Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Margot Luyt had 'deernis met almal'

Die omroeper en aktrise Margot Luyt was so lief vir mense dat sy hulle altyd graag rondom haar wou hê. Sy moes egter die laaste deel van haar lewe alleen deurbring. Tog het sy nooit gekla nie. AJ Opperman het met Luyt se vriende en kollegas gesels.

Margot Luyt, wat Dinsdag dood is, het haar lewe lank deernis met mense gehad.

So sê die rolprentregisseur Katinka Heyns, wat saam met Luyt drama aan die Universiteit van Pretoria (UP) gestudeer het.

“Ek het van die begin af van haar gehou. Sy het die Vrystaat (sy het op ’n plaas grootgeword) met haar saamgebring. Ek onthou haar as warmhartig met daardie lekker lag.”

Margot Luyt

Luyt het die afgelope jaar baie verswak en was die laaste paar maande in ’n rolstoel.

Sy het in die De Rust-sorgsentrum in Durbanville, noord van Kaapstad, gewoon.

Haar lewensmaat, Graham Clarke, ’n kwadrupleeg, is in 2019 dood.

Clarke se Liberator-rolstoel het in ’n fratsongeluk by Century City in Kaapstad in ’n kanaal beland en hy het verdrink.

Heyns sê Luyt het nooit gekla nie.

“Dit het my opgeval, want dit het nie met haar goed gegaan nie. Sy het haar lewe aan radio gewy, met ’n liefde vir die woord. Sy was ’n goeie storieverteller. Sy het haar ontferm oor Graham. En sy was baie lief vir haar kleinkinders.”

Jacqui, haar enigste dogter, het drie kinders.

"Die laaste keer wat ek by haar was, het sy my gevra of ek ’n groot kennisgewing by die SAUK kan opplak: Margot mis julle en Margot is baie lief vir julle.”

Luyt het verlede jaar die ATKV-eerbewys vir lewenslange bydrae gekry.

Heyns en Luyt het ook soms saamgewerk.

“Dan sou ons skerts en vra wie van ons twee is die grootste control freak? As sy met my ’n onderhoud voer of as ek haar regisseur is.”

Die vervaardiger Annie Basson was goeie vriende met Luyt.

Hulle het egter nooit saamgewerk nie.

“Ons is albei plaasmeisies – sy van die Vrystaat en ek van die Swartland. Ons het altyd geskerts ons kan mekaar maar om 06:30 in die oggend bel, want ons sal al wakker wees. En dit is wat gebeur het wanneer ons ’n moeilike dag gehad het wat voorlê. Jy kan nie vir ’n beter mens in jou lewe gewens het nie.”

Basson prys programme soos Vers en lank en Kortom, wat Luyt op RSG aangebied het.

“En sy kon die balans handhaaf van terselfdertyd baie kreatief en professioneel wees.”

Sy het ook reekse soos Portret van . . . vir RSG vervaardig en aangebied, en in reekse soos Soutmansland, Geraldina die tweede, Amalia en Sara se geheim verskyn.

Sy het baie onderhoude met die digter Cas Vos gevoer.

Margot Luyt, omroeper en aktrise, wat Dinsdag dood is.

“ ’n Vrou vol deernis en simpatie vir mense,” sê Vos. “ ’n Mens vol liefde wat net aan ander gegee het sonder om te vra.”

Die digter Joan Hambidge was al dikwels op Vers en klank te hoor.

“Margot Luyt het my geleer gedigte voorlees vir die radio. Hoe elke leesteken of die wit geag moet word in ’n gedig. Dit was waardevolle lesse vir die werk wat ek tans by Fine Music Radio doen. Sy sou in die ander ateljee sit en beveel: ‘Jhòunn. Lees weer. Daar is ’n enjambement wat jy gemis het.’ ”

Die aktrise Magda Beukes het baie by Luyt in haar vormingsjare as aktrise geleer.

“Sy het ’n ontsaglike groot rol daarin gespeel,” sê Beukes.

"Margot het altyd haar sinne begin met ‘luister, Skat . . .’ "

“En sy was self ’n fenomenale aktrise. Sy het presies geweet hoe om die regte kreatiewe emosies uit die akteur te haal om die spesifieke vertolking van die karakter na vore te bring. Sy het in my as aktrise geglo en het my die heerlikste oorklankingsrol in Die meisie van Avignon gegee, wat ’n hoogtepunt vir my was. Ek is ontsettend lief vir Margot en gaan haar liefde en haar persoon verskriklik mis. Ek gun haar egter die vrede, vreugde en volmaaktheid waar sy nou is.”

