Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Boelies kry ’n dwarsklap in solostuk

Boelies kry ’n dwarsklap in Klara van Wyk se solostuk You Suck (en ander afgryslike waarhede) wat Saterdag as deel van die Parys-kunstefees opgevoer word.

Klara van Wyk in You Suck (en ander afgryslike waarhede). Foto: Natalie Gabriels

Omdat boeliegedrag dikwels in die nuus is, is dit ’n goeie tyd om dit nou op te voer, meen Van Wyk. Sy bied dit ook dikwels by skole aan.

Dié stuk, met Francesco Nassimbeni as regisseur, is by die afgelope KKNK vir ’n Kanna vir beste debuutwerk benoem.

Die tienerkarakter Pretina de Jager wei ook uit oor ander aktuele tienerkwessies soos groepsdruk, verwerping en afknouery.

“Ek glo tieners kan hulle daarmee vereenselwig. Pretina is ’n eksentrieke tiener wat van ’n Afrikaanse skool na Engelse skool verskuif. Sy sukkel om haar voete te vind en sy is glad nie deel van die ‘A-groep’ nie.”

Van Wyk het die teks drie jaar gelede in Engels geskryf. Sy het dit met haar “boelietoer” vir ’n jaar lank by 50 skole aangebied. Prof. Marné Pienaar van die Universiteit van Johannesburg (UJ) het die teks in Afrikaans vertaal.

“Ek het dit dikwels al in Engels by Afrikaanse skole opgevoer. En dan voel dit eintlik of ek dit in Afrikaans moet doen. Ek was aanvanklik nie seker of dit die karakter of die humor is wat die storie dra nie, maar ek voel dit is goed om dit in Afrikaans ook te kan opvoer.”

Klara van Wyk in You Suck (en ander afgryslike waarhede). Foto: Natalie Gabriels

Pretina maak gebruik van hutsmerke, soos wat tieners dit dikwels gebruik en sy lewer kommentaar op talle maatskaplike kwessies.

“Oplaas verander die komedie in ’n tragedie,” sê Van Wyk, sonder om verder iets te verklap.

Sy is voorheen benoem vir ’n Fleur du Cap-teaterprys en was die wenner van ’n Standard Bank Ovation-prys by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad toe sy die stuk in Engels opgevoer het.

Van Wyk het teaterkuns aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) gestudeer en haar meestersgraad aan die Universiteit van Kaapstad (UK) verwerf. Tans doen sy haar doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Sy het ook opleiding in clowning by die Franse teaterpraktisyn Philippe Gaulier gekry.

* You Suck (en ander afgryslike waarhede) word Saterdag om 14:00 by die Egweni-gasteplaas aan die oewer van die Vaalrivier in Parys opgevoer. Dit het ’n ouderdomsbeperking van 12. Kaartjies kos R75 aanlyn en R100 by die deur.

Besoek parysartsfestival.nutickets.co.za om te bespreek.

Die fees maak Sondag klaar.

* Van Wyk voer die stuk ook van 9 tot 12 Mei in die Alexander Bar in Kaapstad op. Vertonings begin om 19:00 en kaartjies kos R80 aanlyn en R90 by die deur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.