Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Klein selfoonprent groot oomblik vir SA rolprentkuns

Cabin Fever

Drama

****

Sarah (Jenna Upton) en Andrew (James Cuningham) in ‘Çabin Fever’.

Die Suid-Afrikaanse regisseur Tim Greene se innoverende selfoonprent Cabin Fever is dalk ’n klein prent, maar dit is beslis ’n groot oomblik vir ons rolprentkuns. Dit is ’n wegwyser na die toekoms danksy die maak-’n-plan-ingesteldheid van almal betrokke.

Dit is die gebruik van ware kreatiwiteit gemeng met Greene (Boy Called Twist, Skeem) se opvatting dat hoë produksiewaarde gelewer moet word, ondanks die omstandighede.

Al is die prent binne verfilm, met min buitetonele, vandaar die dubbelsinnige titel, verveel dit nie vir ’n oomblik nie – dit bied daardie intrige waarna jy soek in ’n vollengterolprent. Die akteurs stuur ons deur oomblikke van hoë drama, skok, wellus, tragedie en spanning.

Daar is immers die Covid-19-pandemie wat buite die mure van die huise van die ingeperkte mense tier, en dit is ’n jaar of wat in die toekoms in en dinge lyk distopies. Tog is dit ook ’n gesinsdrama met ’n dinamika wat vir die kyker soos ’n raaisel ontsluit word.

’n Mens identifiseer met die lewe op skerm van al die karakters. Dit voel nie vreemd dat ons eintlik na ’n bewegende galery van skerms kyk nie. Dis hoe dit nou is – dikwels is ons sinvolste gesprekke en interaksies nou met mense op ’n skerm.

Oefen daardie longe . . . Jojo (Tem Muller) (links), Kelsey (Jessica Pietersen Scott) en Stoan (Bonko Khoza) daag mekaar uit in ‘Çabin Fever’.

Cabin Fever is op die 11 akteurs se selfone en skootrekenaars tydens vlak 5 van die staat van inperking geskiet. Die akteurs het hul tonele op hul selfone opgeneem, self spesiale effekte bygesit en aan Greene gestuur. Dit is seker die goedkoopste prent wat tot dusver hier gemaak is, maar dit beteken nie dat dit nie ’n gehalteproduk is nie.

Die draaiboek is geskryf met behulp van video-oproepe en WhatsApps, en die akteurs het rekwisiete gebruik wat in hul huis is.

Die verhaallyn word behendig uitgepak rondom die karakter Sarah (Jenna Upton), ’n kunstenaar wat alleen in haar huis in Kaapstad is. Haar man, Andrew (James Cuningham), is vasgekluister in Abu Dhabi. Sy volwasse kinders is versprei oor die wêreld heen en Deborah (Michelle Scott), sy eerste vrou en die kinders se ma, is sterwend aan Covid-19 in België.

Sarah probeer almal vir oulaas bymekaarkry vir ’n Zoom-ontmoeting, miskien kan ou wonde só genees word. Daarby het sy haar eie uitdagings, waarvan eensaamheid die ergste is, en haar pogings om dit te besweer, kan dalk ’n paar lewens uitmekaar laat spat . . .

Al die akteurs kwyt hul goed van hul taak en smee gou ’n emosionele band met die kyker. ’n Bydraende belangrike punt wat in die prent geopper word, is die effek wat die inperking op mense se geestelike welsyn het, soos geïllustreer deur die karakter Andrew, asook die aaklige aasdier-mentaliteit wat in moeilike tye sy kop uitsteek.

Cabin Fever is ’n klein prent met ’n uitklophou of twee wat die kyker dalk lekker onkant kan betrap. Dit speel op meer as een vlak slim simbolies in op die idee van inperking.

• Cabin Fever word op 5 Augustus op DStv se Box Office uitgereik.

Meer oor:  Tim Greene  |  Cabin Fever  |  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.