Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Weyers groet toneelspel, maar Akademie vereer hom

Die akteur Marius Weyers het besluit om toneelspel te laat vaar en daarom is hy dankbaar dat hy nou die erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot rolprent- en TV-kuns kry.

“Ek het aan die begin van verlede jaar besluit om ’n sabbatsjaar te neem. Ek wou nie meer groot karakters speel nie. En toe gebeur Covid, so ’n mens is toe in elk geval by die huis. Maar ek dink die tyd het ryp geword. Ek is dankbaar vir so ’n loopbaan. Ek was 55 jaar in die beroep toe ek die punt bereik het waar ek wou sê: dit was genoeg.”

Marius Weyers

Weyers, bekend om rolprente soos Paljas, Die wonderwerker, Oupa for Sale en Ongewenste vreemdeling, het Vrydagoggend die regisseur Katinka Heyns gebel.

“Sy het die benoeming gemaak.”

Weyers, Heyns en Heyns se man, die ontslape skrywer Chris Barnard, het die afgelope 40 jaar dikwels saamgewerk.

Dit sluit in die reekse Phoenix & Kie en Amalia.

“Ons het wonderlike televisie gedoen. Hoë gehalte. Ek is spyt ons nie kon nie meer flieks saam maak nie, maar ons het die twee mooies (Paljas en Die wonderwerker). Hulle het vir my wonderlike karakters geskep.”

Hy het wel aanvanklik nie veel erg aan sy karakter, Pine, in die reeks Onder draai die duiwel rond gehad nie.

“Ek het vir hulle gesê ek wil nie Pine speel nie. Ek het gedink hy is immoreel en sonder ruggraat. Hulle het gesê nee, jy speel Pine. Toe ons eers daaraan begin werk het, het ek humor aan Pine ontdek wat ek nie voorheen opgemerk het nie. Pine het rondgeloop. Hy het my laat dink aan ’n Dobermann-reun wat ek gehad het. Hy het altyd uitgebreek deur die heining wat ek vir hom gebou het. En hy het daardie kyk in sy oë gehad wat sê: ek is maar net hond. Nou ja, Pine was ook maar net mens . . .”

Weyers en sy vrou, die beeldhouer Evette Weyers, woon op Rooiels.

Hy mis nie juis toneelspel nie.

Katvoet, gegrond op Tennessee Williams se Cat on a Hot Tin Roof, is die laaste toneelstuk waarin Weyers opgetree het voordat die inperking in werking getree het. Dit is in 2019 op kunstefeeste opgevoer.

“Wanneer ek stad toe ry, is ek dikwels dankbaar ek is nie op pad na ’n repetisie nie. Ek het net besluit: geniet die res van jou lewe.”

Die eerbewys het hom nogtans uitgeboul.

“Jislaaik, ek was uit die veld geslaan toe ek vanoggend gebel is. Dit is ’n geweldige eer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.