Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Kortlys van gesogte Helgaard Steyn-prys
SJ Naudé

Vier skrywers en een digter is in die pylvak vir die gesogte Helgaard Steyn-prys wat elke jaar toegeken word vir skeppende werk wat die Suid-Afrikaanse kultuurskat verryk.

Enige Suid-Afrikaans gebore kunstenaar – ’n skilder, beeldhouer, komponis en skrywer word jaarliks om die beurt vereer – ontvang ’n kontantprys uit die Helgaard Steyn Trust.

Vanjaar se toekenning is vir skryfkuns, en enige Afrikaanse werk, fiksie en niefiksie, wat tussen 2016 en 2019 in ’n oplaag van minstens 300 eksemplare verskyn het, het vir vanjaar se eerbewys in aanmerking gekom.

Sowat 150 boeke – “ ’n ryke kultuuroes” – is vir beoordeling voorgelê, sê die sameroeper van die paneel, prof. Bernard Odendaal van die Noordwes-Universiteit.

“Die beoordelingsproses moes binne twee maande afgehandel word. ’n Ontsagwekkende, maar dikwels aangrypende taak het op die beoordelaars gewag. Dit was vir die beoordelaars ’n aangename verrassing – en verligting! – dat vyf werke op almal se kortlyste verskyn het. Dit was daarom ’n betreklik maklike taak om die finale kortlys vir die Helgaard Steyn-prys vir 2020 aan te wys.”

Dan Sleigh

Die wenner word op 20 Oktober aangekondig en die waarde van die kontantprys sal dan ook bekend gemaak word.

Die vyf voorlopers, in alfabetiese volgorde volgens die skrywers se vanne, is:

• Lodewyk G. du Plessis se roman Die dao van Daan van der Walt (Tafelberg, 2018)

• Elsa Joubert se outobiogafiese geskrif Spertyd (Tafelberg, 2017)

• Johan Myburg se digbundel Uittogboek (Protea Boekhuis, 2017)

Elsa Joubert

• SJ Naudé se roman Die derde spoel (Umuzi, 2017)

• Dan Sleigh se historiese roman 1795 (Tafelberg, 2016)

Vorige wenners van die Skryfkuns-prys is:

1988 – Karel Schoeman vir ’n Ander land

1992 – John Miles vir Kroniek uit die doofpot

Johan Myburg

1996 – Breyten Breytenbach vir Negelandskappevan ons tye bemaak aan ’n beminde (1993)

2000 – John Kannemeyer vir Leipoldt: ’n Lewensverhaal

2004 – Dan Sleigh vir Eilande

2008 – Marlene van Niekerk vir Agaat (2004) en Hermann Giliomee vir Die Afrikaners (2004)

2012 – PG du Plessis vir Fees van die ongenooides

2016 – Willem Anker vir Buys

Lodewyk G. du Plessis

So skryf die beoordelaars oor die geskrifte op die kortlys:• Du Plessis se roman Die daovan DaanvanderWalt

“Dit is ’n uitsonderlike roman wat die leser intellektueel uitdaag, met aktuele vraagstukke konfronteer én emosioneel tref. Dit is ’n selfonthulling van wat agter die pantsers van ’n “stil en sterk” Afrikaner skuil.

Op verwikkelde, aandoenlike wyse word veral die pa-seun-verhouding gedissekteer soos dit geraak word deur die “vreemde” van onder meer die gay-identiteit. Die geykte verwagtings oor die rol van sienings oor Christenskap en Afrikaner-manlikheid daarin, word verrassend op die kop gekeer . . . ’n aangrypende leeservaring.

•Joubert se outobiogafiese geskrif Spertyd. Die beoordelaars beskryf dit as “een van die ontroerendste besinnings via selfvertelling wat oor die ervaring van oudword te lese is.

Dit verteenwoordig ’n stuk wysheidsliteratuur wat op inspirerende wyse ’n diepgaande blik bied op nie net die afgelegde lewe tot aan die “spertyd” daarvan nie, maar ook dit wat (kan) oopgaan na die hiernamaalse toe. ’n Onvergeetlike boek.”

•Myburg se digbundel Uittogboek, wat van fyn vakmanskap, tematiese en stilistiese verskeidenheid en intellektuele diepgang getuig, is ’n hoogtepunt in die digter se oeuvre. Uittogboek is in vanjaar met die Hertzog-prys bekroon.

“Dié digbundel is ’n volgende hoogtepunt in ’n digtersloopbaan wat van krag tot krag gaan. Dit bevat ’n kombinasie van belesenheid én gevoeligheid, van historisiteit én aktualiteit, en van seggingsomvang en -krag wat ’n mens by die lees daarvan herinner aan die ervaring wat net die heel grootste digbundels in Afrikaans oplewer.”

•Naudé se roman Die derde spoel

“Naudé is ’n fyn stilis. Die helder, byna hiperkorrekte Afrikaans wat hy gebruik, sintakties dikwels bondig, staan in ironiese spanning met die geskade lewenswerklikhede van ontwrigte persoonlikhede wat in hoofsaak uitgebeeld word. Die besonder uitvoerige beskrywing van die paranoïese bestaan in Oos-Duitsland in die tyd van “die Muur” is na ons wete die eerste sodanige tekening in Afrikaans. In baie opsigte eggo dit ook die jare van die noodtoestand in Suid-Afrika – jare waarin wantroue en verraad aan die orde van die dag was en die groter ruimte buite die self ook die binneruimte ingrypend aangetas het.

Hoewel die roman veral ’n appèl op die leser se intellek maak, onthuts dit ook emosioneel, en ontroer dit soms.

•Dan Sleigh se historiese roman 1795.

“Dit is ’n meesleurende roman, gekenmerk deur Sleigh se fyn waarnemings en verbluffende herskeppings van samelewings en wêrelde, groot en klein: vanaf ’n intieme “hofhouding” en die alledaagse lewe op ’n boereplaas van destyds, tot imperiale oorlogsgebeure… leesplesier.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.