Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Bekroonde ‘Nêrens, Noord-Kaap’ word TV-reeks
Frans (Geon Nel), Ronnie (Albert Pretorius) en Andries (De Klerk Oelofse) in die dramareeks ‘Nêrens, Noord-Kaap’, wat op 31 Augustus op kykNET begin.

Hy het die bekroonde toneelstuk Nêrens, Noord-Kaap, wat handel oor pa’s en hul seuns, geskryf vir sy pa, wat in 2012 dood is.

En vreemd genoeg het hulle op 8 Maart, op sy pa se verjaarsdag, aan ’n televisiereeks van die drama begin verfilm.

“Dit het gevoel asof dit net reg is. Ek moet sê, dit is baie spesiaal en dit is asof alles uitgewerk het met die verfilming,” het Nico Scheepers, dramaturg en nou draaiboekskrywer en mederegisseur van dié kykNET-reeks gesê.

Nêrens, Noord-Kaap was een van die kunstefeesproduksies wat mense sedert 2017 aan die praat het. Speelvakke is gou uitverkoop. Dit is by die Vrystaat Kunstefees as die beste nasionale debuut bekroon en dit het die kykNET Fiësta-toekenning as beste ensemblewerk verower.

In skaars 60 minute het dié storie van drie vervreemde broers ’n blink geteerde pad sonder afdraaikans reguit na gehore se harte gebaan. Jy het trane van lag én huil afgevee.

Die dramareeks is verder uitgebou en bestaan uit 13 episodes van 48 minute elk en word vanaf 31 Augustus uitgesaa.

Frank Opperman is te sien as die patriarg Lourens Adendorff in die reeks ‘Nêrens, Noord-Kaap’.

Die akteurs Geon Nel, Albert Pretorius en De Klerk Oelofse is weer in die rolle te sien van die drie Adendorff-seuns van die plaas Nêrens in die Noord-Kaap. Frans, Ronnie en Andries sou later as volwassenes vervreemd raak van mekaar.

“Daar sou nie ’n reeks wees as ek nie weer daardie drie akteurs kon kry as my broers nie. Ek sou dit nie sonder hulle wou doen nie.”

Frank Opperman is te sien as hul kluisenaar-pa, Lourens Adendorff, en Tinarie van Wyk Loots as hul ma, Katja, wat twee dekades tevore in tragiese omstandighede dood is.

Volgens Scheepers kan kykers wat die toneelstuk gesien het, min of meer dieselfde storie verwag. Frans het agtergebly op die plaas; hy is ’n boer in murg en been. Ronnie, ’n swendelaar wat met harte speel in Kaapstad, het ’n kind. En Andries swerf asof sonder ’n anker die wêreld vol.

“Ek het die storie verdiep sodat dit handel oor drie generasies: die pa, die drie broers en die mense in hul lewens. Die basiese storielyn is dieselfde, met meer ontknopings, terugflitse en hordes nuwe karakters om die boeties se wêrelde aan te vul.

“Mense wat die toneelstuk gesien het, sal hopelik die atmosfeer, deernis en emosionele lading herken, maar op ’n nuwe reis geneem word om by bekende bestemmings uit te kom.”

Mense wat die toneelstuk gesien het, sal hopelik die atmosfeer, deernis en emosionele lading herken, maar op ’n nuwe reis geneem word om by bekende bestemmings uit te kom.

Die reeks is in en om die dorpie Niewoudtville in die Noord-Kaap verfilm en daar is ook dele in die Kaapse Skiereiland verfilm.

“Meer as die helfte van die gesigte in die reeks is heeltemal nuut. Baie is kinders. Ons het vier kinders wat groot rolle speel en hulle moes opgelei word.”

Hulle sou die reeks al in Junie verlede jaar geskiet het, maar dit is weens Covid-19 uitgestel. “Ek kon toe weer aan my teks werk; dit het naby 700 bladsye beslaan en ons het 10 maande vir rolplasing gehad. Dit voel vir my ons het die regte mense gekry.”

Van die nuwe karakters is Dean Balie as Nêrens se voorman en Ilse Klink is Maggie, wat die seuns help grootmaak het.

Dit is Scheepers se derde projek as regisseur en volg op die kortprente Die Maan Val Bewusteloos en Posbus 1. Hy word bygestaan deur die regisseur Johan Cronjé, bekend om die speelprente Wonderlus en Meisies wat Fluit.

Nêrens, Noord-Kaap begin op Dinsdag 31 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees. Die vervaardiger is Nagvlug Films.

Meer oor:  Kyknet  |  Nêrens Noord-Kaap  |  Nico Scheepers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.