Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Caltex het nooit ophou skep, maar ook nooit geraas gemaak
Caltex Omega

Die Stellenbosse digter, skrywer, musikant en liedjieskrywer Caltex Omega is oorlede. Die skrywer en akteur Sjaka S. Septembir huldig sy vriend.

Ek kry Saterdag die WhatsApp: Caltex Omega is oorlede. Kanker.

Wie de hel was Caltex Omega? Wie was dié swartskaap van Stellenbosch?

Wie nie raas nie, vind nie plaas nie, was een van die vele oneline-wyshede wat dié buiteperd van die Afrikaanse letterkunde kwytgeraak het (of was hy soos Liewe Heksie se perd Griet, die onsigbare perd van Afrikaanse letterkunde?).

Kom ons kyk na nog een van sy Zen-skeppings: Gee hul punk en hul vat jou hele hond. Dit dui op die uitdrukking gee hul die pinkie dan vat hulle die hele hand. Terselfdertyd verwys dit na punk, na bands – in dié konteks veral bands wat in die jare 1990’s in Stellenbosch skielik geblom het – en wat ná ’n sweempie kitsroem (in daai tyd ’n gig by Oppikoppi of Wingerdstok) grootkop gekry het. Eensklaps sien daai ouens in die band, met wie jy pêlle was, jou nie meer raak nie. Kruisbestuif die idee met die hond is die mens se beste vriend. Kyk nou weer na die Caltex-sêding: Gee hul punk en hul vat jou hele hond.

ekkitgegrens

ekkitgetjankmetelkemens

watmyverlaathethardebitter

insanetrane

gentlestilgeneuriedetraneangry

woedendevuurspuwendetranewat

gushvandieoësoosdoringdraad

dronktranemoeëtrane

ja

ekkitgegrens

- Caltex Omega, uit die digbundel aPôdiStra, 1999

Ons sal ewig wag op die roman wat sou volg op Iedergeval. Ons het stukkies van die roman gesien, gelees, beleef van sy lippe af, daar was selfs ’n titel: Slegs die honde weet daarvan

Nou blyk dit al wat oorbly is ons stories – soos stories wat vissermanne vertel van die groot vis wat weggekom het, so sal ons praat oor die groot songs, die groot gedigte, die groot roman wat Caltex besig was om te skryf. Dalk was dit reeds voltooi en het dit iewers in ’n sak agtergebly, in ’n kamer waar hy vir ’n tydjie gebly het …

By Caltex, of Alex, of Alexander, of Oupaskedelwiel – wie weet hoeveel skuilname hy gehad het – se hartseer bestaan hoef ’n mens nie nog lepels smart te roer nie.

Wie nie raas nie vind nie plaas nie, is gepas vir die man met die skerp blou oë en die sagte stem. Gepas, want hier praat hy met ons wat so gemaklik leef in dié tyd waarin ons onbenullig raas op ons Facebook-blaaie, Instagram en dies meer. As jy nie raas nie, bestaan jy nie. Kyk self hoe die media se aandag dadelik getrek word na iets of iemand wat raas.

Dis asof Caltex homself nooit sover kon kry om te raas nie. Die afgelope paar jaar het ek hom deurgaans gegoogle. Caltex Omega lewer niks op nie. Ander mense, nie hy nie. Niks. Geen foto’s geen artikels. Oupaskedelwiel. Niks. Alex van Zyl. Ander gesigte, nie syne nie. Ná ’n gesoek op YouTube, kry ek een song wat sy meisie in 2011 geplaas het. Hy is onsigbaar op die internet en as jy in dié tyd buite die net bestaan, bestaan jy nie.

Was hy hier, of was hy net ’n versinsel van ons verbeelding. As bewysstukke hou ek in my hande ’n verskeidenheid selfgepubliseerde bundels en ’n roman. Daar is ook selfgepubliseerde CD’s wat ek al van die laat 1990’s af koester.

Ek haal soms vir Caltex aan as ek skryf en ek luister sy musiek saam met dié van Leonard Cohen. Hy het ’n duidelike merk op my skeppingswerk gelos.

As jy hom ontmoet het, sou dit seker iewers wees waar hy vir jou wyn bedien het of waar hy jou gehelp het om ’n video uit te soek. Sy naambordjie sou lees: Alex van Zyl. Sy hele lewe lank was hy ’n toonbankklerk, ’n Jan Alleman, nes Kafka wat sy lewe lank by ’n biblioteek gewerk het, of Bukowski by die poskantoor. Hy het taamlik plain aangetrek. Behalwe vir daai stadium waarin hy altyd in swart geklee was met ’n T-hemp wat lees “I’ll stop wearing black when they invent a darker colour”.

