Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
‘Dankie vir ’n leeftyd se waardering vir klassieke musiek, Eric’

Die dirigent Eric Rycroft se dood op 28 Julie het Katinka Schumann, suster van die pianis Nina Schumann, teruggevoer na die jare toe hy nie net haar leermeester was nie, maar ook ’n liefde vir klassieke musiek by haar gekweek het.

Hier is haar huldeblyk aan Rycroft.

Tweede van regs is Katinka Schumann. Haar susters Nina Schumann is tweede van links en Ilse Schumann is voor die klavier. Ilse is drie jaar gelede oorlede.

“Ek was nooit veel van ’n musikus nie, maar het net genoeg geoefen sodat ek die voorreg kon hê om in ’n simfonieorkes te speel.

Eric se ateljee op Stellenbosch se mure was van die dak tot die vloer vol handgeskrewe plakkate van al die konserte waarvan hy deel was. Daar was ook ’n groot spieël wat seker nodig was om seker te maak ons postuur is korrek, maar as tiener was dit vir my belangriker om in die spieël te kyk of my hare netjies is ná die fietsrit van ons huis tot by sy ateljee.

Eric Rycroft, wat vroeër vandeesweek oorlede is.

Aangesien Eric se orkes altyd ’n tekort aan altvioliste gehad het, het hy my en Nina (Schumann) van viool tot altviool bekeer, met die verskoning dat ons hande te groot was vir die delikate viool. Ek het nie omgegee nie, want ek het geen ambisie gehad om ’n eerste violis te word nie.

Ek het steeds die bladmusiek met sy potloodinskrywings en sal nooit vergeet nie hoe hy my eendag uit desperaatheid gestop en gesug het: ‘Was jy nog nooit verlief nie? Jy moet met meer emosie speel.’ ’n Ongemaklike stilte het gevolg.

Kort daarna het hy gesê ek en Nina is gereed om in die Universiteit Stellenbosch se simfonieorkes te speel, waarvan hy die groter as lewensgroot dirigent was. Ek het gou besef dit was super cool om ’n klassieke musiekinstrument te bespeel en sowat ’n dekade daarna het ek steeds in sy orkeste saam met uitmuntende soliste gespeel. Ek onthou ons het eenkeer in die Oude Libertas-buitelugteater opgetree toe dit begin reën en Eric net voortgegaan het met dirigeer.

Hy was in elk geval altyd sopnat gesweet ná ’n konsert, maar het altyd breed geglimlag en was die eerste om ’n bottel wyn op die partytjie agterna oop te maak. Sy energievlakke was stratosferies en sy sjarme onoortreflik.

Dankie dat jy nooit opgegee het met my nie, dat jy my deur my tienerjare aangemoedig het om voort te gaan met altviool en vir die geskenk om in Beethoven se Simfonie nr. 5 te kon speel, omgewe van die massiewe klank van 99 ander spelers. Ek mis daardie dae.

Al kan ek nog net ’n gemiddelde weergawe van Telemann se altvioolconcerto lewer, moet ek Eric bedank vir ’n leeftyd se waardering vir klassieke musiek. Rus in vrede, Eric Rycroft.”

Meer oor:  Musiek  |  Eric Rycroft
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.