Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Afrikaanse rolprente, reekse maak skoonskip op Saftas
Dirk Smit en Alti Fouché van Vrydag4uur met hul goue horing.
Niel van Deventer en Charlenè Brouwer op die rooi tapyt.Foto: Simon Sonnekus
Christia Visser op die Safta-toekennings by Sun City. Foto: Simon Sonnekus
Musikant Mamosadi KB staan saam met Quinne Brown, Hildegardt Whites en Mimi Mahlasela van 7de Laan op die rooi tapyt. Foto: Simon Sonnekus

Afrikaanse rolprente en TV-reekse het Saterdagaand uitsonderlik goed gedoen en niks minder nie as 25 eerbewyse op vanjaar se Safta-toekenningsaand by Sun City in Noordwes opgeraap.

Vrydag4uur, reisprogram op VIA, is as die beste werklikheidsreeks op die Suid-Afrikaanse rolprent- en televisietoekenningsaand (Saftas) aangewys terwyl KykNET se komedie Hotel as die beste komediereeks aangewys is. Boonop het die drama Bloedbroers skoonskip gemaak onder die goue horings en sewe opgeraap.

Volgens Karen Meiring, KykNET se kanaalhoof, is dit ongelooflik dat Afrikaanse TV so goed gevaar het, “omdat mense nie besef hoe hard mense in die bedryf werk nie”.

“Ek is veral bly oor die tekspryse wat KykNET se programme verower het omdat dit soveel aandag en moeite verg. Ons verfilm gewoonlik nie voordat ’n teks klaar geskryf is nie en dit begin nou vrugte afwerp.”

Karen Zoid, wat die kletsprogram Republiek van Zoid Afrika aanbied, het vir die tweede jaar agtereenvolgens as beste aanbieder weggestap.

Alti Fouché en Dirk Smit van Vrydag4uur het gesê hulle is besig om die vyfde reeks van die program, waar hulle met hul 1967-Volkswagen Kombi die land deurreis, te verfilm.

Fouché en Smit neem beeldmateriaal op, doen die klank en redigeer alles self.

“Wat ons aan die einde van die dag doen, is glorified home movies, want ons kom uit die bedryf uit. Ons weet hoe werk ’n kamera, klank en redigering. Ons ry rond en neem alles af en gaan huis toe en redigeer alles. Ons is net twee en het hier en daar mense wat met admin help, maar die coolste is dat ons oor tien jaar die TV sal kan aansit en home movies oor onsself kan kyk,” het Fouché gesê.

Daar is niks aansit in ons program nie. Wat jy sien, is hoe dit gebeur en dit maak dit spesiaal.
Dirk Smit

Smit het gesê die toekenning is sy en Fouché se harde werk wat uiteindelik vrugte afwerp.

“Daar is niks aansit in ons program nie. Wat jy sien, is hoe dit gebeur en dit maak dit spesiaal. Dit beteken baie. Die goue horing is die grootste eer wat ’n mens kan kry in rolprente en televisie in Suid-Afrika. Ek en Alti het dit gedoen. Toe hulle ons naam uitroep, het dit onwerklik gevoel,” het Smit gesê.

Volgens Niel van Deventer, beoordelaar in die vollengte-rolprent-kategorie op vanjaar se toekennings en vervaardiger van Dis ek, Anna, wat in 2016 aangewys is as die beste vollengte-rolprent, het die Safta-toekennings gewys Suid-Afrika se rolprentbedryf groei.

“Dit was goed om te sien dat ons uiteindelik by ’n plek kom waar die werk werklik op meriete beoordeel en beloon word en dit nie voel soos ’n verdeelde bedryf nie. Verlede jaar was Dis ek, Anna die enigste Afrikaanse rolprent wat in verskeie kategorieë benoem is en dit het gevoel of daar in die land op twee bedrywe gefokus word, naamlik die Afrikaanse ouens en dan die res. Dit was duidelik te bespeur in die feit dat jy bitter min van dieselfde mense op die Silwerskermfees en Saftas sou sien. Dit was wel wonderlik om te sien hoe die twee bedrywe oor die afgelope drie dae bymekaar kom tot op ’n punt waar dit voel of ons moontlik almal saam vorentoe kan beweeg,” het Van Deventer gesê.

Meer oor:  Karen Zoid  |  Saftas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.