Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
DIE TESTAMENT: Ontmoet die Amerikaanse skrywer van ons sepie

Die Amerikaanse draaiboekskrywer, Alex Burger, is die hoofskrywer van Netwerk24 se blitssepie, Die Testament. Hy vertel van sy "Afrikaanse" van, die uitdaging om episodes van net 5 minute te skryf en sy liefde vir Suid-Afrikaanse kuns.

Alex Burger, hoofskrywer van Die Testament.
Alex Burger, hoofskrywer van Die Testament. Foto: Verskaf

1. Vertel ons meer van jouself. Wie is Alex Burger?

Ek is ’n draaiboekskrywer, dramaturg en skrywer en bly tans in Los Angeles, Kalifornië, maar ek het al oral in die wêreld gebly, insluitend sewe jaar in Suid-Afrika. Ek is ’n kenner van mense en kulture, gefassineer deur die verskille, maar ook die fundamentele menslikheid wat die onderbou van alle kulture is.

2. Jy is Amerikaans, maar jy het ’n algemene Suid-Afrikaanse van. Vertel ons meer?

Almal wat my in Suid-Afrika ontmoet, neem aan dat ek Afrikaans is en sal sommer in Afrikaans met my begin praat. Maar ek het ’n Duitse agtergrond – Burger dui op iemand wat van ’n Burg (’n destydse vestingstad) af kom. Omdat ek Duits praat en ’n hele ruk in Suid-Afrika gebly het, kan ek ten minste Afrikaans volg as ek baie hard konsentreer! En hoewel ek nie Afrikaans is nie, hou ek daarvan dat ek êrens inpas in die Suid-Afrikaanse gemeenskap (ook net totdat ek my mond oopmaak!)

3. Wat is jou verbintenis met Suid-Afrika?

Ek het die eerste keer Suid-Afrika toe gekom toe ek in Tsjad gewerk het en ons daar ontruim is – ek het toe tyd in Johannesburg deurgebring.

LEES OOK: GROOT NUUS! Aanlyn blitssepie begin eersdaags op Netwerk24

Ek het later teruggetrek Suid-Afrika toe, in die mynwese gewerk en net ’n bietjie geskryf totdat ek later voltyds vir televisie en teater begin skryf het. Ek het aan verskeie Suid-Afrikaanse TV-reekse gewerk, wat my die grootste vreugde verskaf – om deel van so ’n dinamiese en ontwikkelende bedryf te wees. Ek het ook skryfkuns by die Markteater-laboratorium en Wits-Universiteit aangebied.

Ek is ’n groot aanhanger van Suid-Afrikaanse kuns: visuele kuns, musiek en skryfkuns. Twee van my gunstelingflieks is Roepman en Die wonderwerker. Toe my familie van die VSA kom kuier het, het ek hulle gedwing om albei hierdie rolprente te kyk.

Die Testament
Die Weyers-kinders – Jacques (Andahr Cotton), Annchen (Rolanda Marais) en Bastian (Nico Panagio).

4. Vir watter ander reeks of sepies het jy geskryf?

Verskeie. Ek was die hoofskrywer vir twee reekse van Umlilo. Ek het aan 90 Plein Street, Doubt en Hard Copy gewerk. Ek het nuwe stories ontwikkel vir Bomb-, Quizzical- en Stained Glass-produksies.

5. Waar het die idee vir Die Testament begin?

Die idee het by Nicole (Bailey – vervaardiger) en Gerhard (Mostert – regisseur) begin, hoewel die konsep ’n oeroue een is. Dit is Shakespeare se King Lear, dit is Aischulos se Oresteia, dit is die tipiese storie van familie, liefde en verraad.

Nicole en Gerhard het die aanvanklike konsep ontwikkel, hulle het my ingenooi en ons het eindelose gesprekke gehad oor ons eie families, die eeu oue kwessie van die liefde, bande en seerkry. Ek het toe ’n groep ander skrywers ingebring en die gesprek uitgebrei. Op die ou end was daar tien van ons, oor vastelande heen, wat die storie ontwikkel het.

LEES OOK: Familie-intrige in NW24 aanlyn blitssepie

Dit was ’n vreugde om geboorte te gee aan Bastian, Annchen, Jacques en Sandra vanuit ons verbeeldings. En vandag voel dit asof ek hulle beter ken en liewer is vir hulle as my eie vriende en familie. Dit is die vreugde en die ondergang van ’n skrywer. Charles Dickens het sy karakters op straat met sy sambreel probeer wegjaag en ek verstaan dit heeltemal.

6. Jy bly in die VSA. Hoe het jy gemaak om saam met Nicole en Gerhard te werk met verwysing na die tydsverskil?

Moderne tegnologie is ongelooflik. Ons het daagliks op WhatsApp en Zoom gepraat. Ek het ’n groep van sewe skrywers in die span gehad wat óf in Suid-Afrika óf in Amerika was en ons was te alle tye met mekaar in verbinding, meestal oor die internet en soms in persoon. Dit het volmaak gewerk (behalwe vir ’n paniekerige oproep af en toe 03:00 die oggend wanneer ek nog slaap – LA is nege uur agter Suid-Afrikaanse tyd). Ek sou ook laatnagte met Nicole en Gerhard praat, nadat hul seun gaan slaap het. En ons het dit laat werk.

