin mense in al 11 amptelike tale kon inskryf om in aanmerking te kom vir insluiting in ’n bloemlesing I Wish I’d Said.”

Verlede jaar se uitgawe van die kompetisie het meer as 22 000 inskrywings gelok en Lynthia Julius, ’n filosofiestudent, het die eerste prys gewen in die Afrikaans-kategorie. Die digter Susan Smith was tweede en die joernalis en resensent Herman Lategan was derde.

Hugo was die keurder van die Afrikaanse inskrywings.

Die digter Johann de Lange en dr. Mantoa Motinyane, hoof van Afrika-tale by Ikeys, het die bloemlesing saamgestel wat deur Naledi uitgegee is.

Avbob het opdragdigters vir al die amptelike tale gestel en die beste gedigte uit die kompetisie is ook in die bloemlesing. Al die gedigte in die bloemlesing is in Engels vertaal sodat almal mekaar se gedigte kan verstaan.

Julius is een van die gaste in die eerste episode.

Frik Rademan, uitvoerende hoof van Avbob, verduidelik die projek.

“Avbob se kliënte het dikwels troos nodig. Wanneer ’n mens deur die dood in die gesig gestaar word, droog die woorde op. Mense weet gewoon nie wat om met die afsterwe van ’n geliefde te sê nie.

“Ons het toe besluit om woordmense te kry wat iets gepas kan skryf. Daar is soveel plekke waar trooswoorde nodig is, vanaf die begrafnisbrief en begrafnisrede, tot die lange nagte wat volg ná die begrafnis. En omdat digters ook gewone mense is, verstaan hulle die emosies waardeur ons kliënte gaan.”

Die gedigte gaan oor hoop, liefde, geboorte en die dood en is op Avbobpoetry.co.za beskikbaar.

“Om te sterf beteken natuurlik dat jy eers gelewe het, so jy skryf ook oor die lewe in hierdie gedigte,” sê Rademan.

“Die tweede jaar van Avbob Poetry se kompetisie in al 11 die amptelike landstale duur tot einde November. Daarna bundel ons weer die beste gedigte uit die kompetisie saam met opdragverse, hierdie keer met 101 gedigte. Ons gaan vanjaar ook twee gedigte in Khoi-San insluit.”

Hugo vervolg: “Die ding van poësie is dat jy en die taal mekaar uitdaag. Dit is ’n styl en stryd met die taal. Poësie bewys wat jy met die taal kan uitrig. Indien daar ’n lewenswysheid uitkom, is dit ’n bonus. Dit gaan eerstens oor taal.”

* Ek wou nog sê . . . word Dinsdae om 18:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

* Besoek www.avbobpoetry.co.za om vir die kompetisie in te skryf.

Meer oor:  Coenie De Villiers  |  Daniel Hugo  |  Avbob  |  Poësie  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.