Charlene Lackay, RSG-omroeper en voormalige televisieaanbieder, het Luyt se hulp gekry toe sy as aanbieder van die SABC 2-joernaalprogram Pasella met stemprobleme geworstel het.

“Margot het nie te koop rondgeloop met dit waaroor sy alles beskik nie. Sy was die ruimhartigste mens. My stem het destyds net weggeraak, maar daar was geen mediese oorsaak nie. My angs het die oorhand gekry. Toe was dit Margot wat ingetree het.

“Sy het nie net met die tegniek gehelp nie, maar sy het sommer met die whole package opgedaag. Sy het my ook moed, visie en perspektief gegee. Sy het my een aand gebel en gesê dis vir haar wonderlik om te hoor hoe ek gegroei het, dat ek nog ’n loopbaan volg. Maar dis juis aan haar te danke dat ek kon aangaan. Sy was uiters bekwaam, maar ook ’n goeie mensekenner. Ek is baie dank aan haar verskuldig. Sy het geweet wat sy doen.

“Ek is hartseer oor al die goeie mense wat uit die wêreld verdwyn. Ek is seker ek is nie die enigste mens wat jy sal teëkom wat jou sal vertel wat ’n groot invloed Margot op hulle gehad het nie.”

Die akteur en omroeper Nic de Jager beskou dit as ’n voorreg om Luyt te kon ken.

“Sy was ’n redder vir baie wat ’n mens kan beskryf as af-vlerkies – sy was baie betrokke by die ondersteuning van vigsslagoffers, en haar lewensvriend, Graham.”

RSG
Margot Luyt het haar lewe lank deernis met mense gehad.

Die aanbieder Suzaan Steyn beskryf Luyt se invloed soos suurdeeg.

“Dis maar ’n klein koppie, maar dit maak ’n groot verskil.”

Luyt het destyds op die Kaapse radiostasie KFM een keer per week soggens nuus gelees. Sy was die hoof van oorklanking by die SAUK.

Steyn het rondom daardie tyd ook by KFM begin nuus lees en terselfdertyd vir Huisgenoot gewerk.

“Dan sou Margot my soms vra om vir haar in te staan, maar Woensdae was ons sakdag by Huisgenoot en ek sou daarvan vergeet. Margot het altyd haar sinne begin met ‘luister, Skat . . .’ Dan sou sy sê: ‘Luister, Skat, ek verstaan dit, maar volgende keer . . . Maar die volgende keer sou ek weer vergeet . . .”

Dit is danksy Luyt dat Steyn in Johannesburg begin werk het.

“Ek onthou ek het met ’n skinkbord vol klein animasiefiguurtjies by haar opgedaag en sy het vir my gesê dáár sal jou loopbaan op dreef kom.”

Steyn het programme soos Gesondheid sonder grense op RSG aangebied.

Luyt sou soms vir haar sê: “Ek hoor jy begin ’n bietjie slordig praat . . .”

Sy sou ’n mens teregwys, maar sonder om ’n mens te affronteer, sê Steyn.

“Sy sou in detail vir jou terugvoer gee. Sy het haar oor my ontferm. Ek kon haar raad vertrou.”

Frieda van den Heever het in 2018 Luyt as aanbieder van Vers en klank en Kortom opgevolg.

Luyt was Van den Heever se eerste gas op Vers en klank nadat sy dit begin aanbied het.

“Sy het my ook baie oor die lewe geleer. Een van my grootste wense was om eendag ’n hoorbeeld oor haar te maak. Ek het altyd so heerlik geluister aan die hoorbeelde wat sy gemaak het.”

Volgens Van den Heever was Luyt ferm, maar baie lief vir mense.

“Ek was ’n jong speler wat vir radio ’n baie emosionele toneel moes doen. Margot het gesê: ‘Skat, dit was baie mooi om na te kyk, maar niemand kan dit hoor nie.’ Sy het jou geleer om te luister – ook na die stiltes tussenin. Jy moet kan glo wat mense sê.”

Terselfdertyd het sy Van den Heever geleer om ’n “dik vel” in ’n ateljee te hê.

“Sy was baie lief vir mense, veral die buiteperd. Die laaste keer wat ek by haar was, het sy my gevra of ek ’n groot kennisgewing by die SAUK kan opplak: Margot mis julle en Margot is baie lief vir julle.”

Meer oor:  Rsg  |  Margot Luyt  |  Katinka Heyns  |  Joan Hambidge  |  Universiteit Van Pretoria (Up)  |  Radio  |  Radiodrama  |  Televisie  |  Kortom  |  Aktrise  |  Omroeper  |  Radioteater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.