Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Jill Levenberg: 'Ek wou deel wees van dié luisterdrama'
Jill Levenburg
Jill Levenburg as Veronica Ruiters in Netwerk24 se eerste luisterdrama. Foto: Nardus Engelbrecht

Sy wou met alle mag en mening deel wees van Netwerk24 se heel eerste luisterdrama.

“Ek het [luisterdramas] gemis en ek wou graag deel wees hiervan," vertel Jill Levenberg, beter bekend as Mymoena Samsodien in kykNET se sepie, Suidooster. Sy het spesiaal verlof ingesit by dié sepie om die rol van Veronica Ruiters in Sê maar so long te vertolk. 

Jill sê sy het jare gelede gereeld aan radiodramas gewerk, onder meer saam met die radiolegende Margot Luyt.

"Dit is belangrik vir ’n kunstenaar om op elke moontlike manier jouself uit te daag en te strek, so ek probeer om so veel as moontlik verskillende dinge doen, want jy daag jouself uit op ’n ander manier.”

Sê maar so long is geskryf deur Anton Treurnich en was die wenner van Netwerk24 se luisterdrama-kompetisie in 2019.Dié drama van Dinsdag op Netwerk24 geluister word.

LEES OOK: Luister Dinsdag na NW24 se 1ste luisterdrama: ‘Sê maar so long’

Dit is ook die eerste keer dat Jill saam met Chris van Niekerk werk. Hierop sê sy: “Wie wil nie saam met Chris werk nie? Hy is ’n legend.”

Sê maar so long het ’n sterbelaaide rolverdeling, met Chris en Ilana Cilliers in die hoofrolle. Die ander rolle word deur Daneel van der Walt, Marvin-Lee Beukes en Cintaine Schutte vertolk.

Jill Levenberg en Chris van Niekerk neem ’n selfie tydens die opname. Foto: Nardus Engelbrecht

Chris, wat die hoofkarakter, Armand Rossouw, speel, sê een van die belangrikste dinge wat iemand hom geleer het oor radiodrama, is dat jy net met een mens aan die ander kant van die mikrofoon praat.

“Jy praat nie met die hele volk nie, jy praat deur die mikrofoon met een man. Daar is miskien ’n familie wat sit en luister, maar jy sien dit as een mens en dit is hoe jy kommunikeer.”

Paraat voor die mikrofoon

Die eindproduk duur net so ’n bietjie meer as ’n uur, maar die opneem daarvan duur aansienlik langer.

Ronèl Geldenhuys, die regisseur, verduidelik wat ateljee-tyd betref, die luisterdrama drie dae neem om opgeneem en voltooi te word.

Ronèl Geldenhuys, regisseur van die luisterdrama.
Ronèl Geldenhuys, regisseur van die luisterdrama. Foto: Nardus Engelbrecht

Op die eerste dag het sy en die tegniese regisseur, Cassi Lowers, saamgewerk om onder meer die regte byklanke te soek en bykomende dele, soos die inleiding, op te neem. Op die tweede dag kom die akteurs by en die dialoog word opgeneem en die res van die byklanke word geskep. Dit is ook die eerste en enigste keer dat almal onder een dak werk. Op die derde dag kom alles bymekaar en dan meng Ronel en Cassi die res van die opnames in of “sny hier en daar ’n glipsie uit”.

“Jy moet (as akteur) uitstekend voorbereid wees en jy moet buigsaam wees. Anders het jy ’n leserige, onvoorbereide gemors. Jy kan nie ’n antwoord in sement voorberei nie. Dit is ’n ander ding van professioneel wees, iemand gooi iets na jou toe op ’n heel ander manier as wat jy gedink het, of dit gehoor het in jou kop,” sê Ronèl.

'n Fees vir die ore

Die musikant Riku Lätti het opdrag gekry om die musiek vir die luisterdrama te skryf. Ronel sê dit is baie lekker om nuwe musiek te hê wat spesiaal vir die drama geskep is. “Dit is nie baie algemeen nie. Dit gebeur eintlik nooit.”

Ilana Cilliers luister na die regisseur se terugvoer.Foto: Nardus Engelbrecht

Ilana Cilliers, wat Bianca Truter speel, sê sy is mal oor die byklanke tydens die opname van 'n luisterdrama. Wanneer ’n akteur nie dialoog in ’n toneel het nie, word hulle ingespan vir die byklanke; van rondspeel met eetgerei om ’n ete voor te stel tot rondbeweeg in ’n klippie-mengsel om voetstappe na te maak.

“Dit is ’n lekker uitdaging en ook baie pret. Ek het nie vandag baie kans gehad om byklanke te doen nie, maar dit is eintlik my gunsteling-ding (van opnames). Dit is amper soos om in ’n band te wees,” sê Ilana.

