Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
John Mayer kan wêreld se sorge versag
John Mayer Foto: Getty Images

John Mayer se jongste album luister soos ’n langpad-kasset met die vensters afgedraai en ’n goedvoelklank wat die wêreld se sorge in die truspieëltjie laat verdwyn, skryf Kobus Burger.

Daar verskyn die album toe op Vrydag 16 Julie 2021 soos ’n lelike eendjie of seer duim op die stroomdienste se lyste vir nuwe uitreikings. Die Amerikaanse sanger-liedjieskrywer John Mayer se agtste album, maar met ’n omslag en klank wat die luisteraar laat wonder of die liedjies nie dalk vir langer as drie dekades iewers in ’n tydkapsule toegesluit was nie.

Sob Rock lyk op die oog af soos ’n plaat of CD wat in die winskopiemandjie van desjare se musiekwinkel beland het. Kompleet met ’n prysplakker. Meer tong-in-die-kies kon die musikant wat al met pop, rock, blues en funk geboer het, seker nie wees nie.

Die langhaarkêrel in die donkerkleurige pak met die wit T-hemp teen ’n pastelkleurige agtergrond kon net sowel iewers in die laat 1980’s gefotografeer gewees het. Dink Miami Vice. En as hy met “Last Train Home” wegspring en die klawerbord en kitaar word kort-kort deur energieke agtergrondsangers verswelg, wil-wil ’n mens jou verbeel jy kyk na ’n VH1-keur van toeka se treffers.

Dit is dieselfde kunstenaar wat die Grammy-pryse in die groot popkategorieë verower het met die album Continuum en toe die vurk in die pad vir ’n wyle na ’n meer blueserige aanslag gevolg het.

Sob Rock is egter nie ’n allegaartjie-gerf nie. Luister na liedjies soos “Shot in the Dark” en daar is die glinsteroomblikke van ’n Bruce Springsteen, Steve Winwood of Don Henley se popklank wat nie in voorspelbaarheid kon vasval nie. ’n Soniese fokus, behendig byeen.

Mayer (43) klink op hierdie versameling van tien nuwe snitte soos ’n skeppende kunstenaar wat nie voor die voorskrifte van geldgierige platebase of die vereistes van nuwe geslagte musieksoekers hoef te swig nie. Die album is tussen 2017 en 2021 in Los Angeles opgeneem en al is daar dese en gene wat ontken dat dit ’n “konsepalbum” is, lewer Sob Rock so ’n diep gewortelde klank dat ’n mens ná die sowat 39 minute nie wil glo dit is die einde nie.

Is dit poeiermelkpop of pastiche? Is dit 'yacht rock' of die kloonklanke van ’n middeljarige man wat sorgvrye nostalgie wil aanwakker? Maak die kategorisering enigsins saak?

Dit luister soos ’n langpad-kasset met die vensters afgedraai en ’n goedvoelklank wat die wêreld se sorge in die truspieëltjie laat verdwyn.

Mayer se vernuftige kitaarsolo’s bereik ’n hoogtepunt op “I Guess I Just Feel Like” wanneer hy sing: “Nobody’s honest, nobody’s true, Everyone’s lying, To make it on through, I guess I just feel like, I’m the same way too, I guess I just feel like, Good things are gone ...”

Liries is daar die versugting na liefde, vergifnis of sommer net ’n “wilde nag” in ’n vinnige motor saam met iemand wat tequila in ’n koffiebeker skink. Vokaal probeer Mayer nie beïndruk nie; hy sing asof daar troos is in die klanke en musiek wat van geforseerdheid gestroop is.

Is dit poeiermelkpop of pastiche? Is dit “yacht rock” of die kloonklanke van ’n middeljarige man wat sorgvrye nostalgie wil aanwakker? Maak die kategorisering enigsins saak?

So 15 jaar gelede het Mayer gewag dat die wêreld verander toe hy “Waiting on the World to Change” in die treffersparades gehad het. Nou is hy minder dringend en filosofies. Hy het die pause-knoppie gevind. Nou sing hy die soort popdeuntjies wat pamperlang. “Good things are NOT gone, mr Mayer!”

Meer oor:  Pop  |  Kobus Burger  |  John Mayer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.