Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Luisterdrama-kompetisie: Die wenner is...
Luisterdrama.

Anton Treurnich, ’n skrywer van George, het die R100 000 in Netwerk24 se luisterdrama-kompetisie losgeskryf.

Sy luisterdrama, Sê maar so long, is eenparig deur die beoordelaars as die wenner aangewys.

Treurnich was een van 96 skrywers wat aan dié kompetisie deelgeneem het.

Netwerk24 het in samewerking met NB Uitgewers, Afrikaanse skrywers uitgenooi om ’n luisterdrama in die formaat van ’n radiodrama vir dié nuuswebwerf te skryf. Die wen-drama sal vroeg in 2020 opgeneem word en in Junie 2020 op Netwerk24 uitgesaai word. Die prysgeld vir die wen-drama was ’n stewige R100 000.

Sê maar so long se vernuwende aanslag, het dié drama beslis laat uitstaan,” verduidelik Stevlyn Vermeulen, een van die beoordelaars en uitgewer by Kwela Boeke.

Anton Treurnich
Anton Treurnich.

“Die temas is aktueel en met deernis geskryf, sodat dit empatie vir die karakters by die leser wek. Dis nie ’n maklike taak om boeiende karakters en ’n meesleurende storielyn te skep in so ’n kort teks nie.”

Ook Laetitia Pople, kunsredakteur van Netwerk24 en een van die beoordelaars, was beïndruk met die verskeie temas wat dié drama aanpak. “Dit spreek temas aan soos die leënessindroom, ouers wat nie met kinders kan praat nie en huwelike wat verflou het weens ’n fokus op die kinders. Dié temas is beeldryk aangepak.”

Vir Ronèl Geldenhuys, luisterdrama-konsultant en een van die beoordelaars, het die uitstekende karakterisering en interessante storielyn Treurnich se teks bo die ander laat uitstaan.

“Ek kon elke toneel maklik visualiseer met die wete dat ons nie een woord hoef te verander of aan die teks hoef te skaaf nie. ’n Paar kontemporêre kwessies word gemaklik ingewerk sonder om die storielyn van koers af te druk. Wat my betref is hierdie teks ’n juweel.”

Van die 96 dramas wat ontvang is, het die beoordelaars die top-5 dramas geïdentifiseer, voor Treurnich se drama as die wenner aangewys is.

Die ander dramas in die top 5 was (in geen spesifieke volgorde):

  • Oorlog deur Leon Kruger
  • Anna uit die verlede deur Louise Minnaar
  • Bloed is dikker deur Elouwdi Smit
  • Ouma se boyfriend deur Theresa van Baalen

Skryf weer in!

Netwerk24 gaan hierdie kompetisie wéér in 2020 aanbied en dieselfde prysgeld van R100 000 is op die spel.

“Ons is absoluut oorstelp deur die aantal inskrywings wat ons ontvang het in vanjaar se kompetisie,” sê Anika Pieterse, projekbestuurder van die luisterdrama-kompetisie.

“Ons wil vir elkeen opreg dankie sê wat die moeite gedoen het en die tyd geneem het om ’n drama van 60 bladsye in die korrekte formaat aan ons te stuur. Ons het baie potensiaal onder die skrywers gesien - veral onder skrywers wat nog nooit voorheen gepubliseer is nie! Ons kan nie wag om te sien wat 2020 se luisterdrama-kompetisie gaan oplewer nie.”

Netwerk24 sal vroeg in 2020 die besonderhede oor die nuwe luisterdrama-kompetisie op Netwerk24 beskikbaar maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.