Daneel van der Walt, wat Liana Truter speel, meen die bekoring van ’n luisterdrama lê in die klanke. “Om na mense se stemme te luister, is anders. Die goed van ‘iemand gooi ’n glas wyn in’, maar dan gooi jy net so ’n bietjie water in ’n glas. Daai goed is fantasties en dit is so old school.”

Cassi Lowers, klankingenieur, neem 'n selfie van h
Cassi Lowers, tegniese regisseur, neem 'n selfie van haar en die akteurs. Foto: Nardus Engelbrecht

Marvin-Lee Beukes, wat Jason Ruiters speel, meen met luisterdramas word die akteur geforseer om sy stem baie meer kleur te gee, en om meer te gee as bloot akteur. “Dit vat so een of twee sinne of dalk ’n toneel of twee om net gewoond te raak om groter te speel.”

Cintaine Schutte, wat Renske Visser speel, het saam met haar ouma na radiodramas geluister, en sê sy het geweet sy wil ook eendag so iets doen.

“Dit is teater vir die blinde. Jy moet soveel kleur en nuanse en fokus daarin sit, want die persoon moet sy of haar oë kan toemaak, net kan luister, en jy moet daai hele wêreld vir hulle inkleur.”

Wat is ’n luisterdrama?

’n Luisterdrama is ’n radiodrama wat op die internet gepubliseer word.

Waaroor gaan ‘Sê maar so long’?

Luisterdrama

Armand Rossouw is ’n internasionale fotojoernalis wat ná jare in die buiteland terugkeer na Suid-Afrika, met een doel voor oë.

Sy susterskind Bianca is ’n finalejaarstudent wat net nie haar voete kan vind nie. Die twee besluit om ’n ou storie na te speur. Dit handel oor ’n skeepswrak aan die Overbergse kus naby Skipskop. Die reis bring hulle nader aanmekaar en ontsluit baie van Armand se herinneringe en Bianca se drome. Hulle verteenwoordig twee generasies wat so verskillend maar tog so eenders is. Die mense wat oor hul pad kom, skaaf aan hulle. Die plekke wat hulle sien, los ’n stempel en die goed wat met hulle gebeur, sal hulle vir ewig verander.

Sê maar so long is ’n storie oor ’n liefde wat nie kon blom nie, ’n skat wat nooit gevind is nie en ’n plek wat nie meer bestaan nie.

Ontmoet die karakters

Armand Rossouw

Chris van Niekerk as Armand Rossouw.Foto: Nardus Engelbrecht

Armand Rossouw (55) word vertolk deur Chris van Niekerk. Armard het nooit ’n tuiste vir sy onrustige siel gevind nie. Hy het ’n sagte hart en is ’n puik fotograaf wat die wêreld op ’n ander manier waarneem as die meeste van ons.

Bianca Truter

Ilana Cilliers as Bianca Truter.Foto: Nardus Engelbrecht

Bianca Truter (21) word vertolk deur Ilana Cilliers. Bianca is besig met haar honneursgraad in joernalistiek. Sy is verlore en weet nie heeltemal waar sy inpas of waarheen sy op pad is nie.

Liana Truter

Daneel van der Walt as Liana Truter.Foto: Nardus Engelbrecht

Liana Truter (51) word vertolk deur Daneel van der Walt. Sy verstaan nie haar broer nie en nog minder haar dogter. Sy ervaar leënessindroom en wil vasklou aan die verlede.

Jason Ruiters

Marvin-Lee Beukes as Jason Ruiters.Foto: Nardus Engelbrecht

Jason Ruiters (25) word vertolk deur Marvin-Lee Beukes. Hy voel hy is vasgevang in sy omstandighede. Hy is kwaad vir almal en alles.

Veronica Ruiters

Jill Levenberg as Veronica Ruiters.Foto: Nardus Engelbrecht

Veronica Ruiters (53) word vertolk deur Jill Levenberg.

Haar pa het haar mishandel. Haar eerste man het te veel gedrink en haar tweede te veel rondgekuier. Sy het ’n harde lewe gehad wat haar afgestomp maak vir gevoelens en herinneringe.

Renske Visser

Cintaine Schutte as Renske Visser.Foto: Nardus Engelbrecht

Renske Visser (30) word vertolk deur Cintaine Schutte. Sy is ’n vrou van die aarde. Sy is lief vir die grond en diere. Sy is eenvoudig, liefdevol en verstaan veel meer as wat ’n mens van haar sou verwag.

Skryf in vir Netwerk24 se luisterdramakompetisie

Luisterdrama

In 2020 nooi Netwerk24 weer skrywers uit om vir dié nuuswebwerf ’n luisterdrama te skryf. Die wenner sal met R100 000 wegstap vir al die besonderhede.

Klik hier vir meer inligting.

Meer oor:  Anton Treurnich  |  Luisterdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.