Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Lewende argief van 13 ton
Lizabé Lambrechts in haar performance-stuk Archive in Process in die musiekbiblioteek van die Universiteit Stellenbosch. Sy het die venster met geel maskeerband omraam om dit meer prominent te maak. Lambrechts sal nog tot Dinsdag die argivering van die projek op dié interaktiewe wyse aanbied.

Haal die argief uit sy donker gange, stof dit af, wys dit vir die wêreld. Laat leef die verlede.

Dít is wat die navorser en musikoloog Lizabé Lambrechts met haar performance-stuk Archive in Process tans in Stellenbosch doen.

Dié argief, “die grootste versameling populêre musiek in Suider-Afrika”, weeg 13 ton en bevat 175 000 items wat sowat ’n halfeeu verteenwoordig.

Lambrechts het besluit dié stuk geskiedenis hoort nie agter geslote deure nie.

Sy het die materiaal geneem na ’n ruimte met ’n venster in die Universiteit Stellenbosch se musiekbiblioteek sodat verbygangers enersyds ’n blik kan kry op die prosessering van argiefmateriaal en andersyds kennis kan neem van The Hidden Years Music Archive Project (HYMAP).

“Dié projek vang die alternatiewe populêre en folkmusiek in die onstuimige apartheidstyd en vroeë jare van die demokrasie (1995 tot 2005) vas en verteenwoordig musikante van Suid-Afrika, Zimbabwe, Mosambiek, Lesotho en Botswana wie se musiek nie deur die hoofstroomplatemaatskappye opgeneem of oor die radio uitgesaai is nie, maar nietemin groot gehore by hul konserte, op feeste en in klubs gelok het,” lui ’n kort nuusverklaring

“Die performance-stuk wérk,” sê Lambrechts, wat met ’n stofmasker en wit jas bokse sit en uitpak, papiere sorteer, interessante koerantknipsels, plakkate en foto’s in die venster vertoon en só aandag trek.

“Mense steek vas voor die venster en vra uit. En dit is presies wat ek in gedagte gehad het, want dié argief is vir almal toeganklik, maar dan moet hulle daarvan weet.”

Lambrechts borrel oor van passie as sy oor die vonds gesels.

“David Marks, wat destyds die liedjie Master Jack geskryf het, is in 1969 Amerika toe. Hy het onder meer die Woodstock-rockfees bygewoon en toe hy later na Suid-Afrika terugkeer, het hy die klankstelsel saamgebring wat vir Woodstock gebruik is.

“Met daardie klankstelsel het hy honderde musiekkonserte opgeneem, veral van niekommersiële musikante en dié wat polities geag was.”

Dis nie al nie. Marks het ook foto’s, negatiewe, kassette, plate, video-opnames, selfs politieke toesprake, toneelstukke en baie boeke, alles outobiografieë van musikante, bymekaargemaak.

Die name van die musikante is eindeloos, maar om ’n idee van die verskeidenheid te gee, noem Lambrechts Hugh Masekela, Laurika Rauch, Simba Morri (township-jazz), Colin Shamley en Mike Dickman.

“Marks se versameling het so groot geword dat hy later ruimte by die kantoor van die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie (Samro) in Johannesburg gebedel het en plek in Durban gehuur het.”

Die versameling is reeds rofweg gekatalogiseer en deels bruikbaar. Party boeke kan uitgeneem word en ander materiaal kan in die US se musiekbiblioteek besigtig en beluister word.

Nadat Lambrechts haar PhD oor Musiekargiewe en die politiese verwantskap van die prosesse in die argief in 2012 voltooi het, het sy met onderhandelings begin om die versameling uit die verskillende tuistes na die Dokumentasiesentrum vir musiek (Domus) te bring.

Einde 2013 was al 13 ton materiaal in die musiekbiblioteek en het Lambrechts met die ontsluiting en digitalisering van die musiek begin.

“Die versameling is reeds rofweg gekatalogiseer en deels bruikbaar. Party boeke kan uitgeneem word en ander materiaal kan in die US se musiekbiblioteek besigtig en beluister word.

“Die wonderlikste van die argief is dat dit alle rasse en alle soorte musiek (buiten klassiek) oor die hele Suider-Afrika betrek,” sê Lambrechts.

Volgens haar is dit die enigste aktiewe musiekargief in die land. “Dit beteken ons soek materiaal om in te neem en wag nie vir mense om dit aan te bied nie.”

Nico Carstens en Anton Goosen se versamelings is onder die talle wat by Domus gehuisves word.

Lambrechts sê gegewe die huidige studenteonluste is dit belangriker as ooit dat “ons die fokus rig op argiewe soos dié wat wys hoe gemeenskappe in Suid-Afrika oor rassegrense heen ’n sosiale orde geskep het wat van die apartheidstelsel verskil het”.

Lambrechts is ’n oud-Bloemfonteiner en het haar BMus en MMus aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.

    Haar PhD is van die US. Sy is ’n navorsingsgenoot van die Volkswagen-stigting. Die performance-stuk Archive in Process kan nog tot Dinsdag van 07:00 tot 16:30 by die musiekkonservatorium van die US in Stellenbosch besigtig word.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.