Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
‘Ikonies Afrikaans’ bied wat RSG-luisteraars wíl hoor

Renske Jacobs wil nie luisteraars met ’n onbekende liedjie verras in die nuwe musiekreeks Ikonies Afrikaans op RSG nie.

“Dit is juis die liedjies wat die luisteraars wíl hoor wat ek speel,” sê Jacobs, wat die reeks Donderdae om 20:30 aanbied.

RSG
Renske Jacobs

“Ek ken daardie (aand)skof al vir 13, 14 jaar, so ek weet waarvan die mense hou wat daardie tyd van die dag inskakel. Ek gaan hulle nie uitdaag nie. Dis hoekom ons dit ‘ikonies’ noem; jy wil die treffers hoor. Die reeks is nie eksperimenteel nie.”

Die eerste episode het op die musiek van Laurika Rauch gefokus terwyl die musiek van Mathys Roets vandeesweek aan die beurt kom.

Jacobs behartig die program in samewerking met Gustav Greyling, wat die musiek opspoor.

Sy pols dikwels die omroeper Derrich Gardner as sy raad oor die gebruik van ’n sekere liedjie soek.

Die derde en vierde episodes bestaan uit Carike Keuzenkamp en wyle Piet Botha se musiek.

“En Piet was veelsydig. Hy het so baie bands gehad. Dit gaan nou vir mý meer uitdagend raak. Jy begin met ’n kunstenaar wat jy weet geliefd is. Dis ’n organiese reeks in hierdie stadium. Ons beplan en werk nog aan die volgende episodes.”

Die kunstenaars word nie betrek nie omdat elke episode net ’n halfuur lank duur.

Jacobs kan dalk namate die reeks vorder die formaat verander.

“As jy 13 episodes het en jy hou daardie formaat presies dieselfde . . . Ek besef meer as die helfte van die mense gaan daarvan hou as dit onveranderd bly, maar ek het geleer ’n mens moet radio so min as moontlik voorspelbaar aanbied. Ek hou daarvan om dit vars te hou.

Miskien kom ons in die middel en ons verander die aanslag.”

Die inhoud moet baie versigtig gekies word vanweë die min tyd waaruit die program bestaan.

“As jy sewe snitte speel, duur dit omtrent die hele halfuur van die episode. So jou tyd raak op om ander goed in te sluit.

“As dit kom by musiek, moet jy nie te veel praat nie. Hulle wil die musiek hoor. En as jy iets sê, moet dit substansieel wees. Dit moet interessante brokkies wees.

In Laurika se episode het ons verwys na die album Stuur groete aan Mannetjies Roux, wat die eerste album deur ’n Afrikaanse vroulike kunstenaar is wat op CD uitgereik is. Jy weet, so iets.”

Jacobs nooi luisteraars om voorstelle op sosiale media te maak.

Daar is baie terugvoering – ook oor die eerste episode, met woorde soos “nostalgie” en “musiek uit my kindertyd”.

“Mense hou daarvan om aktief deel te neem en die platform is daar om dit te kan doen.”

*Die reeks is nie as ’n podsending beskikbaar nie weens die musiekkopiereg.

*Ikonies Afrikaans word Donderdae om 20:30 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai.

Meer oor:  Musiek  |  Gustav Greyling  |  Ikonies Afrikaans  |  Rsg  |  Renske Jacobs  |  Radio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.