Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Covid-19 kelder kunste in Kaap

Die Covid-19-pandemie het benewens talle nywerhede en bedrywe ook die kunste in Kaapstad ’n harde knou gegee. Christiaan Boonzaier het met rolspelers en kunstenaars oor die impak daarvan gesels.

Louis Heyneman, uitvoerende hoof van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, sê die Covid-19-pandemie het die orkes in ’n kontantvloei-krisis gedompel.

Die kunste in Kaapstad is van hoek tot kant deur die Covid-19-pandemie platgetrek – en kunstenaars is dit eens hulle weet nie hoe hulle gaan herstel nie.

Nadat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op 14 Maart amptelik afgestel is, het die virus ’n domino-effek ontketen wat ook die negende Kaapstadse Internasionale Animasiefees, die 21ste Kaapstadse Internasionale Jazzfees én die Suidoosterfees tot stilstand gedwing het.

Daarby moes die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO), die Kaapstadse Stadsballet en Kaapstad Opera (KO) vertonings af- of uitstel.

Die Baxter-teater, Die Boer-teaterrestaurant, die Courtyard Playhouse, die Fugard-teater, die Kalkbaai-teaterrestaurant, die Kunstekaap, die Masque-teater, Evita se Perron, Gate69 en Theatre on the Bay moes ook hul deure tydelik sluit.

Die ATKV het ook talle van sy projekte – onder meer die Tienertoneel-, Applous- en Rieldanskompetisie – afgestel.

“Dit is vir ons ’n groot finansiële slag en plaas ons in ’n kontantvloei-krisis,” sê Louis Heyneman, KFO-hoof.

“Ons het geen ander opsie gehad as om die orkes onmiddellik op verlof te stuur en die musici te versoek om hul verlof, wat vir Desember beplan is, met hierdie gedwonge verlof om te ruil nie.”

As die Kaapstad-metro nie teen 23 April die Kaapstadse stadsaal heropen nie, sal ons die (KFO se) herfs-simfonieseisoen ook moet kanselleer.”
Louis Heyneman, KFO-hoof

Heyneman sê die KFO se Duet-galakonsert én ’n vertoning van die Beethoven-opera Fidelio, albei saam met die KO, is vir eers van die baan. Agt konserte by skole in die Skiereiland is ook afgestel – ook ’n vertoning van die ballet Swanemeer saam met die St. Petersburg-ballet.

“As ons dit regkry om die verlore produksies voor die einde van die jaar te herskeduleer, kan ons die finansiële impak effens versag,” sê hy.

“Ongelukkig kan die St. Petersburg-ballet weens ander verpligtinge eers in Mei aanstaande jaar terugkeer.

“Persoonlik is ek bang dat sosiale distansiëring heelwat langer kan aanhou as wat almal verwag en dat die ergste nie teen Paasnaweek verby sal wees nie. As die Kaapstad-metro nie teen 23 April die Kaapstadse stadsaal heropen nie, sal ons die (KFO se) herfs-simfonieseisoen ook moet kanselleer.”

Heyneman sê regstreekse internet-konserte is oorweeg.

“ ‘Gehoorlose’ konserte is ’n wonderlike idee om solidariteit met musici en gehore te toon. Ongelukkig kos dit baie geld en sonder ’n spesiale borg help dit ons nie uit ons finansiële verknorsing nie.”

Tiffany Schultz sê sy en haar man, Kemsley Dickinson, moes reeds personeel by die Courtyard Playhouse aflê. Foto: Argief

Tiffany Schultz, mede-eienaar van die Courtyard Playhouse in Kaapstad én Dubai, sê sy en haar span ervaar ’n “baie, baie rowwe tyd”.

“Ons nood is baie hoog. Ons hoop om met ons verhuurder te gesels en ’n ooreenkoms oor ons huur te bereik. Ons probeer ons koste erg besnoei – en ons moes personeel aflê.

“Ons is toe, daar is nie werk nie, en ons kan nie die betaling van werknemers dra sonder ’n inkomste nie.”

Die teater in die Kaapse middestad het ook onlangs onder ’n dief deurgeloop, sê sy.

“Terwyl ons besig was om skoon te maak, het iemand by die teater ingeloop en ’n skootrekenaar gesteel.

