Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Afrikaanse Paasspel debuteer op RSG

Kruis van liefde, ’n Afrikaanse Paasspel deur Hans du Plessis en Bernard Odendaal met musiek deur Franco Prinsloo, beloof om ’n hoogtepunt vir RSG-luisteraars in die Paastyd te wees.

Prof. Hans du Plessis (links) en prof. Bernard Odendaal wat die libretto vir die Paasspel ‘Kruis van liefde’ geskryf het. Foto: Netwerk24

Dié werk sou verlede jaar in Unisa se ZK Matthews Great Hall in Pretoria gedebuteer het. Die teleurstelling was uiteraard groot toe die Covid-19-inperking ’n stokkie daarvoor gesteek het, maar danksy Prinsloo se ondernemingsgees sal die werk vanjaar ’n veel groter gehoor bereik.

Prinsloo, ’n komponis van Pretoria, sê die libretto wat die digters Du Plessis en Odendaal aan hom voorgelê het, behels 15 oorspronklike, ongepubliseerde liedtekste.

“Die tekste is gegrond op Bybelboekdele en sluit onder meer sewe afsonderlike gedigte in gegrond op die sewe kruiswoorde van Christus.”

Prinsloo het die tekste getoonset vir koor, orrel en perkussie waarvan die uitvoering sowat ’n uur duur.

Hy sê die werk is veeldoelig. Dit kan met of sonder musiekbegeleiding aangebied word, as ’n skouspel-, oratorium- of kleiner Paasspel-vertoning. Dit kan ook op kunstefeeste uitgevoer word, op straat, in teaters, in kerke of skoolsale, wat ook al die behoefte is om die Paasgebeure te gedenk.

Prinsloo het betyds voelers uitgesteek na RSG sodat Kruis van liefde met vanjaar se Pase gehoor kan word. Die oratorium sal in die MI-ateljee in die SAUK-gebou opgeneem word met boonop die voordeel van ’n opgeknapte orrel.

Franco Prinsloo het die musiek vir die Paasspel ‘Kruis van liefde’ gekomponeer. Die werk debuteer vanjaar op Goeie Vrydag wanneer dit op RSG uitgesaai word. Foto: Verskaf

Kruis van liefde sal dan op Goeie Vrydag op RSG uitgesaai word.

Hy het die werk opgedra aan sy koor, die Vox Chamber Choir, wat “gehore op ’n musikale pelgrimstog sal neem”.

Prinsloo hoop om terselfdertyd ook ’n video-opname van die uitvoering te maak, waarvoor ’n borg egter nodig is.

Prinsloo kortliks

Franco Prinsloo het in Middelburg, Mpumalanga, grootgeword en musiek aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom gestudeer. In sy studentejare het hy in die PUK-koor onder leiding van Awie van Wyk gesing waar hy ’n liefde vir komposisie en koormusiek ontwikkel het.

In die afgelope sowat tien jaar het hy komposisies in ’n verskeidenheid style gelewer – klassiek-kontemporêr, nuwe musiek, kabaret, teater, asook popmusiek en elektronika.

Van sy verhoogaanbiedings, as komponis en regisseur, is onder meer Maanmond (2009), Boegoe vannie liefde (2010), Pygmalion (2011), A Doll’s House (2012), Skroothonde (2013), A Clockwork Orange en Marat/Sade (2014).

Hy skryf ook opdragwerke vir kore, soliste en ensembles en het gereeld op kunstefeeste opgetree.

Kruis van liefde is moontlik gemaak deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en word ook ondersteun deur die departement Afrikaans en algemene literatuurwetenskap by Unisa.

“Vroue van Jerusalem”, een van die bewegings uit die oratorium, verskyn op die Vox Chamber Choir se nuutste CD, You are Beautiful.

Luister daarna by: https://www.youtube.com/watch?v=YbMjomgvUVo

Enigeen wat ’n bydrae wil lewer vir ’n video-opname van Kruis van liefde kan Prinsloo kontak by francoprinsloo.prinsloo@gmail.com.

Meer oor:  Rsg  |  Hans Du Plessis  |  Pretoria  |  Radio  |  Paasfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.