Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
'Kuns moenie verlangse neef word'
Deon Opperman

Terwyl sommige kunslui ontstig is oor die samevoeging van sport en kuns en kultuur in een ministerie in pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet, is daar ook diegene wat eenvoudig nie meer omgee nie.

Nathi Mthethwa is as minister van sport, kuns en kultuur aangewys.

“Eintlik moet hulle geheel en al net wegbeweeg en dit aan ons oorlaat om ons eie ding te doen,” sê die dramaturg Deon Opperman, wat sê die kunste het nog altyd aan die agterspeen gesuig.

“Ek is nie ’n voorstander van staatsbemoeiing nie. Ek glo in geen vorm van subsidie nie. Ek raak nie betrokke nie – ek het my lank gelede onafhanklik gemaak en ek sorg vir myself. Ek werk in ’n vryemarkomgewing. So wat die regering vir die kunste doen of nie doen nie, is irrelevant.”

Die dramaturg Mike van Graan sê dat die departement van kuns en kultuur die afgelope 15 jaar as ’n departement op sy eie buitendien nie hond haaraf kon maak nie.

"Hulle sal eerder erfenis ondersteun as vryheid van spraak."

“Dit is nie ’n geval van ewe skielik is daar minder finansiering vir die kunste nie. Trouens, die afgelope jaar het kuns en kultuur R4,6 miljard teenoor sport se R1,1 miljard gekry. Dus het kuns tans ’n groter begroting as sport, maar wat van belang is, is waarvoor die geld gebruik word. Terselfdertyd wonder ’n mens oor skuiwe wat dalk oor die volgende vyf jaar gemaak gaan word.”

Ismail Mahomed Foto: Werner Hills
Lizz Meiring

Van Graan sê dat erfenisverwante kultuurprojekte goed ondersteun word.

“Tog het die regering nog nooit iemand gefinansier wat vandag se stories vertel nie. Hulle sal eerder erfenis ondersteun as vryheid van spraak.”

Kuns en kultuur in een ministerie
Mike van Graan Foto: Denzil Maregele

Die aktrise en teaterskepper Lizz Meiring is baie ongelukkig oor Mthethwa se aanstelling.

“Hy het voorheen op die Nasionale Kunstefees in Makhanda vir kunstenaars gesê hulle mag nie die regering kritiseer nie. Ek kry nie die indruk dat hy werklik lief is vir die kunste nie. En daar is ’n groter persentasie van die land se bevolking wat deur die kunssektor geraak word as wat ’n mens sal dink. Dit voel vir my daar is ’n oneerbiedigheid en ’n gebrek aan kennis oor die kunste.”

Kuns en kultuur en sport in een ministerie
Dr. John Kani Foto: Ruphin Coudyzer

Meiring sê die twee portefeuljes was in die verlede ook saamgevoeg.

“Die kunste was primêr betrokke by die bevryding in hierdie land. Wat nou aangaan, lyk vir my soos die weggooikrummels.”

Ismail Mahomed, bestuurshoof van die Markteater in Johannesburg, het op Facebook die samevoeging kortsigtig genoem.

“Dit laat ’n mens vermoed dat die president kuns en kultuur as ’n ontspanningsaktiwiteit of as ’n mededingende oefening beskou. Dit versuim om die kunste as die gewete van ’n nasie en instaatsteller van maatskaplike transformasie te erken.”

Mahomed sê die kunste is nou verbonde aan die mense se grondwetlike regte.

“In die struggle teen apartheid was dit ons dramaturge, digters, choreograwe en ander kunstenaars wat op die voorgrond in die strewe na demokrasie getree het. Kunstenaars het dieselfde met staatskaping gedoen.”

Mahomed vrees dat die kunste op die agtergrond geskuif gaan word noudat dit saam met sport in een portefeulje is.

Die akteur John Kani glo dat kunstenaars so gou moontlik met Mthethwa in gesprek moet tree.

“Op die oomblik dink ek ons moet hom (Mthethwa) ’n kans gee. Ek reken hy is al klaar besig om te probeer uitpluis hoe hy hierdie twee afdelings gaan benader, want albei verg andersoortige aandag. Sport is 24 uur per dag sigbaar,” sê Kani.

“Eintlik moet kuns en kultuur eerste staan in die portefeulje se benaming – as ’n mens alfabeties daarna kyk. Ek het Woensdagaand gekyk hoe dit aangekondig word. Ek glo daar moet vertroue aangewakker word, maar ons as kunstenaars moet hom as ’n gehoorlid benader. Ons moet verseker dat die kunste nie ’n verlangse neef word nie.”

Meer oor:  Lizz Meiring  |  Nathi Mthethwa  |  Kabinet  |  John Kani
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.