Alex van Zyl het in Porselynnkas – die literêre kunsbeweging wat in die laat 90’s in Stellenbosch ontstaan het – vir die eerste keer sy voete as kunstenaar en liedjieboer gevind.

Sy eerste bundel, Impondrobilia, het in 1997 verskyn en hy het gereeld (onder vele skuilname) vir die Porselynnkas se koerantjie, Die Porselynnkassëel, geskryf. Hy kry die naam Caltex (ook gespel as Kaltex) Omega, neem deel aan hul happenings en speel gereeld by hul opvoerings kitaar en sing.

Dis hoe ek Caltex leer ken het. Stil, maar wanneer hy wel gepraat het, kon ’n mens maar luister.

In die 1990’s het hy bedags op ’n wynplaas aan toeriste wyn bedien, maar saans het hy soos ’n Doctor Jekyl and Mister Hyde ontaard en was dit hy, sy kitaar en sy snydende lirieke. Sosiale kommentaar, of andersins het sy skaduklanke die onderwerp van liefde verlig, soos die ballade;

bel jou oor die foon

vieruur in die oggend is niks ongewoon

net om te sien of jy droom

net om te sê ek hoop jou dag sploshle met madeliefies

net om te sê ek hoop jou lewe proe na chocolate

net om te sê ek mis jou soos nikotien

net om te sê dankie, en miskien

is ek lief vir jou

- Caltex Omega, uitreksel uit die lied “madeliefie”, 2003

Sy roman Iedergeval is ’n Kafkaesque blik op ’n klein dorpie soos Stellenbosch en op ’n speelse manier lig hy die onderliggende vrot wat onder die glans van die dorp skuil, uit. Hy wys vir ons die keisers van die dorp het nie klere nie. Sy werk is ook fyn borduur met humor.

Sy roman Iedergeval is ’n Kafkaesque blik op ’n klein dorpie soos Stellenbosch en op ’n speelse manier lig hy die onderliggende vrot wat onder die glans van die dorp skuil, uit. Hy wys vir ons die keisers van die dorp het nie klere nie. Sy werk is ook fyn borduur met humor. Hier volg die openingsparagraaf van Iedergeval:

“Die mank skisofreen agtervolg homself ongemerk deur die stil strate van ’n klein Bolandse dorpie op ’n Vrydagmiddag oor daar niks anders is om te doen nie, behalwe om jouself te agtervolg . . . goddank dan ook vir gesplete persoonlikhede, want daarsonder sou sy lewe vaal, saai, eentonig – betekenisloos selfs – wees & dit sou moeilik gewees het om homself te agtervolg, moenie vergeet nie! ’n Persoonlikheid kan ’n man besig hou. Veral as jy meer as een het.

Maar gelukkig het hy!

Meer as een bedoel ek, & hulle is niks as hulle nie ’n handvol is nie.”

– Caltex Omega, Iedergeval, 2003 FENOMEEN Uitgewers

Ek ag Caltex Omega belangrik bo net skryf en musiek, want hy het op sy stil manier in Stellenbosch (en vir die Afrikaner) as ? scapegoat opgetree. Hy het die rol, wat Jung as die Scapegoat beskryf, aangeneem.

“there must be some people who behave in the wrong way; they act as scapegoats and objects of interest for the normal ones”.

Caltex het altyd die skadukant belig en dit het dalk op die ou end te veel geraak vir die sensitiewe siel, want in 2004 het hy ’n ineenstorting gehad. Vyf jaar later het hy weer te voorskyn gekom. Hy het die nie-Woordfees-fees gereël by De Eike, maar toe ek hom daar gaan soek, was hy – die organiseerder – missing.

Matthew Kalil het die Porselynnkas verfilm en op dae waarop ons met Caltex ’n onderhoud sou voer, was hy weg. Daar was ná 2010 nog Caltex Omega-tapes en CD’s met nuwe musiek, nog sketse, nog skryfstukke en toe verdwyn hy weer van die radar af.

Tussen die ou lede van Porselynnkas was daar bespiegelinge oor wanneer die volgende roman gepubliseer gaan word, of aan watter nuwe album werk hy? Caltex Omega inspireer want hy is iemand wat ondanks alles, nooit ophou skep nie.

Toe kom die WhatsApp deur: Caltex Omega is oorlede, Kanker.

*Soek na die Porselynnkas-dokkie op YouTube.

Caltex Omega 10 Januarie 1973 - 4 Julie 2021

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.