7. Elke episode van “Die Testament” duur net vyf minute. Hoe het dit die manier verander waarop jy die teks skryf? Het dit dit moeiliker gemaak?

Ek en die ander skrywers het gevind dat dit ’n uiters uitdagende en opbouende formaat is. Ja, dit is ’n groot uitdaging. Jy moet ’n klein episodetjie skryf, wat die kyker bevredig, maar wat ook mense môre sal laat terugkom.

LEES OOK: 'n Kykie agter die skerms

Ek as hoofskrywer moes verder seker maak dat al die episodes ooreenstem en dat daar vloei is oor al 65 episodes. Ek was mal oor die uitdaging om die heeltyd na die groter prentjie te kyk, na vier bedrywe, na 13 weke, na 65 episodes, na tien sleuteloomblikke in elke episode – so dit is 650 deeltjies wat bymekaar moet kom. Soms het ons oor net een van hierdie 650 deeltjies gepraat, dan moet ek weer na die groter prentjie kyk en kyk hoe dit die ander 649 dele gaan beïnvloed.

Die beperkinge het van ons beter skrywers gemaak, meer direk – amper soos ’n oefensessie, met geen ruimte vir luiheid nie.

Die Testament
Sandra Maritz (Amrain Ismail-Essop) en Annchen Weyers (Rolanda Marais).

8. Wat is vir jou so opwindend van die vyfminuut-formaat?

Ek dink die wêreld is vinnig aan die verander en dit is lekker om vir mense hul vermaak individueel op hul foon beskikbaar te stel. In Suid-Afrika het drie keer soveel mense selfone as rekenaars, so dit gaan werklik vermaak in die mense se handpalms sit. Televisiekyk is ook meestal ’n gesinsaffêre in Suid-Afrika, so hierdie sepie gee mense die geleentheid om ’n bietjie weg te kruip in hulle eie wêreld en dit net te geniet. Ek is mal oor die idee dat mense dit in Pick n Pay gaan kyk of op die bus, in die park, in hul kamer, in die badkamer – waar ook al!

9. Watter karakter uit Die Testament is jou gunsteling en hoekom?

Ag, jy vra my om tussen my kinders te kies! Ek is lief vir hulle almal en hulle almal maak my ook so kwaad! Bastian, omdat hy so arrogant en vol selfvertroue is, Annchen vir haar aanvanklike skugterheid en haar groeiende aggressie, Jacques vir sy “ek-kan-nie-minder-omgee-nie”-houding wat skaars sy behoefte vir liefde kan wegsteek.

LEES OOK: 10 vrae aan Amrain Ismail-Essop

En Sandra vir die feit dat sy ’n buitestander is, wat haar dwing om agteraf en vindingryk te wees, en dan op die einde, regverdig. Ek is ook mal oor Natasja die loan shark. Sy het ’n baie skerp sin vir humor. Sy het óns gewys wie sy is. Ek is werklik lief vir hulle almal. Maar soos met my eie familie, kan hulle my ook woedend maak.

10. Waarna kan die kykers uitsien in Die Testament?

So baie! Weelde, glans, maar ook eerlikheid en ’n familie in ’n krisis gedompel. Regte mense wat dalk eerder in hul eie rigtings sou wou gaan en nooit weer met mekaar sou wou praat nie, word saam in ’n huis vasgekeer en word gedwing om mekaar daagliks te konfronteer.

LEES OOK: Rolanda Marais oor haar nuwe karakter

Die Weyers-familie – en ek dink alle families – is ’n plek met soveel potensiële liefde en bande, maar families kan ook seer maak en mekaar verraai. Familie is vir my ’n metafoor vir die menslike toestand: Ons almal is vasgekeer, maar moet ons oneindige potensiaal te besef.

Watter ander storie is daar om te vertel? Ek kan vir altyd na hulle kyk.

Die Testament op Netwerk24

Die Testament is ’n aanlyn blitssepie wat deur Via en Netwerk24 vervaardig word en op Netwerk24 uitgesaai gaan word. Netwerk24-intekenare kan elke weeksdag na ’n 5-minute-episode van Die testament op Netwerk24 kyk. Die eerste episode sal op 2 September beskikbaar wees.

Teken in om Die Testament te kyk

Netwerk24-intekenare kan vanaf 2 September elke weeksdag na 'n 5 minute episode van Die Testament kyk.

Maak seker jy is 'n intekenaar om al die drama van die Weyers-gesin te volg!

Klik hier om in te teken vir net R99 per maand. Op die koop toe kry jy nie net toegang tot nuus in Afrikaans nie, maar ook tot jou gunsteling- Afrikaanse tydskrifte en koerante.

Meer oor:  Via  |  Amrain Ismail-Essop  |  Nico Panagio  |  Andahr Cotton  |  Rolanda Marais  |  Dietestament  |  Blitssepie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.