Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Luisterdrama: Koppelkat
Koppelkat

’n Lekker vet, lui, alwetende kat gaan luisteraars se harte steel in dié wen-luisterdrama. Waldemar Schultz speel Leopold von Bismarck Langenhoven die Vierde.

Luister die drama hier:

Waaroor gaan Koppelkat?

Die luisterdrama word vertel uit die perspektief van ’n Persiese kat. ’n Lekker vet, lui, alwetende woonstelkat genaamd “Leo”. Soos dit maar is met katte, beskou Leo homself nie as enigiemand in die woonstelgebou se eiendom nie, hoewel twee enkellopende jong mense (bure in die kompleks) albei onder die indruk is dat Leo hul kat is. Wanneer Leo besef dit is in sy beste belang dat die hoogs akademiese Dirk en lig-soos-spookasem Dina ’n verhouding aanknoop, begin hy planne maak om die twee by mekaar uit te kry.

LEES OOK: Vet kat steel die room van luisterdramas

Ontmoet die skrywers

Lunéll Kruger

Lunéll Kruger
Lunéll Kruger

Lunéll Kruger het nog altyd in die skeppende kunsteveld gewerk. Sy het as materiaalkunstenaar oor ’n tydperk van sewe jaar 30 000 items vervaardig – haar werk is wêreldwyd uitgevoer en het in tydskrifte en op TV verskyn.

Sy en haar dogter het met behulp van Sasol die eerste akrielmateriaalverf in Suid-Afrika ontwikkel en het daarna saam met Red Pepper Pictures ’n instruksievideo vir materiaalkuns in Engels en Afrikaans vervaardig.

Sy het ’n muurskildery en 24 digitale portrette vir The Dictionary Hostel in Shoreditch ontwerp en sewe groot skilderye vir ’n gebou in Hyde Park, Londen.

Lunéll het sewe African Design Boeke ontwerp en uitgegee wat in Suid-Afrika verkoop het, asook by die Britse Museum en African Books in Londen, asook ’n reeks van 32 African Sayings-kaartjies.

Haar digitale kunswerke bied treffende kommentaar op ons leefwêreld – soos haar reeks oor die selfbeeld van vroue, Paper Dolls, en ’n ander, Disconnecting, wat die afstand tussen mense weens ’n kontemporêre leefwyse en tegnologie weerspieël. Die kinderboek Some People is deur Lunéll geïllustreer en sy het ook verhale vir kinders geskryf.

In 2019 het sy uitstallings van haar foto-ekspressionisme gehou in die reeks Flow Motion: Please Pass Me The Replay Button oor die onherroeplike by FAP, The Artroom galery en The Real Mackay in Johannesburg.

Sy werk nou aan ’n digitale reeks, Before I Was.

Zelda Bezuidenhout

Zelda Bezuidenhout
Zelda Bezuidenhout

In haar “vorige lewe” was Zelda Bezuidenhout vir meer as 30 jaar ’n kopieskrywer in die reklamebedryf, waar sy Loeries en ’n London Advertising Award vir haar skryfwerk gewen het.

Sy het eers op 55 begin boeke skryf en is die skrywer van die jeugromans As mens geluk kon proe (naaswenner in Lapa se jeugromankompetisie van 2017), Die ses weke van Thomas en Ella en mees onlangs Toe ons oneindig was, ’n grensverskuiwende tienerroman met ’n gay hoofkarakter.

Haar volwasse roman, Die dekonstruksie van Retta Blom (Kwela Boeke), is in 2019 uitgereik en is uitstekend ontvang deur lesers en resensente. Joan Hambidge het dit “ ’n moderne Griet skryf ’n sprokie” genoem en gesê dat sy die boek nie kon neersit nie.

Zelda is klaar met die draaiboek van Die dekonstruksie van Retta Blom en verfilming word vir 2021 beplan. Nog ’n jeugroman vir lesers in die “middelgroep” (tien tot 13 jaar) word in November deur Pan Macmillan uitgegee. Die werktitel van die boek is Die ongelooflike ontdekkings van Jana M. Louw.

Zelda is ook ’n skrywer van kortverhale en rubrieke en was die naaswenner van RSG se radiodramakompetisie van 2019 met haar roerende hoorspel As ’n kind kom kuier. Sy werk aan ’n jeugroman vir tieners met leesprobleme.

  • Die dekonstruksie van Retta Blom kan Exclusives Books, Takealot, Loot en Graffiti bestel word en is in alle goeie boekwinkels beskikbaar.

Netwerk24 se ander luisterdramas

Netwerk24 het reeds twee luisterdramas gepubliseer.

Sê maar so long

Dis ’n storie oor ’n liefde wat nie kon blom nie, ’n skat wat nooit gevind is nie en ’n plek wat nie meer bestaan nie. Luister nou na Netwerk24 se heel eerste luisterdrama deur Anton Treurnich.

Anna uit die verlede

Die laaste 17 jaar het Tiana gereeld gedroom hoe dit sal wees om Hannes weer raak te loop – nie dat sy hom óóit weer wou sien nie, het sy vermoed. Nie in haar wildste drome het sy gedink dat hulle mekaar in die hospitaal sou raakloop waar sy om haar lewe veg nie. Tussen die kankerbehandeling en haar kêrel wat te besig is om tyd met haar deur te bring, het sy werklik nie die krag om ou gevoelens weer op te grawe nie. Hannes is egter vasberade om haar te ondersteun deur die moeilike tyd. Genade vir Tiana daag onverwags uit die verlede op.

Luister nou na Netwerk24 se tweede luisterdrama deur Louise Minnaar.



Meer oor:  Luisterdrama  |  Spesiale Projekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.