Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Kom ons lê self die stene vir huise waar ons mekaar sal vind
Die Breytenbach-sentrum op Wellington. Foto: Breytenbach-sentrum

As mede-oprigter van die Breytenbach-huis op Wellington en nou die Paulet-huis op Somerset-Oos is dit Theo Kemp se droom om sulke huise landwyd te sien, want nou meer as ooit het ons die kunste nodig, en mense die behoefte om mekaar se stories te hoor.

Kom ons bou kunshuise landwyd.

Jare gelede op ’n soel aand in Wellington lees die digter Breyten Breytenbach die volgende woorde op sy grootwordhuis in die Bolandse dorp se stoep: “Die Breytenbach-sentrum is nie ’n plek van opgee, afgee of weggee nie, dit gaan oor aangee. Nie om verdeel of opdeel nie, maar om deelname en deelword.”

Ek was toe pas aangestel as bestuurder van dié kunste-huis, en sy woorde was geraam by my lessenaar. As ’n soort padkaart het ek gereeld daarna gestaar met die vraag: Hoe skep ’n mens ’n bymekaarkomplek vir almal? ’n Plek waar mense, met die bevordering van die kunste as die gom, kan déél.

Jy moet bereid wees om te waag; om ’n verhoog te bou en te glo dit sal tot voordeel wees van talentvolles wat andersins nooit ’n kans sou kon kry nie. Vir ander moet dit ’n plek van hoop wees. Hoop om vaardighede te kan ontwikkel om uiteindelik kos op die tafel te kan sit. Vir die meeste is dit gewoon ’n plek waar hulle betower wil word. Gevestigde kunstenaars en skrywers moet ook hul jongste werk hierheen kan bring. Maar die belangrikste: Vir almal moet dit ’n tuiskoms inhou.

Kunshuis op elke liewe dorp

Verbeel jou, het ek toe al hardop gedroom, dat daar op elke liewe dorp in ons land só ’n huis opgerig word. Dit hoef nie aan vername digters te behoort het nie, en die huis hoef ook nie eens so sjarmant soos die een in die Boland te wees nie. Al wat nodig is, is ’n huis met sterk genoeg mure om te bly staan. ’n Huis met ’n stewige fondament. Want om ’n kunstesentrum staan te maak en se deure oop te hou, kos nie net deursettingsvermoë en eindelose planne om die dorp se mense en kunstenaars

Die Paulet-huis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap. Foto: Jakes Gerwel-stigting

te laat inkoop in die projek nie, maar geld en nogmaals geld. Waar jy makliker weldoeners kan kry wat hulle beursies sal oopmaak vir programme wat menswees ontwikkel – tereg ook so – is daar min donateurs wat hulle hande oopmaak om die water-en-ligte-rekening van so ’n huis te kan betaal. Jy moet filantrope omarm wat verstaan dat so ’n kunste-tuiste oor baie meer gaan as om bemarking vir jou handelsnaam te doen.

Die koms van die pes

Met die koms van die pes is ’n reeds brose kunstebedryf hard geslaan. Die feeste, wat vir baie kunstenaars ’n voedingsaar is, kan skielik nie meer plaasvind nie. Teaters se deure word noodgedwonge gesluit – eers net totdat die gogga weg is. Maar hoe langer daai deure gesluit is, hoe moeiliker raak dit om dit weer oop te kry. Galerye kry swaar, want baie min mense koop nog kuns in ’n wêreld wat eensklaps onsekerder lyk as ooit vantevore. Kunstenaars word van eiendomsagente tot koffie-brouers – enigiets om aan die lewe te bly.

Die regering wil blykbaar help, maar die stimulusfonds wat aan die Nasionale Kunsteraad toegestaan is om uitgehongerde kunstenaars by te staan, word klaaglik wanbestuur. Maar om te oorleef in die kunstewêreld – of jy nou organiseer of daarin speel – moes jy nog altyd aanpasbaar en immer planmakend wees. Konserte word aanlyn aangebied; kunsuitstallings en boekgesprekke betrag jy op jou skootrekenaar vanuit jou bed. Die feeste bied van inry- tot intieme teater, tot ’n fees op die kassie. Dit is waagmoedig, maar nie genoeg nie. ’n Mens raak al hoe traer om nóg ’n webinaar by te woon, maar ten minste is daar hoop. Ten minste probeer almal iets. Almal mis die interaksie van kunsbyeenskomste wat ons so wreed ontneem is. Daardie gevoel dat die persoon langs jou in die teater ook so reageer soos ek, dat iemand ’n heel ander perspektief het op ’n boekgesprek, of iemand wat hulle ongemak met ’n toneelstuk of skildery met jou deel; dít kan nie deur ’n skerm vervang word nie.