“So ja, dit is ’n moeilike tyd vir ons, maar ons verbind onsself tot en is baie passievol oor die teater, en ons gaan doen wat ons kan om te verseker dat die teater se deure weer kan oopswaai wanneer hierdie krisis verby is.”

Margit Meyer-Rödenbeck, mede-eienaar van Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville, sê die teater se kalender is ook skielik leeg, nadat vertonings deur Schalk Bezuidenhout, Adam Tas, Je-ani Swiegelaar, Germandt Geldenhuys, die fopdosser Lilly Slaptsilly, Joe Foster, Luna Paige, Dowwe Dolla, Pietman Geldenhuys, aKING en Jan Blohm af- of uitgestel moes word.

“Ons voel dit aan ons sakke – en sommer baie erg, nie net op kunstenaarsvlak nie, maar ook op restaurantvlak met personeel, ’n perseel en onkoste wat voortgaan,” sê Meyer-Rödenbeck.

“Het ons antwoorde? Nee, almal is onseker en weet nie wanneer dinge na ‘normaal’ gaan terugkeer nie – wat ook al die nuwe ‘normaal’ sal wees.”

Sy sê sy is ook besig om die regstreekse stroom van vertonings te ondersoek, maar is besig met “herskedulering, terugbetaling en kommunikasie met al die betrokke partye. Baie mense laat hul kaartjiegeld oorstaan vir later in die jaar, maar ontsettend baie mense vat ook hul geld terug, want hulle is bang,” sê sy.

Margit Meyer-Rödenbeck
Margit Meyer-Rödenbeck. Foto: Robert A. Hamblin

“Ons glo ons gaan op 15 April weer oopmaak, maar as ek realisties kan wees: As almal nie by die huis gaan bly en sosiale distansiëring gaan toepas nie, gaan dit (die virus) nie so vinnig oor en verby wees nie.”

Sy sê sy weet nie wat hulle gaan doen as hulle nie op 15 April weer kan oopmaak nie.

“Ek dink nie ons kan dit (onkoste en salarisse) nog dra nie. Ons gaan alles probeer om die deure oop te hou, want ek kan andersins nie my personeel verder betaal nie – en dan het hulle geen heenkome nie.

“Ek sit met die maatskappy wat my mensehulpbronne behartig en wag dat hulle vir my UIF-vorms vir my kelners stuur. Ek probeer voorbereid wees vir in geval ons nog ’n maand moet toe wees, maar op hierdie stadium is ons, soos die kinders sê, dapper muise.

“Sodra dit sinvol is om weer oop te maak, wil ons weer soos altyd teater en magic bring wat mense wegvoer, want dit is só belangrik.”

Die legendariese teaterskepper Pieter-Dirk Uys sê ons beleef nou die wetenskapfiksie- en gruwelrolprent waarin almal “behalwe Bruce Willis, natuurlik” weens ’n virus omkom.

“Warm fantasie word nou koue werklikheid,” sê hy. “En hierdie nagmerrie beteken daar is amper niks wat ons daaraan kan doen nie.

“My Darling-teater is toe. My geliefde gehoor sit by die huis. Die daaglikse nuus is negatief en die paniek steek aan. Die rumoer op sosiale media is soos die slegste sepie wat ons nie kan afskakel nie. Wat om nou te doen?”

(...) hierdie nagmerrie beteken daar is amper niks wat ons daaraan kan doen nie.
Pieter-Dirk Uys

Uys sê hy gee nie eintlik raad nie.

“Ek gee net hoop – en die feit dat daar altyd lig aan die einde van ’n tonnel sal wees. Die probleem is net hierdie tonnel gaan om ’n helse draai.

“Die belangrikste van alles is energie: Neem dit dag vir dag. Oormôre kom, maar môre is meer belangrik en vandag is noodsaaklik.”

* Netwerk24 het ’n navraag oor moontlike noodfondse of -planne ter ondersteuning van die kunste aan Nathi Mthethwa, die nasionale minister van sport, kuns en kultuur, gerig. Die navraag, wat via sy woordvoerder, Masechaba Ndlovu, ingedien is, is nog onbeantwoord.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.