Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
DIE TESTAMENT: Ontmoet vir Andahr Cotton

Die bloedjong akteur Andahr Cotton (22) speel die rol van die rebelse laatlamboetie, Jacques, in Netwerk24 se aanlyn blitssepie, Die Testament. Netwerk24 het meer oor hom gaan uitvind.

Andahr Cotton as Jacques Weyers.
Andahr Cotton as Jacques Weyers.
Andahr Cotton as Jacques Weyers.

1. Vertel ons ’n bietjie van jouself. Wie is Andahr?

Hierdie vraag is altyd vir my moeilik want ek glo ’n mens word opgemaak uit baie aspekte en dat daar nie net een weergawe van jouself is nie.

As ek myself moes probeer vaspen, sou ek sê ek is ’n baie passievolle mens, veral met acting en sport. Ek hou van sosiaal wees, maar verkies ’n warm vuur en gemaklike geselskap. Ek is ’n eenvoudige mens, dit kom van my familie af. Ek het nie ryk grootgeword nie, maar ten spyte daarvan het my familie my geleer om die mooi in die lewe raak te sien en die klein dingetjies te waardeer.

Ons kampeer elke jaar en vind geluk in die middel van nêrens met net onsself, 30 seconds en ’n kampeerterrein wat lyk soos ’n tweedehandse garage sale.

2. Waar het jou ouers aan jou interessante naam gekom?

My ouers het gedink ek gaan ’n dogter wees. Tot hulle verrassing arriveer ek toe. Ek was naamloos vir twee weke tot ’n familievriend hulle genader het met ’n naam wat hy sommer uitgedink het. Dis toe Andahr. Dit het nie veel van ’n betekenis nie. Die naaste oorsprong is Portugees. Maar ek het geleer om nie te veel te soek na die betekenis vir my naam nie. Ek glo dat jou naam betekenis kry deur die persoon wat jy word.

3. Vertel ons van die karakter wat jy in Netwerk24 se sepie, ‘Die Testament’, speel. Wat maak hierdie karakter vir jou interessant?

Andahr Cotton
Is Jacques Weyers (Andahr Cotton) en Sandra Maritz (Amrain Ismail-Essop) vriende of vyande in Die Testament?

Jacques is baie interessante karakter. Sy situasie is ongelooflik kompleks. Hy is ’n laatlammetjie, so hy voel altyd vervreemd van sy ouer broer en suster.

Omdat daar so baie verwagtinge van hom is, meestal van sy pa se kant af, begin hy rebelleer in sy tienerjare en verwerp hy die verantwoordelikheid van die familieonderneming. Hy is ’n kunstenaar, die kreatiewe een in die familie en besluit hy wil streef na ’n loopbaan in musiek (kitaar en sang).

Jacques is baie interessante karakter. Sy situasie is ongelooflik kompleks. Hy is ’n laatlammetjie, so hy voel altyd vervreemd van sy ouer broer en suster.

Wanneer sy pa skielik doodgaan, sien hy ’n kans om genoeg geld te kry om homself uit die besigheid en sodoende uit sy verantwoordelikhede te koop. Dís sy uitweg.

Wat my meestal interesseer van hom is sy dapperheid om ander se verwagtinge te verwerp en te doen wat hy wil, ondanks sy pa se kritiek. Ek vereenselwig baie daarmee en glo vas ons moet doen wat ons liefhet en passievol oor is. So ek respekteer sy narratief en verstaan sy motiewe en dit gee my insig en ’n anker om die karakter mee te kan vertolk.

Andahr Cotton
As laatlamboetie het Jacques Weyers (Andahr Cotton) 'n moeilike verhouding met sy suster Annchen (Rolanda Marais) en sy broer Bastian Weyers (Nico Panagio).

4. Hoekom dink jy moet Netwerk24 se lesers ‘Die Testament’ kyk?

Eerstens, die rolverdeling is uitmuntend. Dis ’n ongelooflike lys van mense wat die bedryf hul eie gemaak het. Tweedens, die storielyn. Dis fantasties geskryf, daar is so baie intrige en die kykers gaan nie ’n episode wil misloop nie.

5. Wat dink jy van die feit dat hierdie sepie net aanlyn beskikbaar is?

Andahr Cotton saam met Amrain Ismail-Essop, Nico P
Andahr Cotton (links) saam met Amrain Ismail-Essop, Nico Panagio en Rolanda Marais.

