Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
‘Jeugboeke berei tieners vir die lewe voor’
Carin Krahtz

Die uitwerking van volwassenes se dikwels negatiewe siening oor die toekoms in Suid-Afrika op hul kinders asook die allerdonkerste omstandighede waarin kinders grootword, is die dryfveer agter ’n bekroonde boek van die onderwyseres en skrywer Carin Krahtz.

Haar jongste roman, Blou is nie ’n kleur nie, is pas met die Sanlam-prys (goud) vereer. Die boek, oor die disfunksionele Vorster-gesin aangevuur deur Paternoster, ’n pa wat “gatvol is vir die totale aanslag op hom”, spruit uit haar benoudheid oor die aantal mense wat die land verlaat.

“Ek wou met die verhaal ’n situasie skep waarin emigrasie na die antwoord lyk en klink, maar skeefloop, en die karakters word op ’n innerlike eerder as ’n fisieke reis gedwing.

“Om jouself met die ongediertes en vyande van ’n innerlike reis te konfronteer, soos die hoofkarakter Pops in Blou, verg ewe veel dapperheid as ’n reis soos dié van die mitiese held Odusseus.”

Die Vorsters kan onder D vir disfunksioneel in ’n sielkundehandboek gelys word; boonop word die kinders hier gedurig aan verskrikking blootgestel.

“Ek werk daagliks met kinders en is dikwels bewus van die ‘slange in die gras’ waarmee baie leerlinge in hul lewe worstel. Voeg by dit die stres wat hulle ervaar as hulle grootmense se dikwels negatiewe siening oor die toekoms moet aanhoor, dan besef ’n mens hoe hulle moet sukkel om emosioneel kop bo water te hou.”

Dit was vir haar belangrik dat die hoofkarakter Pops grootword met ’n straaltjie hoop, “iets om aan vas te gryp en haar eie toekoms mee in te kleur. Ek wil graag met die verhaal vir tieners sê soms is hoop net ’n strooihalmpie, maar as
jy daaraan klou, kan jy jou lewenskip in die regte rigting stuur.”

Pops se eintlike ma is die huishulp Queenie, terwyl haar eie ma, MD, meesal emosioneel en fisiek afwesig is. “Soos baie kinders in die moderne gesinstruktuur in Suid-Afrika waar ouers noodgedwonge die grootmaak van hul kinders aan oumas, oupas, naskool­sentrums, au pairs, huiswerkers en sibbe moet oorlaat, is Queenie veel meer van ’n ma vir Pops as wat haar eie ma ooit kan droom om te wees.”

Op die vraag oor hoekom Krahtz spesifiek vir die jeug skryf, antwoord sy dat sy gemaklik is daarmee.

Sy is die skrywer van die MER-bekroonde Elton amper famous April en juffrou Brom, asookElton die verskriklike verloor dit.

“Wanneer ’n mens skoolhou en boonop jou eie kinders het by wie jy kan ‘afkyk’ en kan leer hoe tieners se koppe werk en by wie ’n mens tienertaal kan leer praat, kan ’n mens mos nie die geleentheid laat verbygaan om stories daaruit te skep nie! Wie weet, dalk verskuif my gemaksone eendag wanneer hulle nie meer deel vorm van my daaglikse doen en late nie.”

Tieners is nie naastenby so “oningelig” soos hulle voorgee om in die klas te wees nie, skerts sy.

Sy meen dit sou ’n doodsonde wees om vir hulle sweet boekies te skryf of die soort boeke wat die teoloog Christina Landman destyds “pienk boekies” genoem het.

“So tegnologies opgevoed soos hulle gebore word deesdae, so is hulle slimmer oor baie dinge as die volwassenes wie vir hulle boeke skryf.”

Jeugboeke kán kinders vir die wêreld voorberei en boonop as sielkundige middel gebruik word, glo sy.

“Jeugboeke met swaarder/donkerder temas is belangrike instrumente om tieners te help voorberei op die wrede lewe daarbuite of om kinders wat reeds daarmee gekonfronteer is, ’n terapeutiese klankbord te bied omdat hulle met die karakters identifiseer. Ek sal graag wil sien dat tienerberaders en -sielkundiges ook moderne jeugboeke lees wat hulle in terapiesessies as verwysing gebruik.”

Vir die jeug van Suid-Afrika het sy sommer baie hoop.

“Die slim mense het baie hoop vir generasie Z en dié wat daarop volg. Hulle word gesien as dié met ’n ingesteldheid van omgee vir die greater good of humanity. Van hulle word verwag dat hulle kreatiewe oplossings sal skep vir baie van die mensdom se probleme.

“Dis vir my lekker om te weet dat my eie kinders en dié met wie ek werk, deel is van hierdie opwinding.”

Haar wens vir Suid-Afrika se kinders is dat hulle wyse besluitnemers sal wees. “Hulle kan vir hulle ’n fantastiese toekoms skep aan die wonderlike suidpunt van Afrika. Hulle mag nooit moed opgee nie.”

Blou is nie ’n kleur nie is deur Tafelberg uitgegee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.