Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Dié mense wen Taalraad se Koker-pryse

’n Voormalige taalaktivis en lid van die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie, ’n voorloper in die Maleierkoortradisie en ’n innoverende spesialis in tolkdienste is van die wenners in vanjaar se Koker-pryse wat deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) toegeken word.

Dié pryse gee erkenning aan mense se bydraes tot die bevordering en beskerming van Afrikaans, asook praktiese bemagtiging deur die taal.

Dr. Danny Titus

Dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR, sê die wenners verteenwoordig die diverse gesig van Afrikaans.

“Die verskeidenheid wenners is iets wat werklik organies gebeur het. Dit wys hoe moeilik dit is om ons Afrikaanse huis in afgesonderlike kamertjies op te deel. Afrikaans verbind die taal se sprekers en is die som van die variasie in die mond van die sprekers. En onderliggend aan alles is die idee dat Afrikaans nie eenkant op ’n mishoop sit nie, maar aktief met die sprekers van die ander inheemse tale saamwerk.”

Vanjaar se wenners is:

• Zebulon Kock (digtersnaam: Zebulon Kochk) (19) van Charleston Hill Sekondêr in Paarl-Oos. Hy wen ’n Jeugkoker-prys.

Hy het homself met sy woordvaardigheid en lewensinsig verhef bo omstandighede waarin hy grootgeword het. Hy is aktief betrokke by Afrikaanse digtersgroepe. Van sy gedigte is in versamelbundels opgeneem en LitNet het hom aangewys as een van die top-tien nuwe skrywers. Hy werk ook aan sy eie digbundel. Hy het verlede jaar die Afries-jeuggroep by sy skool gestig om Afrikaans te bevorder. Hy spoor die jeug aan om vreesloos Afrikaans te wees en hul drome in hul moedertaal uit te leef.

• Zalman S. Davis, wat ook ’n Jeugkoker-prys kry, is eintlik Engelssprekend, maar het ’n besondere voorliefde vir Afrikaans. Op 23 het hy reeds bekendheid verwerf as die land se jongste uitgewer (Minimal Press) van hoofsaaklik Afrikaanse boeke. Sy liefde vir Afrikaans blyk daaruit dat hy as jong uitgewer eiehandig verskeie kompetisies vir opkomende skrywers en digters aangebied het. Die jongste hiervan is die Chris Barnard-kortverhaalprys in samewerking met die rolprentregisseur Katinka Heyns, en die Ingrid Jonker L’Art Poétique-digkompetisie.

Zalman S. Davis

• Constance Thomas, ook ’n Jeugkoker-wenner, is ’n onderwysstudent aan die Sol Plaatje-universiteit in Kimberley. Sy spesialiseer in tale en haar passie vir Afrikaans het haar geïnspireer om ekstra lesse in Afrikaanse taal- en letterkunde vir medestudente in haar vrye tyd aan te bied. Sy het ook saam met hulle ’n boekklub begin waaraan sprekers van vyf moedertale deelneem. Sy dra haar liefde vir Afrikaans “soos ’n baba wat graag die wêreld omhels”.

• Dr. Danny Titus, bekende menseregte- en taalaktivis wat vroeër vanjaar dood is, ontvang postuum ’n prys vir sy rol in die beskerming van Afrikaans. Titus was juris, regsdosent, lid van die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie asook van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. Hy het ’n onberekenbare bydrae gelewer tot die erkenning en beskerming van die taal- en kultuurregte van Suid-Afrikaanse mense in die breë en die Afrikaanse taalgemeenskap in die besonder. Titus het aktief deelgeneem aan die stigting van die Taalraad en was deel van die organisasie se eerste direksie.

• Prof. Ena Jansen ontvang ’n prys vir die bevordering van Afrikaans. Sy het Afrikaans tussen 2002 en 2017 as “bijzonder hoogleraar” aan die Universiteit van Amsterdam bevorder en die taal só in ’n breër konteks geplaas. Jansen het verskeie nagraadse studente in hul navorsing oor Suid-Afrikaanse kultuur en spesifiek Afrikaanse literatuur begelei en was ’n belangrike verteenwoordiger van die (Suid-)Afrikaanse lettere op internasionale byeenkomste.

Ena JansenFoto: Corina van der Spoel

• Johan Blaauw, direkteur van die Taaldirektoraat van die Noordwes-Universiteit, kry die prys vir bemagtiging.

Hy is sedert 1979 ’n veelsydige taalpraktisyn, vertaler, teksversorger, tolk en taaladviseur. Sy bydrae om Afrikaans, maar ook Tswana en Suid-Sesotho, as akademiese tale in die hoëronderwysdomein te ondersteun, is prysenswaardig. Hy het baanbrekerswerk gedoen om ’n opvoedkundige tolkdiens (die grootste ter wêreld) wat veeltalige onderrig op innoverende wyse moontlik gemaak het, te vestig.

• Prof. Ernst Kotzé word vereer met ’n Koker-prys vir sy lewenslange bydrae danksy ’n uiters suksesvolle loopbaan in diens van Afrikaans op verskeie terreine: as veelsydige taalkundige, as innoveerder in die Afrikaanse taalkunde, maar ook as leier en gesaghebbende in die breë vakgebied. Sy werk oor Moslem-Afrikaans maak hom een van die baanbrekers op dié gebied.

• Shafick April, wat langer as 30 jaar die president van die Kaapse Maleierkoorraad was, kry postuum ’n Koker-prys vir sy lewenslange bevordering en beskerming van Afrikaans. Hy moes dikwels in ongunstige omstandighede veg om die voortbestaan van Afrikaans in die konteks van die Maleierkoorraad te verseker. Vir hom was dit belangrik om sy Maleisiese erfenis deur Afrikaanse musiek te vier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.