Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
BritBox bied van Augustus voorste Britse TV-vermaak
Vicky McClure en Kelly Macdonald in die gewilde BritBox-reeks ‘Line of Duty’. Foto’s: Verskaf

Kykers wat gek is na Britse TV-reekse kan van vroeg Augustus hul sit kry vir die beste uit dié land.

BritBox bied eksklusiewe reekse soos Line of Duty (sesde seisoen), Professor T en Wedding of the Century, asook duisende ure se fuifkyk na klassieke reekse en gesinsgunstelinge.

Daar is dramas, komedies, dokumentêre, leefstylprogramme en moordraaisels, waarvoor Britse TV so bekend is. Die reekse wemel boonop van akteurs wat gereeld toppryse soos Baftas, Emmys en Oscars ontvang.

Luidens die mediaverklaring sal Suid-Afrikaners die slotseisoen van die polisiedrama Line of Duty te sien kry, ’n reeks wat met sy 15 miljoen kykers die meeste tot nog toe die afgelope eeu gelok het.

‘The Larkins’ met Brad Walsh (inlas) op BritBox is ’n aangepaste weergawe van die geliefde ‘Darling Buds of May’.

Kelly Macdonald (Trainspotting, The Victim, Boardwalk Empire) is in die rol van die ondersoekbeampte Joanne Davidson, wat met haar onkonvensionele gedrag die oë laat rek in die teenkorrupsie-eenheid.

Die stryd om korrupte polisiemanne aan die kaak te stel is vol kinkels en naelbyt-oomblikke, terwyl die ondersoekers terselfdertyd ’n stryd teen hul eie duiwels voer.

Professor T is ’n misdaaddrama en ook onder die gewildste reekse. Ben Miller van Death in Paradise-faam verskyn as prof. Jason Tempest, ’n briljante maar onortodokse kriminoloog wie se hulp met ’n uitdagende saak nodig is. Sy neuroses maak dit egter vir hom moeilik om te fokus.

’n Uitsending van Wedding of the Century, prins Charles en prinses Diana se huwelikseremonie in 1981, plus onderhoude met sleutelpersone agter die skerms, kan nou in hoë definisie gekyk word.

Splinternuwe BritBox-reekse sluit in Annika met Nicola Walker, Deadwater Fell met David Tennant en The Larkins met Bradley Walsh.

Ook te sien is Michael Apted se veelbekroonde dokumentêr Up, van Seven Up in 1964 tot die onlangse 63 Up, asook nuwe seisoene van die bestaande reekse Manhunt met Martin Clunes, Unforgotten, Endeavour, Vera, Grantchester en The Syndicate.

Ben Miller as die onortodokse kriminoloog in ‘Professor T’.

Voornemende kykers kry sewe dae gratis toegang om te besluit of hulle op BritBox wil inteken. Dit kos R99,99 per maand of R999,99 vir 12 maande.

Dié diens sal vanaf 6 Augustus op die webwerf BritBox.com in Suid-Afrika beskikbaar wees.

Meer oor:  Televisie  |  Britbox  |  Augustus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.