Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Luister Dinsdag na NW24 se 1ste luisterdrama: ‘Sê maar so long’
Chris van Niekerk in die ateljee tydens die opname van Netwerk24 se luisterdrama, ‘Sê maar so long’. Foto: Nardus Engelbrecht

’n Storie oor ’n liefde wat nie kon blom nie, ’n skat wat nooit gevind is nie en ’n plek wat nie meer bestaan nie.

Dít is die luisterdrama waarna Netwerk24 se intekenare kan uitsien.

Netwerk24 het in 2019 vir die eerste keer ’n luisterdrama-kompetisie aangebied en skrywers genooi om ’n luisterdrama vir dié nuuswebwerf te skryf.

Anton Treurnich, ’n skrywer van George, het die kompetisie (en die prysgeld van R100 000) gewen met sy hartroerende luisterdrama Sê maar so long.

Marvin-Lee Beukes net voor die opname weer begin.Foto: Nardus Engelbrecht

Dié drama is onlangs opgeneem met die veteraanakteur Chris van Niekerk in die hoofrol en is van Dinsdag 31 Maart af op Netwerk24 beskikbaar.

“Skakel die televisie af, maak ’n lekker koppie koffie of skink ’n glas wyn en word meegevoer deur dié wonderlike drama,” sê Anika Pieterse, redaksionele bestuurder van spesiale projekte by Netwerk24.

Ilana Cilliers luister na die regisseur se terugvoer.Foto: Nardus Engelbrecht

“Dit is ’n storie wat jou hart gaan raak. Veral die musiek, spesiaal gekomponeer deur Riku Lätti, is ’n hoogtepunt.”

Die drama word Dinsdag op Netwerk24 gepubliseer, maar sal daarna vir ’n onbeperkte tyd beskikbaar wees om na luister.

“Miskien is hierdie tyd van inperking presies die regte tyd om terug te sit en soos van ouds ’n goeie radiodrama te geniet.”

Wat is ’n luisterdrama?

’n Luisterdrama is ’n radiodrama wat op die internet gepubliseer word.

Waaroor gaan ‘Sê maar so long’?

Jill Levenberg en Chris van Niekerk neem ’n selfie tydens die opname. Foto: Nardus Engelbrecht

Armand Rossouw is ’n internasionale fotojoernalis wat ná jare in die buiteland terugkeer na Suid-Afrika, met een doel voor oë.

Sy susterskind Bianca is ’n finalejaarstudent wat net nie haar voete kan vind nie. Die twee besluit om ’n ou storie na te speur. Dit handel oor ’n skeepswrak aan die Overbergse kus naby Skipskop. Die reis bring hulle nader aanmekaar en ontsluit baie van Armand se herinneringe en Bianca se drome. Hulle verteenwoordig twee generasies wat so verskillend maar tog so eenders is. Die mense wat oor hul pad kom, skaaf aan hulle. Die plekke wat hulle sien, los ’n stempel en die goed wat met hulle gebeur, sal hulle vir ewig verander.

Sê maar so long is ’n storie oor ’n liefde wat nie kon blom nie, ’n skat wat nooit gevind is nie en ’n plek wat nie meer bestaan nie.

Ontmoet die karakters

Armand Rossouw

Chris van Niekerk as Armand Rossouw.Foto: Nardus Engelbrecht

Armand Rossouw (55) word vertolk deur Chris van Niekerk. Armard het nooit ’n tuiste vir sy onrustige siel gevind nie. Hy het ’n sagte hart en is ’n puik fotograaf wat die wêreld op ’n ander manier waarneem as die meeste van ons.

Bianca Truter

Ilana Cilliers as Bianca Truter.Foto: Nardus Engelbrecht

Bianca Truter (21) word vertolk deur Ilana Cilliers. Bianca is besig met haar honneursgraad in joernalistiek. Sy is verlore en weet nie heeltemal waar sy inpas of waarheen sy op pad is nie.

Liana Truter

Daneel van der Walt as Liana Truter.Foto: Nardus Engelbrecht

Liana Truter (51) word vertolk deur Daneel van der Walt. Sy verstaan nie haar broer nie en nog minder haar dogter. Sy ervaar leënessindroom en wil vasklou aan die verlede.

Jason Ruiters

Marvin-Lee Beukes as Jason Ruiters.Foto: Nardus Engelbrecht

Jason Ruiters (25) word vertolk deur Marvin-Lee Beukes. Hy voel hy is vasgevang in sy omstandighede. Hy is kwaad vir almal en alles.

Veronica Ruiters

Jill Levenberg as Veronica Ruiters.Foto: Nardus Engelbrecht

Veronica Ruiters (53) word vertolk deur Jill Levenberg.

Haar pa het haar mishandel. Haar eerste man het te veel gedrink en haar tweede te veel rondgekuier. Sy het ’n harde lewe gehad wat haar afgestomp maak vir gevoelens en herinneringe.

Renske Visser

Cintaine Schutte as Renske Visser.Foto: Nardus Engelbrecht

Renske Visser (30) word vertolk deur Cintaine Schutte. Sy is ’n vrou van die aarde. Sy is lief vir die grond en diere. Sy is eenvoudig, liefdevol en verstaan veel meer as wat ’n mens van haar sou verwag.

Skryf in vir Netwerk24 se luisterdramakompetisie

In 2020 nooi Netwerk24 weer skrywers uit om vir dié nuuswebwerf ’n luisterdrama te skryf. Die wenner sal met R100 000 wegstap. Besoek www.netwerk24.com/vermaak vir al die besonderhede.

Klik hier vir meer inligting.

Meer oor:  Anton Treurnich  |  Luisterdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.