Kom ons wag nie vir die regering om ons te red nie; kom ons oortuig die versiendes in ons eie gemeenskappe om die eerste steen te lê.

So is dit om nou hier te woon

My droom om kunshuise landwyd te sien, het steeds nie vervaag nie. Inteendeel. Ek is gelukkig genoeg om vir die afgelope paar jare werksaam te wees by nóg ’n lieflike huis. Hierdie keer is dit ’n woning in Somerset-Oos in die hartjie van die Oos-Kaap, wat behoort het aan daardie formidabele denker, Jakes Gerwel. Hier koester ons skrywers, hier wil ons help ’n stem gee aan jong skrywers met onvertelde stories. Saans om die etenstafel is ek deel van gesprekke met medeskrywers van alle agtergronde en oortuiginge. Met ’n happie malvapoeding in my kies, sluk ek soms swaar aan party onderwerpe wat hier met groot vurigheid bespreek word. Nooit is ek onaangeraak nie; altyd is ek diep onder die indruk van fynbesnaarde skrywers se eindelose soeke na sin. Dit is om hierdie tafel dat ek wens ek kan die stories onthou en neerskryf; ’n tafereel sal dit wees van hoe dit is om nou hier te woon – saam met en teen mekaar.

Ons land verval in anargie

Dit is juis van so ’n uitstappie na die Oos-Kaap waar ek terugkeer na my veilige huis in Stellenbosch, waar ek sien hoe ons land voor ons oë in anargie kan verval. Met

Theo Kemp met ’n skets van Jakes Gerwel agter hom. Foto: Paarl Post

Jacob Zuma skaars agter tralies, plunder mense groot dele van KwaZulu-Natal, en ook in Gauteng. En ek dink by myself: Wat sal my tafelgenote hiervan dink? Hoe verstaan ons mense (wat nie almal honger is nie) wat voel hulle is daarop geregtig om winkelrakke leeg te dra?

En net daar is my sluimerende droom brandend teenwoordig. Ek wil nie meer ’n sentrum in die Boland uitbou as bloudruk ter wille van die kunstelandskap alleenlik nie. Ek wil nou sulke huise sien ter wille van oorlewing naas mekaar.

Ons het tog so lief geword vir konsepte soos slow food, van mindfulness, maar om een of ander rede sien ons dit nie so in met die ware en langsame andersmaak van mense se houdinge jeens mekaar en die land nie. Ons is ongeduldig. Ek weet van hordes niewinsgewende organisasies wat soveel uitstekende werk doen, maar wat dan borge se boksies moet tiek deur te spog met die getal mense wat met hul programme bereik kan word. ’n Vinnige in en uit met ’n produksie of ’n werkswinkel verander nie ’n gemeenskap se harte nie.

En net daar is my sluimerende droom brandend teenwoordig. Ek wil nie meer ’n sentrum in die Boland uitbou as bloudruk ter wille van die kunstelandskap alleenlik nie. Ek wil nou sulke huise sien ter wille van oorlewing naas mekaar.

Dek tafels vir mekaar

As ons teen dié tyd al bymekaarkomplekke landswyd deur die kunste kon bewerkstellig, sou ons dan nog geplunder het? As ons gereeld in ons gemeenskappe tafels vir mekaar dek en praat oor dinge waaroor ons verskil en saamstem, sal ons dan nog mekaar se besighede afbrand? Sal ons dan nog so wantrouig oor mekaar gewees het? Ons het herhaaldelike interaksie nodig; ons het tyd nodig om mekaar se getuies te wees, om te kan sien hoe kyk ons vir mekaar.

Ons het die kunste nou nodiger as ooit. Ons moenie net sin maak van ’n voortslepende virus en die verwoesting wat dit saai nie. Ons moet ook nou harder as vantevore probeer kop hoe ons Suid-Afrika saam ten goede kan verander. Die kunste, om nou maar die cliché op sy naam te noem, is die barometer van elke samelewing.

Kom ons wag nie vir die regering om ons te red nie; kom ons oortuig die versiendes in ons eie gemeenskappe om die eerste steen te lê. Ons het mos nou gesien uit die onlangse politieke chaos – die enigste goeie ding wat ons oor rassegrense heen kon sien – is dat daar baie meer mense is wat wil bou as breek. In hierdie huise sal ons mekaar vind.

• Theo Kemp is die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel-stigting, wat onder meer die Paulet-huis op Somerset-Oos in die Oos-Kaap bestuur. Hy was ook etlike jare aan die Breytenbach-kunstesentrum op Wellington verbonde. Hy is ook ’n skrywer – die romans Skool en Strafjaart het uit sy pen verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.