Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Kunstenaars hou konsert vir Hoërskool Driehoek

’n Groep kunstenaars hou op 18 en 19 Februarie konsert ten bate van die Hoërskool Driehoek waar ’n loopbrug op 1 Februarie op die skoolterrein in Vanderbijlpark ineengestort het. Vier leerlinge is dood en meer as 20 beseer.

Schalk Bezuidenhout

Komediante soos Schalk Bezuidenhout, Casper de Vries en Alfred Adriaan en sangers soos Bouwer Bosch en Danie du Toit (Spoegwolf) en die akteur Bennie Fourie tree op.

Alfred Adriaan
Bouwer Bosch

Bezuidenhout was diep geraak deur ’n skenking van R700 000 wat ’n anonieme inbeller op Jacaranda FM vir die Hoërskool Driehoek gemaak het.

Casper de Vries

Hy was met sy eenmanstuk Snorseun in die Atterbury toe hy agter die verhoog besef dat hulle ’n konsert ten bate van die skool kan aanbied. Die geld sal dien as bydrae tot herstelwerk en infrastruktuur en die beseerde leerlinge.

“Ek het gewonder oor wat ’n mens kan doen om ’n positiewe bydrae te maak,” sê Bezuidenhout.

“Dit was vir my ongelooflik dat hierdie inbeller so ’n bydrae maak sonder om krediet te wil hê. Ek het besef as kunstenaars kan ons ’n diens aanbied.”

Die konsert se naam is Humor help waarin glad nie na die skool verwys word nie.

Dit word Maandag in die Atterburyteater en op 19 Februarie by die Hoërskool Jeugland in Kempton Park opgevoer. Die kaartjieverkope gaan aan die Hoërskool Driehoek.

Bezuidenhout is ’n oudleerling van die Hoërskool Jeugland.

“Ek onthou dat ons dikwels sport teen die Hoërskool Driehoek gedoen het.”

Die konsert in die Atterburyteater bestaan uit Bezuidenhout, Fourie, Cobus van Rensburg, Mariëtte Loubser, Alfred Adriaan, De Vries, Bosch, Dans Dans Lisa, Du Toit en Van Pletzen.

Die konsert by die Hoërskool Jeugland bestaan uit Bezuidenhout, Fourie, Van Rensburg, Adriaan, Hannes Brümmer, Joey Rasdien, De Vries, Bosch, Dans Dans Lisa en Van Pletzen.

Die kunstenaars tree almal gratis op en albei lokale is gratis beskikbaar gestel.

“Almal doen dit verniet – van die plakkaatontwerper tot die onderwyser by die skool wat die administrasie moet hanteer vir die besprekings. So ’n rits komediante sal jy nooit normaalweg teen hierdie prys saam op die verhoog sien nie. Mense soos Bouwer en Danie doen musiek, so dit is eintlik op ’n manier ’n verskeidenheidskonsert hoewel die grootste gedeelte van die konsert uit komedie bestaan.”

“Dit is ’n groot voorreg om deel te kan wees van die konsert,” sê Bosch.

“Dis altyd super-inspirerend as ouens die kunste gebruik om gemeenskappe te help. Daar is ’n ongelooflike dokumentêr op Showmax wat gaan oor liedjies wat die wêreld beïnvloed het. Die konsert is natuurlik iets anders, maar die kunste was nog altyd daar in tye van seer en van celebration. Dis baie hartseer wat gebeur het. As jy jou talent en jou craft kan gebruik om ander te help, is dit ’n groot voorreg.”

* Bespreek vir die konserte in die Atterburyteater by iTickets. Die konsert begin om 20:00 en kos R150.

* Die konsert by die Hoërskool Jeugland begin ook om 20:00 en kos R150 vir volwassenes en R100 vir leerlinge. Bel 064 650 2633 of stuur ’n e-pos na humorhelp@yahoo.com om te bespreek. 

Geen kinders onder 14 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.