Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
‘Dead to Me’ gee donker komedie lewe
Die sterre van die Netflix-treffer Dead to Me, Christina Applegate (links) en Linda Cardellini, in hul noppies nadat die reeks vir ’n tweede seisoen hernu is. Foto: Twitter

TV-reekse word deesdae teen ’n stinkspoed vervaardig. Dit voel veral op Netflix asof jy ná die slot van die een reeks nie kan asem skep voordat jy met twee nuwe reekse bedien word nie. Wanneer jy hulle ook kafgedraf het, is nog vier beskikbaar, en so duur die snelle pas voort.

Dis ’n hidra, as sulks. (Hidra is ’n byna onsterflike waterslang in die Griekse mitologie. Wanneer sy kop afgekap is, het dit twee koppe gespruit. Wanneer dié ook gewaai het, het dit weer vermenigvuldig.)

Hoe besluit ’n mens dan waarin jy jou tyd gaan belê? Die vinnigste is om net ’n skoot in die donker met jou afstandbeheerder af te trek, en as jy gelukkig is, tref jy soos ek die donker komedie Dead to Me met ’n kolskoot. Netflix het dit pas ’n tweede seisoen hernu.

Die reeks stel die kyker bekend aan Jen (Christina Applegate), ’n eiendomsagent en ma, wie se man gaan draf het en in ’n tref-en-trap-ongeluk dood is. Sy is gebroke, maar moet haar pyn opsyskuif om by die werk uit te styg en haar voete as enkelouer te vind. Tussendeur probeer sy ook die motoris opspoor wat haar man doodgery het.

Sy ontmoet Judy (Linda Cardellini) by ’n ondersteuningsgroep vir mense wat geliefdes aan die dood afgestaan het. Judy se man is kort tevore aan ’n hartaanval dood, en wanneer die vroue hul pyn deel, raak hulle steunpilare vir mekaar. Op die ingewing van die oomblik nooi Jen vir Judy om by haar en haar twee seuns in te trek.

Maar Judy, tereg ’n vreemdeling vir Jen, het ’n hele paar donker geheime. Sy laat die kyker aanvanklik nie toe om in haar kaarte te kyk nie, maar namate haar vriendskap met Jen versterk, ontbloot sy hulle een vir een. Soos die reeks ontvou, werp Jen lig op ’n stel geheime van haar eie – en saam bied dit tien boeiende episodes, wat byna elk spanningsvol eindig.

Suid-Afrikaners sal Applegate onthou as die loskop Kelly Bundy in Married… with Children, wat onder meer in die laat 90’s en vroeë 2000’s op M-Net se oopkyktyd te sien was, maar moenie ’n soortgelyke vertolking verwag nie. Applegate het die komedierolle waarvoor sy so bekend is, afgeskud en haarself omvorm in ’n veelsydige akteur wat nie van rou emosie wegskram nie. Sy sal pryse vir dié rol inryg.

Moet ook nie geïntimideer wees deur die reeks se beskrywing as ’n donker komedie nie – dit is deels ’n wanklassifikasie. Dead to Me is ’n drama wat oor genres heen dobber en nie die humor in hartseer tye ontken nie. Terwyl dit jou ’n binnekykie gee in ’n weduwee se rou en jou daarmee saam plek-plek laat lag, sal dit jou ook dwing om weer te dink oor verlies en meer daaroor te praat.

Want ons doen dit nie – en ons moet.

* Dead to Me is op Netflix in Suid-Afrika beskikbaar. Die ouderdomsperk is 16.

Meer oor:  Televisiereeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.