Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Koloane sterf midde-in uitstalling

Die gevierde kunstenaar David Koloane wie se werk tans in Kaapstad uitgestal word en sy lewe daaraan gewy het om die lot van swart kunstenaars te verbeter, is dood.

David Koloane

Hy is Sondag in die ouderdom van 81 by sy huis in Johannesburg dood, sê Tiina Liebenberg, programbestuurder van Bag Factory Artists, ’n visuelekunsinstelling in Johannesburg waarvan Koloane ’n stigterslid was en lank as direkteur gedien het.

“Die kunstenaars, personeel en raad van Bag Factory Artists is baie hartseer oor Bra Da,” lui Liebenberg se verklaring.

“In sy loopbaan van meer as 40 jaar het hy baie kunstenaars se lewens met sy gees en toewyding gevul deur sy kennis, vaardighede en geesdrif vir kuns met hulle te deel. Sy rol was deurslaggewend ten opsigte van anti- en post-apartheid-kuns.”

A Resilient Visionary: Poetic Expressions of David Koloane, wat ’n oorsig oor sy lewe bied, word tans in Kaapstad en later vanjaar in Johannesburg aangebied. Die kunswerke bevestig sy betrokkenheid met die sosio-politieke en eksistensiële uitdagings.

Thembinkosi Goniwe is die kurator.

Die kunsjoernalis Amanda Botha het twee weke gelede met hom oor die uitstalling gepraat, sy laaste onderhoud.

“David Koloane se lewe en werk is onlosmaaklik verbind aan die internasionale aansien van Afrika-kuns,” sê Botha. “Hy was ’n pionier wat ’n enorme bydrae gelewer het om die werk – en aansien – van swart kunstenaars te bevorder. Hy het ’n oorbruggingsrol gespeel om wit en swart kunstenaars byeen te bring en aan projekte te laat saamwerk. Kunstenaars wat onder sy mentorskap gestaan het, is vandag bekende name in Suid-Afrikaanse kuns.”

Botha sê hy het hom as ’n kunstenaar gevestig as vertolker van die township-lewe in Soweto en Alexandra.

“Hy was die vader van township-realisme. In later jare was hy bekoor met die stadslandskappe van Hillbrow. Dat daar juis nou ’n loopbaanuitstalling oor sy werk in Iziko SA Nasionale Kunsgalery aangebied word en ook volgende maand in Johannesburg tot reg sal kom, is ’n gepaste viering van sy werk en bydrae. Dat hy dit kon beleef het – en nog self oor sy werk kon praat – was, glo ek, vir hom ’n droombelewenis. Hy was ’n besonderse man en ’n kunstenaar van waarde.”

Koloane is in 1938 in Alexandra, Johannesburg gebore.

Luidens ’n verklaring deur die Goodman-galery het Koloane ook as onderwyser, mentor, kurator en skrywer gewerk.

Hy was een van die stigters van die Black Art-galery in 1977 en was ook ’n tutor by die Federated Union of Black Artists.

Koloane word deur sy vrou, Monica, oorleef. Hy het nie kinders nie.

A Resilient Visionary: Poetic Expressions of David Koloane word in die Iziko SA Nasionale Kunsgalery tot 4 Augustus aangebied. Daarna verskuif dit na die Standard Bank-galery in Johannesburg en die Wits-kunsmuseum.

Meer oor:  Amanda Botha  |  Kunstenaars  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.