Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Hier is die SA Akademie se wenners

Die draaiboekskrywer Louis Pretorius en die kinder- en jeugboekskrywer Jaco Jacobs tel onder die wenners wat vanjaar deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon is.

Die wenners is Vrydag bekend gemaak.

Louis Pretorius

Die wenners van sowel die Hertzog- as die Eugène Maraisprys word eers Sondag in Rapport aangekondig.

Die pryse sal onderskeidelik in 10 Julie in Stellenbosch en op 11 September in Pretoria oorhandig word.

Jacobs en die illustreerder Zinelda McDonald is die wenners van die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur met sy boek Moenie hierdie boek eet nie!.

Prof. Heilna du Plooy.

Die prys word toegeken vir enige literêre werk in die kategorie kinderliteratuur in die ouderdomme van sewe tot twaalf.

Prof. Hennie van Coller

Die Deleen Bekkerprys vir die beste draaiboek vir ’n televisiedrama in Afrikaans gaan aan Pretorius, draaiboekskrywer van die reeks Die boekklub (reeks 1, seisoen 9) wat in 2016 die eerste keer op kykNET uitgesaai is.

Wenners
Jaco Jacobs Foto: Emma Booysen

Pretorius ontvang ook die Erepenning vir ’n televisiedrama in Afrikaans as regisseur van die reeks Fynskrif (episode 3).

“As visuele outeur neem Louis Pretorius die alledaagse en omskep dit in die onverwagte,” lui die verklaring deur die Akademie.

Die Odeion Strykkwartet van Bloemfontein ontvang die Huberte Rupertprys vir klassieke musiek. Die kwartet bestaan uit Samson Diamond, Sharon de Kock, Jeanne-Louise Moolman en Anmarie van der Westhuizen.

Die visuele kunstenaar Helen Sebidi is die wenner van die Erepenning vir visuele kunste.

Die Erepenning vir rolprentkuns gaan aan die uitvoerende rolprentvervaardiger Jan du Plessis.

Volgens die Akademie word hy word vir sy kundigheid, dapperheid en nugtere aanvoeling vereer, “ook toe niemand Afrikaanse rolprente wou befonds nie”.

“Die sensitiewe manier waarop hy met akteurs, skrywers en medevervaardigers werk, asook vir sy insig,” is ook uitgewys.

Die erepenning van die SA Akademie se fakulteit natuurwetenskap en tegnologie gaan aan prof. Debra Meyer, uitvoerende dekaan van die fakulteit natuurwetenskappe aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), vir haar akademiese bydrae tot die natuurwetenskappe in Suid-Afrika.

Pippa Parker ontvang die Besondere erepenning van die Akademie.

“Oor die jare het Parker met dinamiese en vooruitstrewende leiding, visie, goeie oordeel, sakevernuf en persoonlike belangstelling ’n reuserol gespeel om populêr-natuurwetenskaplike boeke in Suid-Afrika te bevorder,” lui die verklaring.

“Pippa se bevoegdheid en produktiwiteit as uitgewer die populêr-natuurwetenskaplike literatuur in Suider-Afrika, in beide Engels en in Afrikaans, aansienlik verryk.”

Die N.P. van Wyk Louw-medalje word aan prof. Rufus Gouws van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch (US) toegeken.

Dit word toegeken aan iemand se skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van ’n vertakking of vertakkings van die geesteswetenskappe, wat as ’n wesenlike en belangrike bydrae tot die bevordering van die geesteswetenskappe beskou kan word. Die bydraes moet verkieslik in Afrikaans wees.

Prof. Hennie van Coller, emeritusprofessor en voormalige hoof van die departement Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat en tans navorsingsgenoot aan die Noordwes-Universiteit, ontvang die D.F. Malan-medalje.

Dit word toegeken aan mense wat die hoogste gehalte van werk lewer ter bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur.

Prof. Heilna du Plooy is met die Gustav Prellerprys vir literatuurwetenskap en letterkundige kritiek bekroon.

Dr. Cassie Carstens ontvang die erepenning van die SA Akademie se fakulteit natuurwetenskap en tegnologie vir sy jarelange bydrae tot die werksaamhede van die Akademie.

Die C.L. Engelbrecht-prys vir Afrikaanse taalkunde

word toegeken aan die boek Kaaps in fokus met prof. Frank Hendricks en Charlyn Dyers as die redakteurs.

Die prys roteer tussen ’n gepubliseerde Afrikaanse letterkundige werk en ’n gepubliseerde werk in Afrikaans oor die Afrikaanse taalkunde.

Die Stalsprys vir Geskiedwetenskappe word vanjaar toegeken aan prof. André Wessels, voormalige hoof van die departement van geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat.

Prof. Jannie J. Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en bestuurswetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, ontvang die Stalsprys vir ekonomie.

Prof. Johan Snyman, emeritus-professor in filosofie aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ), ontvang die Stalsprys vir filosofie en etiek.

Prof. Bernard Combrink, emeritus professor en voormalige dekaan van die fakulteit teologie aan die US, ontvang vanjaar die Ds. Pieter van Drimmelen-medalje.

Dr. Coenie Burger, programbestuurder van die verlengde BTh-program aan die US, ontvang die Totiusprys vir teologie en die studie van die grondtale van die Bybel.

Die Frans du Toitmedalje word vanjaar aan dr. Johan van Zyl oorhandig. Van Zyl is die bedryfsbeampte van die Toyota-motorkorporasie.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Jaco Jacobs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.