Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Chris Majiedt ‘kon radio aanvoel’

Die akteur Chris Majiedt (67), wat Donderdag aan longkanker dood is, “kon radio aanvoel”.

So sê Eben Cruywagen, regisseur van Slang in die gras, die drama waarmee Majiedt in 2013 die tweede prys in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie gewen het.

Albert Maritz, Chris Majiedt en André Terblanche in die radio-ateljee.

“Ek het eintlik toevallig op hom afgekom,” sê Cruywagen.

“Ek het hom gevra of hy met die opvoering daarvan enige akteurs in gedagte het, want die teks het baie tronktaal. Hy sê toe hy wil graag Slang, die hoofkarakter, vertolk. Ek het so ’n bietjie geskrik. Maar ek het dit toe gewaag en hy was briljant daarin.”

Cruywagen loof sy werksetiek.

“Hy het geweet waar die klem lê en selfs ’n studie van die karakters gedoen wat hy nie gespeel het nie. Die jong en nuwe spelers het nogal opgelet na hoe hy te werk gaan. Hy was altyd so stil, maar hy het ’n baie positiewe energie na die ateljee gebring.”

Majiedt het in Citrusdal gewoon en altyd na die SAUK in Seepunt, Kaapstad, gereis om radiowerk te doen.

“Ek is dankbaar dat hy nie lank bewustelik siek was nie,” sê Cruywagen. “Hy was uiteindelik net sewe jaar op radio, maar dit was ’n kraglopie wat hy afgelê het.”

"Wat Willem de la Querra vir Faan se trein gedoen het, het Chris Majiedt vir Gert Garries gedoen."

Hy was onder meer te hoor in Adam Small se drama Maria, moeder van God, die middagvervolgverhaal Laat vrugte en Gert Garries: ’n Baasiekel-blues.

Voordat sy stem op radio was, het Majiedt in flieks soos Jakhalsdans en ’n Saak van geloof en die mini-reeks Riemvasmaak verskyn.

Die akteur Albert Maritz het Majiedt sowat 20 jaar gelede in Bellville ontmoet.

“Ek dink dit was in 2001.”

Majiedt het sy toneelstuk Dis alweer die bure net vir Maritz opgevoer, waarvan hy ook die regie gedoen het.

“Nie lank daarna nie, is hy, asof gestuur, die saggeaarde visserman in my verwerking van Die ander Marta – eers vir leesteater in die Baxter, en later in ’n volwaardige opvoering op die KKNK. Sy effense gravel-stem het die karakter pragtig gepas. Chris was dankbaar vir die geleentheid, maar had ’n baie hoë premie op standaarde.”

Chris Majiedt

In Jakhalsdans, waarvan Deon Meyer die draaiboek geskryf het en Darrell Roodt die regisseur was, het hy die skoolhoof vertolk.

Maritz skryf op Facebook: “Neil Sandilands bel van Loxton se wêreld af. Wie cast hulle as die bruin skoolhoof in Jakhalsdans? Ek stel Chris voor. ‘Hoe toets ons hom?’ ‘Jy toets hom nie,’ reken ek. ‘Jy stel hom net aan. Hy is briljant.’ ”

Hy was voorheen getroud, maar sy vrou is dood.

Majiedt het ook in die fliek Lenteblom verskyn.

“Chris, met sy grinterige stem, vertolk die rol van ’n dwars en dowe omie wat niks van MIV/vigs wil hoor nie,” skryf Maritz.

Margaret Goldsmid, vevaardiger van Riemvasmaak en haar man, Peter, regisseur van skrywer, het in 2007 sonder om te huiwer die rol van Jan Allemans aan Majiedt gegee.

Hy het die pa van die hoofkarakter, Jaco Allemans, vertolk.

Riemvasmaak handel oor ’n gemeenskap wat tydens apartheid uitmekaar geskeur is deurdat die owerhede hulle van hulle geboortegrond af gedwing het, sê Margaret.

“Die storie was baie na aan Chris se hart en ‘n mens kon dit in sy intense en subtiele vertolking sien. Hy het empatie, kompleksiteit en emosionele diepte tot die karakter gebring; daarmee het hy grootliks bygedra tot die sukses van die reeks. Ons het dit ook baie geniet om met hom saam te werk. Hy was ’n uiters professionele akteur en ’n aangename teenwoordigheid op stel.  Sy afsterwe is ’n groot verlies vir die bedryf.”

Die RSG-omroeper Johan Rademan het Madjiet die eerste keer op die verhoog opgemerk.

“Maar hy het so ontwikkel as radiospeler dat ek dink dit uiteindelik sy nis was,” sê Rademan, regisseur van Maria, moeder van God en Gert Garries: ’n Baasiekel-blues.

“Hy het hom ingeleef in Gert Garries. Met sy sensitiwiteit vir die omgewing en die situasie in Suid-Afrika kon hy dit goed weergee.”

Cruywagen het dié drama deur Pieter Fourie vir radio verwerk. Fourie het die Hertzogprys daarvoor gewen.

“Chris het vir sy spel in die radioverwerking groot lof van Pieter Fourie gekry,” sê Rademan.

“Hy het gesê wat Willem de la Querra vir Faan se trein (ook ’n stuk deur Fourie) gedoen het, het Chris Majiedt vir Gert Garries gedoen. Pieter het selfs gesê hy wil ’n toneelstuk met Chris in gedagte skryf. Jy weet, ’n karakter wat beplan word rondom Chris se eienskappe as speler. So het sy radiospel ’n wasdom bereik. Hy het beslis die oog getref.”

Hy word oorleef deur sy vriendin, Anna Pieters, en sy suster, Nora Smit.

“Mag sy siel in vrede rus,” skryf Maritz op Facebook. “Mag iemand met seggenskap oor die baie breë snelweg tog eendag onthou van Chris se tekste en wonderlike woorde, en sy werke iewers tot hul reg laat kom. Maar dit sal doen vat. Want hy het geweet, juis vanweë die paadjies, en omdat dit in sy bloed was, meer as die meeste, hoe dit moes werk. Soos die Here wil.”

Meer oor:  Pieter Fourie  |  Chris Majiedt  |  Eben Cruywagen  |  Albert Maritz  |  Johan Rademan  |  Radio  |  Verhoog  |  Teater  |  Flieks  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.