Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Akteur gesels met andersoortige mense in podsendings

“Afrikaanse mense wat so ’n bietjie op die fringe is”, deel hul stories in die akteur Wilhelm van der Walt se podsendingreeks Wat gaan aan?

Dit het onlangs begin op The Castery, ’n platform wat uit verskeie podsendingreekse bestaan.

“Ek gesels met mense wat nie altyd ’n stem of ’n platform het nie,” sê Van der Walt.

Wilhelm van der Walt, aanbieder van die podsendingreeks ‘Wat gaan aan?’ Foto: Frantz Birkholtz

“Ek het ’n helse wenslys van mense met wie ek wil praat en tot dusver het ek met ’n satanis, ’n Mormoon, ’n sekswerker en ’n paranormal investigator gepraat. Ek praat Donderdag met ’n man wat magic mushroom-seremonies hou.”

Van der Walt is ’n groot aanhanger van podsendings.

“Wanneer ek draf of stap of skottelgoed was of in die kar ry, is daar altyd een aan. Een van my helde is Louis Theroux, ’n (Brits-Amerikaanse) dokumentêre rolprentmaker. Ek is absoluut gefassineerd – eerstens – deur hoe hy hierdie mense vind. En hoe hy dan sonder om te oordeel met ’n Jan Alleman-houding ’n onderhoud voer, dit outentiek hou en baie uit die onderwerp of gaste kry. So hy is definitief ’n inspirasie as jy na sy werk kyk.

“Ek het maar net aan hierdie onderwerpe gedink en op die internet begin soek.”

Die regisseur Gerhard Mostert, wat The Castery begin het, vervaardig Van der Walt se reeks.

‘Wat gaan aan?’ is ’n podsendingreeks deur Wilhelm van der Walt.

“Hy het in lockdown ook na ander avenues begin soek, en hy het ’n ateljee tot sy beskikking. Hy het die platform begin waarop mense hul podcasts kan deel. Dis amper soos ’n podcast-sambreel.”

Mostert het Van der Walt in Januarie genader om die podsendingreeks aan te bied.

“Daar is nie ’n wins nie, dit is heeltemal ’n passieprojek,” sê Van der Walt. “Maar dit is na aan my hart. Dit het ’n rukkie gevat. Ek het nie noodwendig baie in myself geglo of gedink ek het die vernuf om ’n random gesprek met iemand te voer nie.”

Hy het voorheen die kykNET-joernaalprogram Fiësta aangebied.

“Die feit dat ek al aangebied en voorgedra het, het gehelp dat ek dit uiteindelik met meer gemak kon doen (hoewel dit ’n rukkie gevat het) en die gaste ook op hul gemak gestel het, en dis baie belangrik.”

Wilhelm van der Walt Foto: Frantz Birkholtz

Hy ag homself baie dankbaar dat hy mense met die nodige tegniese kennis het wat met die reeks help.

“Ek is lucky. Ek kan nie hierdie gelukskoot beskryf nie. Hulle kan dinge uitsorteer as die pawpaw die fan strike. Ek kan ’n uur voor die mikrofoon sit en die job doen. Die satanis het baie gepraat, wat great was. Ons het ’n uur en ’n half gepraat en toe moes ons ophou, want die episode het te lank geraak. Ek wil dit regtig push tot waar ek kan.

“Die reeks kom uit my groot nuuskierigheid. Daar is soveel podcasts daar buite. Ek wou hê dat dit ’n bietjie uniek is. Ek maak maar net ’n podcast waarvan ek sal hou.”

Terwyl hy lanklaas op die verhoog was, doen hy stemwerk. Hy het onder meer die Afrikaanse oorklanking van die Oscar-bekroonde dokumentêre fliek My Octopus Teacher gedoen.

• Luister na die eerste episode op Spotify.

Meer oor:  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.