Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
‘Dierbaar’ om prys te kry, al doen sy net haar werk, sê Luyt

Die omroeper Margot Luyt wonder of sy haar ATKV-eerbewys vir lewenslange bydrae selfs meer waardeer omdat sy soveel hartseer die afgelope jaar ervaar het.

“Maar ek waardeer dit natuurlik,” sê Luyt, wat Woensdag gehoor het sy en die akteur en omroeper Nic de Jager ontvang elkeen ’n eerbewys vir lewenslange bydrae.

Margot Luyt

Luyt se lewensmaat, Graham Clarke, is verlede jaar dood en sy ly aan Parkinson se siekte.

“En oral slaan Graham Clarke uit. Ek was gister by ’n dokter en toe ontdek ek hy was Graham se dokter. Daar is soveel goed wat my aan hom herinner. Daar is baie hartseer, maar hierdie prys is dierbaar.”

Luyt, ook ’n aktrise wat onlangs in die kykNET-drama Sara se geheim verskyn het, het lank die programme Vers en klank en Kortom op RSG aangebied.

Sy is die vervaardiger van verskeie dokumentêre programme en ’n reeks oor skrywers en digters het onder meer die lig gesien.

Oor die prys sê sy: “Ek giggel myself dood . . .

“Dit voel vir my ek het bloot my werk gedoen. Ek dink nie jy kry ’n prys omdat jy jou werk doen nie. Jy weet, daar is baie ander mense wat belangrike werk doen. Ek het vanoggend ’n boodskap van ’n kollega ontvang om my geluk te wens.

“Hy het gesê hy weet nie van ’n ander mens wat dit soveel verdien nie. Toe stuur ek ’n boodskap terug en sê: Kyk in die spieël. Dis nie asof ons yl gesaai is nie. Daar is baie mense wat hierdie erkenning verdien. Ek dink sommige van ons is hardkoppig; ons werk soms harder as wat ons moet.

“Maar eintlik was dit net lekker om my werk te doen. Ek geniet dit as ek in ’n winkel staan en iemand stap na my toe en vertel hoe hy of sy ’n program geniet het. Ek hou van daardie interaksie.”

Nic de Jager

De Jager, wat Sondae die musiekprogram Nic se goed op RSG aanbied, onthou dat hy ’n paar weke gelede sy CV moes instuur.

“Ek het niks verder gehoor nie. Dit is baie onverwags.”

Hy groet elke week sy luisteraars met die wens dat die meetsnoere in lieflike plekke vir hulle sal val.

Nou het dit ook vir hom so verloop.

“Op my ouderdom is dit eintlik net lekker om te weet iemand luister na die program. Hierdie afgelope Sondag is program 301 uitgesaai. Ek het al partykeer gewonder of mense nie al dof geluister is nie . . . Maar dit is vir my wonderlik as iets op die program ’n luisteraar prikkel om verder te gaan oplees of na ’n fliek of so te gaan soek. Jy kry die indruk jy bou tog aan ’n geskiedenis.”

*Nic se goed word Sondae om 12:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai.

Meer oor:  Atkv  |  Luister  |  Radio  |  Pryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.