Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
FSSO lewer 1ste konsert ná inperking
Die tjello-afdeling in die FSSO. Van links is Arend Brink, Anmari van der Westhuizen (leier), Frederick Fourie en Tilla Henkins. Foto: Volksblad

Orkeskonserte kan onder die vlak 1-inperkingsregulasies nog nie sinvol in ’n teater aangebied word nie, maar die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) omseil die beperkings met ’n optrede die naweek in die geilgroen Botaniese Tuin in Bloemfontein. Dit sal die orkes se eerste uitvoering sedert Maart wees.

’n Simfoniese program word uitgevoer wat open met Beethoven se eerste simfonie waarna musiek van Grieg, Mozart en Puccini volg. Die orkes se koperblasers word dan die kans gegun om die konsert op ’n welluidende noot af te sluit.

Hoewel die uitvoering in die tuin aangebied word, is dit nie ’n piekniekkonsert nie. Stoele sal op die grasperk uitgepak word en aangesien die konsert in die aand gehou word, sal dit wys wees om ’n warm baadjie te bring.

Indien dit reën, word die konsert na Sondagmiddag verskuif.

Musiek, en veral klassieke musiek, is vir liefhebbers sielskos, maar soos Danré Strydom, die hoofklarinetspeler, tereg sê, “as daar nie ’n gehoor is nie, is daar nie uitvoerings nie”.

“Luisteraars gee musiek bestaansreg.”

Alexander Fokkens, die FSSO-dirigent, sê die titel vir die konsert is “Dankbaarheid/Gratitude”, enersyds uit dankbaarheid om weer voor ’n gehoor te kan optree en opnuut lewe in die vermaakbedryf in die Vrystaat te blaas, en andersyds uit dankbaarheid vir die medici en ander wat aan die voorpunt is in die bestryding van die virus.

Frederick Fourie, die voorsitter van die FSSO-raad, sê die orkes tree gewoonlik agt tot tien keer per jaar op waarvan die meeste konserte vanjaar weggeval het en talle musici van ’n verdienste ontneem het.

Konsertgangers kan gerus wees dat al die nodige voorsorgmaatreëls gevolg word om die geleentheid veilig te maak.

Dit behels ook dat daar nie ’n kaartjiekantoor by die Botaniese Tuin se ingang sal wees nie. Kaartjies moet dus vooraf gekoop word. Computicket sal wel oop wees totdat die konsert begin. Die konsert kan nie uitverkoop nie aangesien daar onbeperkte plek is.

Die uitvoering begin om 19:00, maar konsertgangers word versoek om sowat ’n uur voor die tyd aan te kom om samedromming by die ingang te verhinder. Elke gehoorlid se temperatuur moet gemeet word, almal moet inteken en hande moet ontsmet word.

Die goeie nuus is dat geen toegangsgeld vir die Botaniese Tuin betaal word nie. Vir R50 per konsertkaartjie is die geleentheid ’n winskoop soos min.

Volgende orkesuitvoerings is op 14 November deur die Vrystaatse Jeugsimfonieorkes en op 4 Desember wanneer die FSSO ’n meer informele konsert sal aanbied. Al die konserte sal in die Botaniese Tuin plaasvind.

Program

Beethoven – Simfonie nr. 1 in C majeur op. 21.

Grieg – “Hartswond” en “Laaste somer” uit sy Elegiese melodieë, op. 34.

Puccini – Crisantemi, ’n elegie.

Mozart – Serenade in D majeur K239 vir strykers en timpani.

Paul Dukas – Koperblaasfanfare, inleiding tot die ballet La Péri.

Giovanni Gabrieli – Canzon septimi toni nr. 2 vir koperblasers.

Tielman Susato – Suite Susato deur dié Vlaamse komponis wat soos Gabrieli in die Renaissance-tydperk geleef het. Drie van vyf dele word uitgevoer – “La Morisque”, “Basses Danse” en “Pavane La Bataille”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.