Dis iets nuuts vir die bedryf. Ek dink dis baie slim. Dis baie toeganklik en gerieflik. Dit het beslis ’n plek in die toekoms van ons bedryf en dis so opwindend om te sien hoe dit die toekoms van televisie gaan beïnvloed.

6. Jy het al in ’n paar TV-rolle gespeel, onder meer in kykNET se “Die spreeus” en “Dwaalster”. Wat was jou gunstelingkarakter en hoekom?

My gunstelingrol wat ek vertolk het was Malan in Die Spreeus. Die stel was so ongelooflik om op te werk. Die kreatiwiteit agter die storielyn en die karakters is uniek. Om deel te vorm van ’n byna sci-fi-reeks was ’n geleentheid wat nie maklik weer sal opduik nie.

7. Jy speel in ‘Die Testament’ saam met onder meer Rolanda Marais en Nico Panagio. Hoe voel dit om saam met sulke ervare akteurs die skerm te deel?

Eerlikwaar, dit het nog nie ingesink nie. Dit is mense na wie ek so baie opkyk en binne ’n oogwink sit ek langs hulle en ons drink koffie saam en praat oor ons lewe. Daar was hierdie bisarre oomblik by die promo shoot toe Nico my gehelp het om my skoene reg te maak en my look te voltooi, toe iemand my daarop wys dat dit Nico Panagio is wat besig is om my veters vas te maak. Op daai oomblik het die werklikheid my getref!

Vinnige feite

Andahr Cotton is 22 jaar oud en het in 2018 sy graad, BA Drama en Teaterstudies, aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Hy het grotendeels in Somerset-Wes grootgeword, maar het ook al saam met sy gesin in Hermanus, Stellenbosch en Stanford gewoon.

Hy het al in die volgende reekse en rolprente gespeel:

Die vallei van sluiers

Faan se trein

Thomas@

Fynskrif

Dwaalster

Die spreeus

8. Jy het verlede jaar klaar drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Hoe was die oorgang van die studentelewe na dié van ’n volwassene?

Ek is beslis nog ver van volwasse wees. Niks kan ’n mens daarop voorberei nie. ’n Mens sukkel maar aan en word aan die diepkant ingegooi en eendag maak jy jou eie plante nat en kook iets wat nie 2-minute noodles is nie. En jy besef dalk dit is wat dit beteken om groot te wees.

Ek kook nog 2-minute noodles . . .

9. Wat is jou raad aan kinders of ander jong mense wat dit oorweeg om drama te gaan swot?

Ek sou sê jong mense moet besef daar is absoluut geen haas nie. Om jonk te wees, is so belangrik. Drama help, want jy leer jouself ken in soveel fasette. As jy ’n passie daarvoor het, dan leer jy hoe jy daardie passie kan benut en ’n lewe daaruit kan maak.

10. Jy is nou aan die begin van jou loopbaan. Hoe lyk die toekoms van Afrikaanse drama, teater en rolprente vir jou?

Die bedryf glinster met lewe. Die Testament is ’n voorbeeld van die talle opwindende werke wat geskep word en hoe dit voorsiening maak vir ’n helder toekoms vir kuns in Suid Afrika. Dit maak my hart bly om deel te wees daarvan – ek sou niks anders wou doen nie.

Die Testament op Netwerk24

Die Testament is ’n aanlyn blitssepie wat deur Via en Netwerk24 vervaardig word en op Netwerk24 uitgesaai gaan word. Netwerk24-intekenare kan elke weeksdag na ’n 5-minute-episode van Die testament op Netwerk24 kyk. Die eerste episode sal op 2 September beskikbaar wees.

Teken in op Netwerk24 om Die Testament te kyk

Netwerk24-intekenare kan vanaf 2 September elke weeksdag na 'n 5 minute episode van Die Testament kyk.

Maak seker jy is 'n intekenaar om al die drama van die Weyers-gesin te volg!

Klik hier om in te teken vir net R99 per maand. Op die koop toe kry jy nie net toegang tot nuus in Afrikaans nie, maar ook tot jou gunsteling- Afrikaanse tydskrifte en koerante.

Meer oor:  Via  |  Amrain Ismail-Essop  |  Nico Panagio  |  Andahr Cotton  |  Rolanda Marais  |  Dietestament  |  Blitssepie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.